Byekrisis: Meer diversiteit, minder gif nodig
Die koninklike geografiese gemeenskap (Royal Geographical Society) van Londen het bye tot die belangrikste lewende wesens op aarde verklaar. Wêreldwyd is bybevolkings onder druk. Makadamia SA (Samac) soek tans oplossings vir die ontsaglike ongunstige uitwerking wat die bestryding van plantplae op die voortbestaan van bye het.
In die appel- en peerboorde van Suidwes-China moet boere, hul werkers en soms selfs hul kinders, met lere teen bome opklim om bloeisels met die hand te bestuif. Dié land se bestuiwers, hoofsaaklik bye, is tot op die punt van uitwissing met landbouchemikalieë vergiftig. Suid-Afrikaanse boere sal moet besluit of hulle dieselfde pad wil loop, het dr. Hannelie Human van die Universiteit van Pretoria se fakulteit entomologie en dierkunde vroeër in Nelspruit op ’n byedag vir die makadamiabedryf gewaarsku.
“Suid-Afrika het 40 000 ha onder makadamiabome, waarvoor boere 160 000 byekorwe nodig het vir optimale bestuiwing,” het Human gesê. “Die probleem is dat bye én die chemikalieë, wat potensieel skadelik is vir hulle, ’n ewe belangrike rol in opbrengste en die gehalte van makadamianeute en ander vrugte speel.”
Sy is veral bekommerd oor die gebruik van neonikotinoïede, ’n groep nikotien-gebaseerde, neurotoksiese insekdoders wat sedert 1997 toenemend in plaaslike makadamiaproduksie gebruik word.
Dit is reeds sedert April 2018 deels in Europa verbied, maar in die res van die wêreld het dit die gewildste insekdoder geword. Dit is in die meeste gevalle die hoofbestanddeel in saad wat vooraf teen insekte behandel word.
Neonikotinoïede is sistemiese gifstowwe, wat beteken dit maak plantweefsel giftig vir insekte. Die gifstof tas die senustelsel van insekte aan. Human het vertel dat navorsers al residu daarvan in stuifmeel, nektar en selfs die byewas in korwe gekry het.Die grootste skok was egter navorsing wat residu van insekdoders in 198 heuningmosters van reg oor die wêreld uitgewys het.
Human het gesê daar is drie hoofgroepe neonikotinoïede. Sy het gesê 75% van die wêreld se heuningmosters het residu van minstens twee neonikotinoïede bevat. “Dit is wat ons eet!”
Met hulp van twee buitelandse navorsers het sy en haar span gevind dat neonikotinoïede kommerwekkende impak op die gesondheid van heuningbye het, selfs in klein dosisse.
Die drie grootste sondaars is die eerste generasie neonikotinoïedesamestelling, imidoklopried en die tweede generasie samestellings, thiametoksam en klotianidien.
SÓ AFFEKTEER DIT DIE BYE
Daar is gevind dat nie-dodelike, selfs veldrealistiese dosisse van hierdie chemikalieë bye affekteer. Dit belemmer bye se vermoë om te navigeer, hulle sukkel om hul pad huis toe te kry en onderskei moeilik tussen reuke.
Sulke klein dosisse ontwrig bye se breinfunksie, ontneem hul vermoë om liggaamstemperatuur te reguleer en hul vermoë om te vlieg en kos te soek word belemmer.
Human en haar span het sulke klein dosisse met sukrose gemeng en twee uur nadat bye daarvan gevreet het, kon hulle nie meer hul liggaamstemperatuur reguleer nie. ’n Dag later was hulle dood.
Met bietjies-bietjies neonikotinoïede oor ’n lang tydperk het die navorsers gevind bye vlieg ál minder en hul vlugafstande word ál korter. Hulle raak makliker gedisoriënteerd en baie haal nie weer die korf nie.
Vir boere beteken dit dat ál kleiner gebiede om korwe bestuif word. Die bye bring ook ál minder kos terug.
Na ’n ruk se blootstelling kon bye nie meer die smaak van suiker onderskei nie en hulle kon nie meer sukrose waarneem nie. Vir dié bye lyk en ruik ’n boord vol bloeisels met die soetste nektar dieselfde as water en hulle vlieg eenvoudig verby.
Human se eksperiment het ná 14 dae tot ’n einde gekom, want toe het hulle nie meer bye oorgehad nie – almal het gevrek.
“Dit is hoe drasties die impak van hierdie chemikalieë op byekolonies is. In normale toestande is die lewensiklus van bye 45 dae en dié van kosversamelaars 21 dae. ’n Kolonie waarvan die bye net 14 dae leef, het dus geen kans op reproduksie en oorlewing nie.”
DOOIE BOORDE
Me. Inge Lötter, ’n byeboer van Nelspruit en voorsitter van die Laeveldse vereniging van byeboere, het vertel van ’n besoek aan ’n makadamiaboord tydens blom.
“Ek het nie een by of insek gesien nie. Dit was laat in die blomtyd en baie van die bloeisels het al verwelk sonder ’n teken van neutvorming aan enige van die stringe.”
Sy het gesê dit het haar laat besef hoe groot die bydrae van bye en ander insekte tot makadamiaproduksie is. “Daar is makadamiakwe
kers wat meen hulle het nie regtig bye nodig nie, maar jy het die een of ander bestuiwer nodig en bye is die maklikste om te bestuur.”
Sy het gesê byeboere weet insekbestryding is noodsaaklik in makadamiaproduksie, maar sy wys daarop dat bye ook insekte is en dus dieselfde as plae op insekdoders reageer.
Dr. Schalk Schoeman, ’n entomoloog van die Landbounavorsingsraad, het gesê die probleem is nie beperk tot insekte nie. Die gebruik van chemikalieë affekteer die hele ekologie in ’n boord. Hy het gesê die afgelope jaar het hy tydens baie boordbesoeke opgemerk dat daar min bye en min verkleurmannetjies en paddas in die boorde was.
“Boere moet gaan kyk hoeveel van hierdie insekvreters hulle in hul boorde sien. Albei dié spesies is baie vatbaar vir peritroïede.”
Schoeman het gesê die wêreld raak ál meer bewus van die impak van die landbou op die ekologie. “Verlede September het Duitsland R1,5 miljard beskikbaar gestel vir navorsing om te kyk hoe die natuurlike biodiversiteit in landbouomgewings weer herstel kan word. Ons moet almal dus kyk hoe ons meer lewe terug in ons boorde kan kry.”
LEER BY DIE NATUUR
Schoeman het gesê mens kan nie wegkom van die feit dat daar ’n verskeidenheid plae in die Laeveld is wat oeste en boere se inkomste kan vernietig nie. Die groot vraag wat beantwoord moet word, is egter hoekom word insekte plae?
“As ’n mens na die Krugerwildtuin kyk, sien jy nie dat koedoes in só ’n mate vermeerder dat hulle ’n plaag word nie.” Volgens hom is dit omdat daar nie na een spesie ten koste van ander omgesien word in die wildtuin nie.
Die wildtuin is ’n stabiele ekostelsel. Daar is min behoefte vir eksterne insette en Schoeman het gesê boere moet probeer om meer diverse ekosisteme soos die wildtuin in hul boorde te skep. “In die Laeveld is die landbou hoofsaaklik monokultuur van enkele gewasse, soos avokado’s, makadamias en sitrus. Dit bring plae mee wat op daardie gewasse spesialiseer.”
Hy het gesê die eerste stap om die probleem op te los, is aggressiewe snoei. Boere moet sonskyn tot op die boordvloer kry.
“Dan kry jy grasse en grondbedekkers wat op die grond tussen bome groei en dan is daar dadelik meer biodiversiteit. Dit bied jou ’n stabieler ekosisteem.”
Hy het vertel van boorde in Venda waar bestaansboere hul bome met rywydtes van 1015 meter plant. In daardie bane produseer hulle ander gewasse, gewoonlik verskillende soorte groente. As hulle nie groente of iets verbou nie, dan groei daar baie grasse en grondbedekkers tussen die bome.
“Die eindresultaat is dat ons nie stinkgoggas in daardie boorde kry nie. Dit is die waarde van biodiversiteit. Sulke boorde is egter nie kommersieel lewensvatbaar nie.”
Volgens hom is daar egter voorbeelde van kommersiële boere in die Kiepersolomgewing wat avokado’s en wildebasiliekruid langs mekaar plant.
“By die basiliekruid sien jy baie bye en parasitiese wespes wat tipiese plantplae vreet.”
Schoeman het gesê makadamiabome moet hoogstens 5,5 m hoog wees en daar moet voldoende spasie tussen bome wees. Hy beveel ’n rywydte van 8 meter aan.
“Spuit net wanneer daar probleme is. Ek dink nie ons sal ooit makadamias of avokado’s sonder insekdoders kan verbou nie, maar die manier waarop ons nou boer, gaan moet verander, want die ontwikkelde wêreld plaas al hoe meer druk op produsente om omgewingsvriendelik te boer.”