Kom hier nog ’n vloedjaar?
DIE ooreenstemming tussen die huidige reënseisoen en die 1987-’88-seisoen – toe swaar reën en oorstromings oor groot dele van Suid-Afrika voorgekom het – word al hoe duideliker, sê mnr. Johan van den Berg, landbouweerkundige by Santam Landbou.
Hy wys op twee sterk ooreenkomste tussen die 2019-’20-seisoen en die 1987-’88-seisoen:
Die Suidelike Ossilasie-indeks was in Desember 1987 én Januarie 2020 in ’n snelstygende fase nadat dit in voorafgaande maande binne die neutrale reeks van see-oppervlaktemperature beweeg het. ’n Lang, uiters droë tydperk het van 1982-1987 voorgekom, soortgelyk aan die jare van 2012-2019. Die einde van die droë siklus vanaf 1982 is gebreek deur die oorstromings van 1988 oor veral die sentrale binneland. Die swaarste reën het toe einde Februarie voorgekom, maar veral in Maart 1988.
OORSTROMINGS
“Die swaar reën en oorstromings wat nou oor dele van Suidoos-Australië voorkom ná die erge brande in dié land, is ’n moontlike aanduiding van wat in Suid-Afrika verwag kan word,” sê Van den Berg. Weerstoestande in Australië stem baie ooreen met dié in die suidelike dele van Afrika omdat die twee wêrelddele op dieselfde breedtegraad lê. Teen druktyd is nog vloede in Australië voorspel.
Van den Berg sê hoewel dit moeilik is om vloede te voorspel omdat afsnylaagdrukstelsels wat dié vloede veroorsaak baie vinnig kan ontwikkel, is daar ’n groot kans op swaar reën op byna enige plek van die somerreëngebied.
Swaar neerslae, op plekke meer as 100 mm binne ’n paar uur, het die afgelope weke oor veral die oostelike dele van Suid-Afrika voorgekom. Dit het plek-plek oorstromings in veral beboude gebiede veroorsaak.
“In die sentrale tot westelike dele van Suid-Afrika lê die belangrikste deel van die reënseisoen nog voor, veral in Maart. Daar is ’n sterk moontlikheid dat reënval weswaarts kan uitbrei oor die droë Noord-Kaap en aangrensende dele van ander provinsies.”
Van den Berg het verlede Desember al voorspel die huidige seisoen kan ooreenstem met dié van 1987-’88.
PRODUKSIETOESTANDE
Volgens Van den Berg is die meeste mielies in die somerreëngebied in ’n gevorderde vegetatiewe stadium en na aan die reproduktiewe stadium. Dan is plante baie gevoelig vir droogteskade. “Hoewel nog reën oor sekere dele van die somergraangebiede moet voorkom om ’n goeie oes te verseker, is die huidige reën waarskynlik genoeg vir ten minste ’n gemiddelde oes.”
Van den Berg sê dele in die distrikte Bothaville en Wesselsbron in die Vrystaat, asook in Mpumalanga, begin al te veel reën kry. Dié kolle is egter betreklik klein vergeleke met die algehele aanplantings.