NKOMAZI SE KATOENBOERE
Mnr. Petros Sithole is onlangs herkies tot voorsitter van die Lebombo Agri- sekondêre koöperasie, ’n oorhoofse organisasie wat die 29 primêre koöperasies in Nkomazi bedien. Hy het ’n groot rol gespeel in die stigting van elk van die kleiner koöperasies wat boere in 13 verskillende nedersettings verteenwoordig.
Die kleinste van hierdie boere plant jaarliks sowat 2 ha katoen aan en die grootste boere nagenoeg 20 ha katoen. Sithole het in 2018-’19
30 ha onder katoen gehad.
Volgens dr. eerw. Linah Cebsile Madonsela, ondervoorsitter van Lebombo Agri, grens baie van die kleinboere se grond aan mekaar sodat dit soos een groot aanplanting lyk. Dit maak dit makliker vir die gemeenskaplike trekkers en werktuie om die grond te bewerk, te beplant en onkruiden insekbespuitings toe te dien.
Saam besit die 29 koöperasies 11 trekkers, 7 skottelploë, 4 spuitwerktuie en 8 planters, asook ’n 10-ton-vragmotor met ’n sleepwa en 2 tenkwaens waarmee diesel en water vir bespuitings na landerye aangery word. Die vloot trekkers en werktuie is sedert 2015 gekoop met geld wat die boere van die staat ontvang het.
Sithole sê die lede van die koöperasies het toegang tot 11 000 ha, maar hulle beplant tans slegs sowat 2 800 ha.
“Baie van ons boere het toegang tot 20 ha, maar het net finansiering vir insette van
2 ha tot 3 ha,” voeg Madonsela by. Vanjaar word selfs minder aangeplant omdat boere vir finansiering van die staat gewag het. Die geld het só laat gekom dat hulle eers in Desember kon begin plant.
“Ons is bekommerd dat die opbrengste daaronder gaan ly namate die dae korter word en ons nader aan die winter beweeg,” sê Sithole.
“Katoen soek hitte.”
As die boere al in Oktober kon begin plant het soos hulle moes, sou die eerstes in Maart kon begin oes. Hierdie katoen word met die hand geoes en in sakke aan Loskop Cotton naby Marble Hall gelewer. Opbrengste wissel van 800 kg/ha tot 1 t/ha. Sithole het met sy jongste oes 1,3 t/ha behaal.
Hy glo produksie kan verbeter word. Die bestuur van die sekondêre koöperasie soek tans finansiering vir die sink van boorgate. “As ons die plante tot in die saad kan kry, kan die droogte maar kom, katoen sal oorleef.”
Al die lede van die 29 koöperasies is geakkrediteer deur die Better Cotton Initiative (BCI), ’n internasionale program waardeur boere hulself verbind tot die beste volhoubare landboupraktyke wat die omgewing en mense in die bedryf betref.
“Ons is voortdurend besig om ons lede op te lei en die waardes en standaarde van die BCI aan hulle oor te dra. As een van ons ’n fout begaan, verloor almal hul akkreditasie. Ons is dus baie gesteld daarop.”
Sithole en sy medebestuurslede van die sekondêre koöperasie beoog ’n gemeenskappluismeul naby Nkomazi. Dit sal die gewas ’n groot hupstoot gee in dié gebied waar die meeste kleinboere nog mielies plant.
’n Deel van hul visie is om ’n koöperatiewe bank op die been te bring wat landboukrediet aan kleinboere kan toestaan. Die pluismeul kan ook sy eie landbou-adviseurs aanstel om te verseker boere behaal die beste moontlike oeste met hul insette.
“Daar is baie potensiaal in hierdie gebied,” sê Sithole. “Ons het egter meer en beter gestruktureerde ondersteuning nodig om die Nkomazikatoenbedryf behoorlik op dreef te kry.”