Suiwel: Moenie beplan vir laer groei
Boere moet raad dat melkproduksiegroei tot minder as 2% beperk moet word, met ’n knippie sout neem en eerder ander faktore in ag neem.
Die Suid-Afrikaanse landbouvertakkings bedryf sedert 1998 volledig binne ’n vryemarkstelsel. Die graanbedrywe het goed by die nuwe bedeling aangepas met die ontwikkeling van die Safex-termynmark, terwyl die suiwelbedryf steeds die bloei-en-ineenstorting-siklus ry.
Van tyd tot tyd word daar terugverlang na die ou dae van produksiebeheer. Tans is ons weer in só ’n fase en het die MPO die versugting dat melkproduksiegroei tot minder as 2% beperk moet word om sodoende prysverlagings te voorkom. Daar is egter verskeie redes waarom die advies vir boere en die bedryf nadelig kan wees.
REDES OM PRODUKSIEGROEI NIE TE BEPERK NIE Laer produksiegroei lei nie tot hoër pryse nie
Die individuele melkprodusent is ’n prysnemer. Die produksie van die deursneemelkboer is gelyk aan 0,08% van die nasionale produksie. Sy individuele produksiebesluite beïnvloed nie nasionale produksie nie. Deur produksiegroei te beperk of selfs in te krimp, gaan nie produsentepryse verhoog nie. Trouens, deur produksie te beperk skep ’n boer die geleentheid vir ander boere om produksie uit te brei.
Dit is wensdenkery om te dink dat laer produksiegroei tot hoër produsentepryse lei.
In GRAFIEK 1 word die jaarlikse toe- en afname in melkproduksie en die verandering in produsentepryse vergelyk. Die grootste persentasiestyging in produsentpryse het in ’n stygende produksieperiode van 2011 tot 2012 voorgekom. In 2011 het produksie net met 0,5% gegroei. Tog het dit tot ’n 2,8% daling in pryse gelei.
Melkkopers se verlaging van produsentepryse die afgelope twee jaar is nie as gevolg van ’n ooraanbod van suiwelvastestowwe nie. Daar is wel ’n ooraanbod van melk in die varsmelkwaardeketting waar die vraag gedaal het. In die verlede het die kleiner varsmelkverwerkers die leiding geneem om pryse te verhoog.
Omdat hulle nie toegang tot invoer en balanseergeriewe het nie, het hulle gou tekorte ervaar as produksie daal of stadiger groei en dan hul pryse verhoog ten einde produsente te lok.
Hierdie aksie het ’n kringloop van prysverhogings aan die gang gesit wat die groter melkverwerkers gedwing is om te volg. Omdat hulle nie meer tekorte ervaar nie, gebeur dit nie meer nie. Die totale aanbod van melk vir die eerste nege maande van 2019 is 0,8% minder as in die ooreenstemmende tydperk in 2018.
As dit so is, dan is dit baie duidelik dat die rede vir die onlangse prysverlagings nie in hoër produksie geleë is nie.
Laer produksie = laer wins
Melkboerdery is ’n hoë vastekoste-bedryf. Hoe hoër die produksie, hoe laer is die vaste koste per liter. Solank die produsenteprys voldoende is om totale veranderlike koste te dek, maak dit ekonomies sin om te produseer, selfs indien die totale vaste koste op kort termyn nie gedek kan word nie.
In GRAFIEK 2 word die verwantskap tussen totale produksie, vaste en veranderlike koste en bruto inkomste aangedui. Indien produksie laer as die gelykspeelpunt is, word daar ’n verlies gemaak.
Die doeltreffendste manier om vaste koste te beperk, is deur produksie uit te brei.
COWBOY-LOGIKA ‘Meer melk beteken meer geld.’ Bekende Amerikaanse suiwelgesegde
Verswakkende ruilvoet vereis produksiegroei
Landbouprodukpryse styg teen ’n laer koers as die pryse van boerderybenodigdhede. Dit beteken dat tensy ’n boer óf meer teen dieselfde koste produseer, óf dieselfde produksie met minder, goedkoper insette produseer, gaan die kosteknyptang hom inhaal. Die boer wat voortgaan om op dieselfde manier en vlak as tans te boer, gaan binne ’n paar jaar uit die bedryf wees.
Die mark groei met meer as 2% per jaar
Die Nielsen-syfers wat Sampro gereeld publiseer, gee ’n goeie aanduiding van die groei van die suiwelmark. TABEL 1 dui die verandering in die vraag na suiwelprodukte aan soos deur Sampro beraam op grond van die Nielsen-syfers.
Onderskeidelik het die langlewe-mark met 9,5%, die totale vloeibare melkmark met 4,9%, en die mark vir voorafverpakte kaas met 4,1% per jaar gegroei, terwyl die enigste betekenisvolle afname in die verbruik van botter was. Konserwatief bereken, is dit dus ’n 4%-styging in die mark.
’n Alternatiewe metode vir die beraming van die groei in die totale mark is om die totale produksie plus netto invoer (invoer min uitvoer) te vergelyk ( TABEL 2 ). Melkproduksie het wel vinnig met 3,9% per jaar gegroei, maar die totale aanbod het as gevolg van positiewe groei in uitvoer met 3,5% gegroei. Albei berekenings dui op ’n groeiende suiwelmark.
Die aanbod van melk en suiwelprodukte bestaan nie net uit dit wat die boere produseer nie, maar sluit ook dit wat deur die plaaslike suiwelbedryf ingevoer word. Kyk ’n mens net na die suiwelkategorieë, word meer uitas ingevoer. Dit wat tans op die suiwelrakke in supermarket aangebied word, bestaan egter uit ’n mengsel van suiwel- en ander bestanddele, sommige waarvan onder ander tariefposte ingevoer word. As produksiegroei laer is, gaan invoer bloot styg om enige tekorte aan te vul.
MOONTLIKE OORLEWINGS- EN GROEISTRATEGIEË
Sowel die katoen- as die pluimveebedryf het onlangs toekomsplanne met die samewerking van die regering aangekondig.
Die katoenbedryf het daarin geslaag om produksiegroei van meer as 800% te bewerkstelling.
Hoewel die pluimveeplan nog nie in werking is nie, word verwag dat produksie skerp verhoog gaan word.
In die suiwelbedryf is daar oor jare al verskeie ambisieuse planne opgestel. Ongelukkig het dit in al die gevalle bloot net goeie teoretiese planne gebly wat nie toegepas is nie. Selfs die mees onlangse plan wat binne Nedlac ontwikkel is, is klaarblyklik geliasseer.
Onlangs het protes deur boere oor die invoer van langlewe-melk daartoe gelei dat die verbruiker daarvan bewus geraak het.
Melk SA se verbruikersopvoedingsaksie het hopelik ’n impak op die vraag na suiwelprodukte. Ongelukkig hou dit nie voordeel vir die plaaslike produsent in as die groeiende vraag met ingevoerde produkte bevredig word nie.
Die sekondêre bedryf is die hoofinvoerders van suiwelprodukte en sal nie ’n “Eg Suid-Afrikaans suiwel-veldtog” steun nie. Die MPO, wat reeds binne sy beperkte begroting veel doen om plaaslike verbruik te bevorder, sal die verbruiker deeglik moet inlig oor die nadele van ingevoerde suiwelprodukte wat betref werkskepping, ekonomiese groei en die omgewingsimpak van produkte wat ingevoer word.
Winsgewendheid is die eerste vereiste van volhoubaarheid. Om produksiegroei te beperk, bring die volhoubaarheid van melkboere in gevaar, terwyl dit nie noodwendig produsenteprysverlagings gaan beperk nie. Indien melkproduksie stadiger as die verbruik groei, gaan dit invoer stimuleer tot nadeel van plaaslike produsente.