KLEINHANDEL GROEI FLUKS BY KAAP AGRI
KLEINHANDEL het verlede jaar vir die tweede jaar agtereenvolgens ’n groter bydrae tot Kaap Agri se handelsmarge gelewer as die landbou, vanweë ’n doelbewuste poging van dié maatskappy om bydraes tot die maatskappy se handelsmarge te diversifiseer.
Mnr. Sean Walsh, uitvoerende hoof van Kaap Agri, het op die maatskappy se jaarvergadering in die Paarl gesê dié tendens sal voortduur namate die diversifikasie van die kleinhandel vorder. Hy het benadruk dat die randwaarde van die landbou-afdeling se bydrae tot die handelsmarge nie daal nie. “Ons doen meer besigheid in die sektor, maar sy bydrae groei teen ’n stadiger pas as die kleinhandel se bydrae tot die handelsmarge.”
GERIEFSWINKELS
Kaap Agri se filiaal The Fuel Company het verlede jaar 287 mense in diens geneem, sy brandstofverkope het met meer as 10% gegroei en die inkomste by winkels het met meer as 50% gestyg. Vyf nuwe diensstasies is bygevoeg, maar brandstofverkope het wel afgeneem in mynbougebiede soos Kuruman, Kathu, Postmasburg en Daniëlskuil waar myne gesluit het.
“Ons het egter die afgelope jaar
merkbare groei in die geriefs- en vinnigediensstasies gesien teenoor brandstofverkope.”
Die groep het verlede jaar bykans 700 000 koppies koffie verkoop. “Ek het nooit geweet die boere drink so baie koffie nie,” het Walsh geskerts.
Die groep se inkomste het in die boekjaar tot September met 29,1% gestyg ondanks minder infrastruktuur-ontwikkeling op plase, die uitgerekte herstel ná die droogte en ’n insinking in die kleinhandel in die middel van die jaar. “Ons het ook ’n afplatting in die wisselkoers gesien. Ek reken op vrugteplase het die onsekerheid oor grondbeleid belegging teruggehou.”
OPTIMISTIES
Vir die nuwe boekjaar is Walsh optimisties oor die herstel in die
vrugtebedryf en dierevoerverkope, wat korttermynvoordele bring. Kaap Agri wil markaandeel wen in die Oos-Kaap, Mpumalanga en KwaZulu-Natalse Middelland.
“Die enigste bedryf wat werklik onder druk is, is die Swartlandse koringbedryf. Wesgraan het ’n laer koringoes ingeneem weens ’n tekort aan reën in September, maar dit is nog nie so erg soos twee jaar gelede se Dag Zero-droogte nie. Ons het minder as 10% blootstelling aan die Swartland in ons totale besigheid.”
Hy het gesê die maatskappy beoog om vanjaar munt te slaan uit sy nuwe SEB-nakomingsvlak, wat hy verlede jaar van vlak 7 tot vlak 3 verbeter het. “Ons het vir ’n aantal groot kontrakte getender. Dit sal toon hoe voordelig dit is om in ’n goeie transformasiestrategie te belê.”