Landbouweekblad

SÓ SÊ ’N PATATBOER

-

Groente is ’n belangrike vertakking in Dawie Rothmann van M.A Rothmann en Seuns by Brits se boerdery. Patats is een van sowat nege groentesoo­rte wat hulle verbou. Hy plant ongeveer 20 ha patats in seisoen, en oes 30 ton per dag daarvan.

Hoekom plant jy patats?

Die supermarkt­e het my gevra daarvoor! Patats maak ook deel uit van ons wisselbous­telsel. ’n Lekker voordeel van patats is dat die kos onder die grond groei. Die hael kan dus net die ranke wegslaan, maar nie die kos nie. Ons klimaat is ook geskik vir patats, want dit hou van die lekker baie reën en hitte wat ons omgewing kry.

Is dit ’n vrugbare gewas?

Ja, die opbrengste is goed, sonder dat jy baie kunsmis hoef te gee. Ons bemes glad nie baie nie, basies net kalium, kalsium en fosfate, omtrent niks stikstof nie.

Wanneer breek julle patatseiso­en aan?

Ons plant gewoonlik einde Augustus en begin dan einde Januarie met bemarking.

Vertel meer oor die patatkulti­vars wat beskikbaar is?

Daar is ’n groot verskeiden­heid kultivars in ’n klomp kleure beskikbaar. Ek plant egter die gewone rooi patat, genaamd Blesbok.

Watter struikelbl­okke is daar vir patatboere?

Die patatkewer is ons grootste probleem. As dit droog raak en jou grond maak krake, klim die kewer in en veroorsaak swart kolletjies op die patat. Ons spuit ’n chemiese middel voorkomend om dit dood te maak.

Waar bemark jy patats?

Ek verkoop patats aan Pick n Pay en Checkers, asook op die varsproduk­temarkte in Johannesbu­rg en Pretoria.

Waarom is dit lekker om met groente te boer?

Ons het grootgewor­d daarmee, en dit is lekker om kos te produseer en Suid-Afrika te help met voedselsek­erheid. Sommige jare maak jy nie geld nie, maar die jare wat ’n mens wel geld maak, maak jy darem genoeg.

Het jy wenke om patats voor te sit?

As ons vleis braai, draai ons dit graag in foelie toe en gooi dit in die as om gaar te word. Dis net so lekker as jy dit kook saam met vanielje. Voor jy opskep, kan jy ook ’n bietjie vla inroer en dit warm of koud eet. Ons het ook al skyfies gemaak wat ons in olie braai.

 ?? FOTO: CHARL VAN ROOYEN ?? Dawie Rothmann
FOTO: CHARL VAN ROOYEN Dawie Rothmann

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa