MEDIADEKKING: PLAASMOORDE SPEEL TWEEDE VIOOL
In ’n dagblad skryf ’n leser op 13 Junie “hou tog plaasmoorde uit Floyd-, Khosa-sterftes”, en versoek daarmee dat plaasmoorde nie opgehaal moet word wanneer die dood van George Floyd (Amerika) en Collins Khosa (SuidAfrika) aan die groot klok gehang word nie.
Die briefskrywer gee sodoende te kenne terwyl die sterftes van Floyd en Khosa oral in die media aandag kry, moet die onsinnige plaasmoorde in Suid-Afrika op die agtergrond bly. Anders gestel, dit is nie nou die tyd om plaasmoorde te bespreek nie.
Dit is ironies dat die dood van die Amerikaner daagliks in Suid-Afrika onder bespreking is, in so ’n mate dat die EFF selfs ’n optog na die Uniegebou gehou het waartydens die breedsprakige mnr. Julius Malema sy arrogansie op die bes moontlike manier ten toon gestel het.
Ek kan nie verstaan dat die aanranding van en moord op plaaseienaars en hul gesinne in Suid-Afrika op so ’n flou manier deur die media rugbaar gemaak word nie.
Die wrede aanval op die Coetzee-egpaar van Reivilo einde Mei op hul plaas in my provinsie, Noordwes, is nie eens meer nuus nie. Die bejaarde vrou se gesig is gruwelik vermink en haar man is met kookwater gebrand. Hierdie aanval, as dit wel in die koerant raakgelees word, laat mense hul skouers ophaal, en met ’n geklik van die tong word daar verder gelees aan ander berigte in die koerant (ek moet daarteen waak om te veralgemeen).
Oor ’n jaar van nou af gaan die Floyd- en Khosa-geval steeds ’n onderwerp van bespreking wees, terwyl die wrede moorde en aanvalle wat plaasgesinne dikwels te beurt val, hoogstens met simpatie bejeën sal word.
Ek was in my lang loopbaan op tientalle tonele van moord en aanranding in plaashuise, en telkens het die wreedheid my met afgryse vervul. Mense word vermink – soms vir ’n selfoon, soms vir ’n voertuig en ja, ook vir ’n bottel whiskey. Die eerste prys vir die aanvaller is om dan sommer die vrou in die huis te verkrag.
Ek wil dit duidelik stel: Wanneer ek oor plaasmoorde skryf en praat – en ek gaan dit nog baie doen – moet niemand tussenbeide tree en gevalle soos dié van Floyd en Khosa aanhaal en voor my kop gooi in ’n poging om my aandag van die onderwerp weg te lei nie. Alle mense in die land het gelyke regte, en almal het dieselfde reg om oor die lewe of die verlies daarvan van enigiemand te skryf en te praat.