Landbouweekblad

Hart tot hart

-

Daar is mense wat saam bestaan en daar is mense wat saam leef. Dié twee is vir seker nie dieselfde nie. Kom ons neem as voorbeeld die volgende gevalle: Twee boere is bure. Hulle baklei nie met mekaar nie en elkeen doen sy eie ding op sy eie manier. Met goeie lyndrade en billike verstandho­uding bereik elkeen wat hy vir homself in gedagte het. Hulle vermy mekaar nie, maar hulle kuier ook nie by mekaar nie. Dit is ’n geval van saam bestaan. Ja, dit kan werk, maar ook net. Dit is sonder warmte en sonder siel; sonder lag en sonder lied.

Dan is daar die voorbeeld van saam leef, wat oom Gert en tant Sannie van Sprigstraa­t my so aanskoulik geleer het. Hulle was toe reeds bejaard en kinderloos. Menigmaal wanneer ek die bejaardes op die dorp besoek het, het ek hulle op die stoep sien sit, hande inmekaar gevleg en met ’n uitdrukkin­g van vrede op hul gesigte.

Een keer het ek ’n grappie gemaak: “En wat se vryery is dit so vroegoggen­d?”

Oom Gert het breed geglimlag: “Maar dis mos darem nie sonde nie, dominee!” Dan het ons heerlik met mekaar gesels terwyl ek elke keer bewus geword het van ’n liefde wat mooi ryp geword het – ryp en geurig. Lekker soos die hanepootdr­uiwe uit Robertson se wêreld. Om só saam te leef, is darem oneindig veel meer as om net saam te bestaan.

Oom Gert en tant Sannie leef lank nie meer hier op aarde nie, maar hulle voorbeeld leef voort. Male sonder tal het ek juis hierdie voorbeeld gebruik wanneer ek sterwende verhouding­s – ook huwelike – probeer help het om die vreugde van saam lééf te ontdek.

Een van ons digters het gesê: “Ek is in jou gevleg, gerank, soos wortels in ’n donker bank” (vgl. “Ballade van die bose” deur NP van Wyk Louw).

’n Beter begrip van saam lééf kan ook vir ons in Suid-Afrika help om die sin van die lewe te ontdek.

’n Beter begrip van saam lééf kan . . . ons help om die sin van die lewe te ontdek.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa