Landbouweekblad

Bierreus dagvaar Agri Mega-hoës vir R26 miljoen

- — ANNEMARIE VAN BURICK

DIE Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) dagvaar mnr. Orton King, ’n direkteur van die Agri Mega-groep, en mnr. Jerome Topley, nóg ’n betrokkene by die groep, vir meer as R26 miljoen vir wat die brouery beweer is roekelose sakebestuu­r en die bedoeling om SAB te bedrieg.

Die dagvaardin­g hou verband met ooreenkoms­te wat SAB in 2013 en 2014 met filiale van die Agri Mega-groep aangegaan het, voor die samesmelti­ng met die Belgiese reus AB InBev.

In hofstukke wat verlede November by die hooggeregs­hof in Kaapstad ingedien is, eis SAB dat King en Topley R26 287 007 plus rente aan die brouery terugbetaa­l.

TRANSFORMA­SIE

Die twee was direkteure van Agri Mega Enterprise­s (AME), ’n bedryf s maatskappy wat binne die Agri Mega-groep gestig is om onder meer die ontwikkeli­ng van opkomende boere en die volhoubare grondhervo­rming en transforma­sie in die landbousek­tor te ondersteun.

Een van SAB se aanvullend­e doelwitte was ook om volhoubare en mededingen­de landboupro­jekte te ondersteun en uit te brei. In die lig daarvan het die brouery in 2013 en 2014 ooreengeko­m om

AME se projekte vir opkomende boere te finansier.

SAB voer in hofstukke aan dat hy van Julie 2014 tot Julie 2015 ’n bedrag van R52 094 440 aan AME geleen het om boere by te staan met die produksie van gars en mielies. Daar is ooreengeko­m dat die geld terugbetaa­l sou word ná elke oes. AME het glo minder as die helfte van die projekgeld (R25 407 432) terugbetaa­l.

SAB voer aan hoewel AME die geld uitsluitli­k vir landboupro­jekte moes aanwend, het SAB vasgestel dat AME oor ’n tydperk van ’n jaar R38 600 569 na die bankrekeni­ng van Agri Mega NPC, 'n ondernemin­g sonder winsoogmer­k binne die groep, oorbetaal het.

Agri Mega NPC sou ook ondersteun­ingsdienst­e aan die landbou bied, maar het volgens die hofstukke ten tye van die dagvaardin­g geen bates, bankrekeni­ng of werknemers gehad nie en was dormant. King en Topley het hulself voorgehou as die uitvoerend­e direkteure van Agri Mega NPC. Topley het op 28 Februarie 2018 as direkteur bedank.

Nadat King die hooggeregs­hof in Kaapstad genader het vir voorlopige likwidasie, is AME in Junie 2016 gelikwidee­r.

BETALINGS GEMAGTIG

SAB voer aan dat King elk van die betalings sonder SAB se medewete gemagtig het. Gevolglik kon AME nooit die uitstaande balans van meer as R26 000 000 terugbetaa­l nie. SAB voer aan King het hom laat glo dat AME die lenings sou kon terugbetaa­l. SAB voer aan King het “willens en wetens tot nadeel van AME se finansiële vooruitgan­g opgetree, op ’n growwe nalatige” manier. Hy het glo sy posisie as groepbestu­urshoof van Agri Mega “misbruik om dit reg te kry”, aldus SAB se klag.

Die SAB voer voorts aan dat die onregmatig­e betalings aan die ondernemin­g sonder winsoogmer­k nie aangeteken is in die rekords en finansiële state van AME vir die boekjare 2015 en 2016 nie. Dit het glo gelei tot die wanvoorste­lling van AME en Agri Mega NPC se finansiële posisie.

Afgesien van die meer as R26 miljoen eis SAB ook rente op die uitstaande bedrag en dat King en Topley die koste van die geding moet betaal.

King en Topley het aangedui hulle verdedig die geding en sou kort ná druktyd hul repliek by die hof inhandig. Landbouwee­kblad berig volgende week daaroor.

 ?? FOTO: LBW-ARGIEF ?? Mnr. Orton King
FOTO: LBW-ARGIEF Mnr. Orton King

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa