Bek-en-klouseer: Gróót veranderings op pad
VEEL strenger beheermaatreëls by veilings en ’n daling in speenkalfpryse word in die vooruitsig gestel saam met die afskaf van die verbod op samekomste van diere met gesplete hoewe. Daarmee saam sal die hele bedryf egter sy gesondheidsmaatreëls moet opskerp ten einde ’n herhaling van die bek-en-klouseeren ander uitbrekings te verhoed.
Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het die opheffing van die verbod op samekomste van diere met gesplete hoewe op 17 Februarie by die parlement afgekondig.
Sy het gesê daar is nie ’n risiko dat die siekte buite Limpopo sal versprei nie en haar departement het vertroue in die maatreëls wat getref is om verspreiding te voorkom. Waar handel wel plaasvind, sal streng beheermaatreëls ingestel moet word.
STRENG MAATREËLS
’n Vroeëre tegniese vergadering het grootliks rondom veiligheidsmaatreëls gewentel, sê dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale dieregesond heidsforum.
Tydens dié vergadering het belanghebbendes binne die waardeketting onderneem om die maatreëls rondom siektebeheer te verskerp.
“Dit sluit ook die groot afslaers in wat onder meer ’n groter klem gaan plaas om te verseker dat die onwettige verhandeling van vee vasgevat word.”
Vervoort meen hiermee gaan die klem verskuif vanaf slegs die dier se waarde na die waarde van siektebeheer.
SELFREGULERING
Volgens mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisproduse ntevereniging (RPO), verwag die staat dat die bedryf homself polisieer.
“Dit gaan daarop neerkom dat elke produsent op sy eie plaas sal moet begin om te verseker brandmerke en identifikasie is in orde voor hy sy vee na die veiling neem.
“Daar sal ook sterker met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die verskillende veediefst aleenhede geskakel word om te verseker die regulasies aangaande vee-identifikasie word toegepas.”
Hy meen die hele bedryf gaan in die komende paar maande verander om te verseker siektebeheer word reg toegepas.
“’n Denkskuif sal moet plaasvind in die manier waarop veilings bedryf, en hoe vee verhandel word.
“Die eerste stap hiervan is dat ’n besigheid wat homself as agent wil registreer, dit deur die landbouprodukte-agenteraad (Apac) doen.”
BETER POLISIEER
Volgens mnr. Francois Knowles, registrateur van die raad vir landbouprodukte-agente (Apac), behels dié nuwe reëls die volgende:
■ Registrasie by Apac is verpligtend; slegs geregistreerde agente mag sake doen.
■ Agente moet verantwoordelikheid aanvaar vir artikel 11 van die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984), wat bepaal dat vee-eienaars alle redelike stappe moet doen om siektes en die verspreiding daarvan te voorkom.
■ ’n Eksterne oudit van veilingspersele en alle prosedures moet voortaan twee keer per jaar deur ’n onafhanklike ouditeur gedoen word. Dié oudits moet by Apac ingedien word.
■ Alle lewendehawe-agente wat by Apac geregistreer is, moet skriftelik onderneem om die reëls te aanvaar.
■ Elke veiling móét ’n biosekerheidsbestuurder aanstel wat ook by die Suid-Afrikaanse Veeartsenyraad geregistreer is.
SPEENKALFPRYSE
Schutte sê speenkalfpryse was teen 14 Februarie steeds sowat 15% hoër as die ooreenstemmende tyd in 2019, omdat boere tans in ’n kudde-opboufase is en daar minder diere op die mark is.
Hy waarsku egter dat, noudat die veilingsverbod opgehef is, die speenkalfprys weer kan terugsak namate meer produsente weer speenkalwers op die mark plaas.
“Dit is veral daardie produsente wat kleiner groepe diere aanbied en wat tradisioneel slegs diere op veilings verhandel, wat nou meer speenkalwers kan aanbied, wat natuurlik die aanbod vergroot.”
–