AANVALLERS UIT DIE NIET
Boere ken die gevoel goed. ’n Skielike en skerp aanval uit die bloute op sosiale media waarteen daar geen verweer is nie. ’n Valse storie, sonder enige konteks of poging tot redelikheid en met die doel om soveel skade moontlik te berokken, wat soos ’n veldbrand versprei.
Een voorbeeld is die video oor die vermeende vergrype in die bokhaarbedryf waarin videogrepe van die skeerproses sorgvuldig en selektief geredigeer is sodat dit voorkom asof skreeuende diere mishandel word. Daar is ook die beelde van die ou Suid-Afrikaanse vlag wat kwansuis tydens die Swart Maandag-protesoptogte teen plaasmoorde in 2017 rondgeswaai is.
Hierdie foto’s en stories word op sosiale media versprei, waar dit opnuut ’n valse storielyn ontketen. Op Twitter, Facebook, YouTube en WhatsApp-groepe sypel die gif van valshede en halwe waarhede deur na duisende selfone, aangevuur deur mense se bereidwilligheid om net die slegste van hul medemens te glo. In die regte wêreld, waar regte mense ’n bestaan probeer maak, is daar egter werklike gevolge.
Die bokhaarbedryf het ’n tydelike insinking van die mark beleef nadat groot modehuise hul ondersteuning vir dié vesel onttrek het uit vrees oor wat hul klante sou dink. Die situasie is mettertyd met groot moeite ontlont. Boere is egter met hope administrasie en koste opgesaal ná ’n ooreenkoms dat alle bokhaarboere voortaan vir etiese praktyke geoudit sal word. Dít boonop in ’n tyd waarin die meeste boere ook deur die ergste droogte in menseheugenis gewurg is.
Die Swart Maandag-veldtog teen plaasmoorde was seker een van die suiwerste uitdrukkings van frustrasie teen die onverskoonbare aanslag teen landbouers, een waarin baie van ons al vriende en geliefdes verloor het. Op daardie Maandag in 2017 het duisende boere, werkers, familielede en die publiek die strate ingevaar om hul misnoeë oor die moord op nog ’n boer, dié keer in die Wes-Kaap, te kenne te gee. Sonder geweld en met groot waardigheid het boere en hul werkers langs mekaar gekniel en om uitkoms gebid. Wat ’n besonderse getuigskrif vir boere moes wees, het egter in ’n smerige, rassistiese herrie ontaard toe vals beelde van ’n vorige, onverwante optog, waar die ou SuidAfrikaanse vlag rondgeswaai is, op sosiale media versprei is.
Daar was ook weer pogings om Landbouweekblad te beswadder. ’n Video wat in 2016 op WhatsApp versprei is, is deur opportuniste met twyfelagtige motiewe opgediep en weer op sosiale media geplaas. Hierdie video is destyds ná ’n onsmaaklike bekgeveg tussen ’n voormalige werknemer en ’n Afrikaanse sanger gemaak en bevat allerlei valse aantygings oor die tydskrif. Ons lesers het dit gelukkig taamlik vinnig in die kiem gesmoor. Die video het egter destyds baie mense onkant betrap, wat tot ’n onverkwiklike situasie gelei het wat met groot moeite beredder is. Dié keer is daar ook gevolge. Die minste daarvan is dat ek dié week se redakteursbrief aan sulke nonsens moet afstaan, pleks van om boere te probeer help om die uitvoer van lewende skape weer aan die gang te kry ná ’n sosialemediaveldtog — wat anders? — dié praktyk probeer uitkryt het as dieremishandeling.
Die dae dat mense skotvry daarvan afkom nadat hulle valse gerugte versprei het met die doel om skade te berokken, is verby. Ons kan nie langer sulke ongeoorloofde aanvalle net gedweë aanvaar wanneer die gevolge vir die primêre landbou en die breër waardeketting, waarvan ons deel is, so merkwaardig groot kan wees nie — veral in hierdie moeilike tye wanneer ’n ieder en elk om oorlewing veg.
Dit is nou tyd vir die landbou om meer as ooit sy opbouende stories te vertel en om diegene wat onnodige skade aanrig, daadwerklik in die bek te ruk.