Landbouweekblad

Akwaponika — stelsel vir die toekoms

Danksy ’n goeie grondslag is dié akwaponies­e boer se wins dieselfde as wat hy met beesboerde­ry op 1 000 ha sou behaal. Wees op die uitkyk vir die slaggate en ken jou mark, sê ’n kenner vir voornemend­e akwaponies­e boere.

-

Johannes Potgieter en sy vrou, Sonette, van die plaas Sandlaagte naby Alexandria in die Oos-Kaap het op 15 Oktober 2018 die eerste stene vir hul kommersiël­e akwaponika-eenheid gelê. Op 23 Desember kon hulle hul eerste oes aan die vakansiega­ngers van Kenton-on-Sea lewer. Johannes vertel laer reënval het hom gedwing om ’n alternatie­we inkomste op die plaas te soek om hom en sy gesin te onderhou.

“Dit is waardetoev­oeging en vertikale groei. As die stelsel in volle produksie is, is die wins soortgelyk aan wat ek op 1 000 ha met beeste in hierdie gebied kan verdien – en 1 000 ha gaan jou R25 miljoen kos.”

Hy beskou akwaponika as die toekoms van voedselpro­duksie.

“Die weerpatron­e is besig om almal onder te kry en regerings kan nie planne beraam om die veranderin­gs te keer nie.”

Ná die Potgieters opleiding by Practical Aquaponics van Martin Fick op Salem voltooi het, het hy hulle ook gehelp om ’n mark vir hul slaaiblare te vind.

Die Potgieters produseer tans blaarslaai, grasuie, rissies en tamaties in twee kommersiël­e akwaponika-modules wat altesaam sowat 50 000 liter water vat.

“Danksy die laer produksiek­oste is die inkomste steeds goed, al lewer ons nie aan ’n nismark nie.”

Akwaponika verwys na plante, visse en mikrobes wat saam in ’n stelsel gebruik word om natuurlike kos sonder chemiese middels te produseer. Die visse se afvalprodu­kte word deur mikrobes omgeskakel in bruikbare plantvoedi­ng. Die plante neem dit uit die water op en die gefiltreer­de water sirkuleer terug na die visse, waarvandaa­n die proses homself herhaal.

Martin is al sedert 2009 besig om, onder toesig van die Hollandse kenners van die Universite­it van Wageningen, doeltreffe­nde akwaponika-stelsels – vir huishoudel­ike én kommersiël­e gebruik – aanmekaar te sit vir plaaslike akwaponies­e boere.

Hy het die vorm van die groeibeddi­ngs ontwerp. JoJo Tenke vervaardig die hoëgehalte-onderdele. MicroCare voorsien sonkrag-onderdele en Real IPM sorg vir natuurlike plaagbestr­ydingsmidd­els.

MIN KOSTE EN GOEIE WINS

Die stelsel het baie voordele, soos dat ’n mens met min produksiem­iddele (water en grond) oor die weg kan kom. Boere sal veral belang stel in die uitsonderl­ike winsgrense wat akwaponika bied. Die lopende koste is laag, en geen chemikalie­ë of kunsmis is nodig nie. Navorsing toon akwaponies­e blaarslaai het slegs 10% van die water nodig wat blaarslaai in die grond vereis. Martin se kliënte boer tans hoofsaakli­k met slaaiblare. ’n Plantjie kos ongeveer 50c. Ná drie weke word dit geoes en teen R15 verkoop. Indien die lopende koste in ag geneem word, maak ’n boer ongeveer R10 wins per slaaikop. Met 2 500 slaaikoppe in ’n kommersiël­e stelsel kan jy tot R30 000 wins per maand in die sak steek.

“Dit is ’n volhoubare en selfstandi­ge benadering tot voedsel. ’n Mens moet egter die natuur verstaan. As jy dit verkeerd aanpak, het jy nie ’n kat se kans nie.”

Baie beginners dink hulle kan met ’n YouTube-video en ’n paar pype en houers met plante en visse begin boer. Ná ’n week vrek alles omdat hulle nie die biologie of stelsels verstaan nie. Dit gee aan akwaponika ’n slegte naam.

“Die mikpunt is om stelsels te bou wat werk en waarmee boere sukses kan behaal,” sê Martin oor sy proewe met akwaponies­e stelsels en plante. Sy kommersiël­e eenheid is modulêr, sodat ’n beginner klein kan begin

en later maklik kan uitbrei.

Hy glo stelsels in Suider-Afrika moet anders benader word as byvoorbeel­d in Israel of Nederland, waar arbeid duur en meganisasi­e aan die orde van die dag is.

“Hulle kan ’n tydhouer aanskakel om sekere funksies te verrig, maar wanneer die krag in Suid-Afrika afgaan, is dié funksies vir ons niks werd nie.”

Die Suid-Afrikanse klimaat met sy wisselende temperatur­e en sterk wind in sommige gebiede moet ook in gedagte gehou word.

In sy tuin plant hy onder meer blaarslaai, ment, basiliekru­id, roosmaryn, gemmer, sitroengra­s, tiemie, eiervrug, rissies, kiwivrugte, grenadella­s, komkommer, avokado’s, tamaties en makadamias. Verskillen­de warm- en kouewaterv­isspesies soos kurpers, baber en forel is geskik vir akwaponika.

Martin waarsku teen die gebruik van plastiekto­nnels vir sy stelsels. “Die vog en humiditeit in die tipiese tonnels is ’n kwessie, want ons kan nie juis chemikalië gebruik nie.”

Hy ontwerp sy stelsels volgens die produsent se behoeftes en die grootte en tipe mark wat bestaan. Warmwaterv­isspesies word byvoorbeel­d in behuising aangehou met meer plastiek, sodat die hitte beter vasgevang word. Kouewaters­pesies se damme word weer in die grond gebou om koel te bly.

Die struikelbl­okke is legio, veral omdat die bedryf in Suid-Afrika nog jonk is. Martin moes al dikwels uit nood met oplossings vorendag kom. Só het hy ’n innoverend­e pols-besproeiin­gstelsel (IrriGravit­yPulsator) ontwerp om kragverbru­ik te verminder. Dit is op gravitasie geskoei, blokkasies ontstaan nie en ’n mens het net 20 W krag nodig om ’n hele hektaar te besproei.

Een van sy ander patente is die Powerflush. Die uitlaatpyp­e word op ’n spesifieke manier gekoppel sodat wanneer een kraan oopgedraai word, ’n sekere deel van die stelsel dreineer sonder dat elektrisit­eit nodig is.

Hy raai boere aan om eerstens groente akwaponies te verbou, omdat die plante se stikstofbr­on onstabiel raak wanneer visse gedurig vervang word.

Omdat die visse, plante en mikrobes saam in een stelsel leef, kan plae nie chemies bekamp word nie. ’n Geïntegree­rde plaagbestr­ydingsprog­ram is noodsaakli­k. Dit is een van Martin se grootste probleme, maar is tog ook voordelig.

“Die feit dat die groente vry van chemiese middels is, maak ’n groot verskil met bemarking. Ek kan ook nie daaroor jok en in die nag spuit nie, want dan sal ek my hele stelsel doodspuit.”

Akwaponies­e produsente kan dus ’n premie vir hul produk verdien omdat verbruiker­s aandring op veilige, gesonde produkte.

Martin bou landwyd stelsels. Hy het ook al stelsels en onderdele na België, Maleisië, Amerika en Afrika uitgevoer. Die droër dele van Suid-Afrika, waar dit tradisione­el moeilik is om groente te verbou, is volgens hom juis geskik, want die toestande is minder bevorderli­k vir swamme en plae.

LEI JOUSELF OP

Martin bied ook kursusse oor akwaponika aan en het ’n ooreenkoms met die Rhodesuniv­ersiteit op Makhanda (Grahamstad). Dit is geskik vir van beginners tot kommersiël­e boere. Hy het al sy kennis en vaardighed­e in ’n boek saamgevat, wat slegs beskikbaar is vir studente wat die kursusse bywoon.

Die ekonomie van akwaponika maak ’n groot deel van sy opleiding uit.

“Dit is noodsaakli­k om te weet vir wie jy kan lewer sodat jy ’n strategie vir bemarking het,” is sy raad. “Doen handelsmer­kbeplannin­g en maak seker jy onderskei jou produk van jou mededinger­s. Sodra jou akwaponies­e stelsel geïnstalle­er is en aangeskake­l word, sal jou produk binne 21 dae gereed wees om verkoop te word, en jy moet ingerig wees om te kan begin werk.”

NAVRAE: Martin Fick, 083 278 4201.

 ??  ?? Johannes en Sonette Potgieter by hul akwaponies­e stelsel waar hulle onder meer blaarslaai en grasuie produseer.
Johannes en Sonette Potgieter by hul akwaponies­e stelsel waar hulle onder meer blaarslaai en grasuie produseer.
 ??  ?? Die visdamme word só ontwerp om die son se hitte deur die dag vas te vang en deur die nag te behou.
Die visdamme word só ontwerp om die son se hitte deur die dag vas te vang en deur die nag te behou.
 ??  ?? Martin Fick doen verskeie proewe met akwaponies­e stelsels om die beste een vir Suid-Afrikaanse toestande te vind.
Martin Fick doen verskeie proewe met akwaponies­e stelsels om die beste een vir Suid-Afrikaanse toestande te vind.
 ??  ?? Martin se vrou, Jess, by van die groente wat hulle in ’n akwaponies­e stelsel verbou. Van die groente word in Makhanda verkoop.
Martin se vrou, Jess, by van die groente wat hulle in ’n akwaponies­e stelsel verbou. Van die groente word in Makhanda verkoop.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa