DIESEL-BOTTELNEK NOG NIE OPGELOS
ONDANKS die versekering van die SA petroleumbedryfsvereniging (Sapia) dat daar genoeg brandstof in die land beskikbaar is, word probleme steeds met die verspreiding daarvan ondervind. Dit skep ’n bedreiging vir boere wat moet stroop.
Graan SA, Agbiz en Agri SA het op 18 Junie weer met Sapia oor die kwessie vergader. “Die terugvoer wat ons kry, is dat dieselvoorsiening nog onder erge druk is,” sê mnr. Corné Louw, senior ekonoom by Graan SA.
“Die grootste probleem tans is opeenhoping en logistiek. Volgens Sapia is daar genoeg voorraad in Suid-Afrika.”
Hy sê daar is met Sapia ooreengekom dat voorkeur gegee word aan groothandelaars wat diesel aan produsente verskaf. ’n Lys van groothandelaars is deur lede van Graan SA aan Sapia gegee as voorrangsaak.
OPNAME OOR TEKORTE
Dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by Agri SA, sê dit is moeilik om te bepaal waar die tekorte presies oral in die land ondervind word.
“Ons het vroeër gehoor van probleme in die Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap, en probeer nou ’n opname maak om ’n beter prentjie van die situasie te kry. Agri SA is weekliks in kontak met Sapia om die jongste inligting te kry. Ons bring Sapia in kontak met die kernverskaffers binne die landbou sodat hy bewus kan wees van bottelnekke.”
BRANDSTOFDIEWE
Volgens Sapia ontvang al die depots wat van diesel voorsien word deur die Transnet-pypleiding, tans hul voorraad. Dit is met die uitsondering van Waltloo buite Pretoria en by Witbank, waar die pypleiding die tweede week van Junie deur brandstofdiewe beskadig is.
Sapia het in sy jongste verklaring op 12 Junie bevestig die voorraadvlakke vir petrol en diesel het verbeter sedert die Covid-19-inperkingmaatreëls verslap is.
Ingevoerde brandstofprodukte het intussen ook in die Durbanse hawe aangekom wat binne 14 dae met die pypleiding na die binneland versprei sou word.
Sapia sê hy monitor die situasie voortdurend, en reken voorraadvlakke reg oor die land sal binnekort stabiliseer omdat meer raffinaderye nou op dreef is en brandstof produseer.
NIE NET DIESEL
Mnr. Lourens van der Linde, ’n boer van Wesselsbron wat Landbouweekblad vroeër uit desperaatheid oor die situasie gekontak het, sê sake is nog ver van normaal. Hy het in die tweede week van Junie 3 000 ha witmielies begin stroop en het ook ’n meule wat meel aan die Pick n Pay-winkelgroep verskaf.
Volgens Van der Linde kon hy 4 000 liter diesel kry nadat hy voorheen weens die rantsoenering tot 1 000 liter op ’n slag beperk was. Vir die stropery en die vervoer van meel het hy nou sowat 23 000 liter diesel per week nodig.
“Die onverwagse reën (die eerste week van Junie) het die stropery bietjie vertraag, maar nou wil ons volstoom voortgaan en ons het meer diesel nodig.”
Hy sê daar is ook ’n tekort aan huishoudelike paraffien. Bakkiehandelaars en inwoners staan tou by die koöperasie op Wesselsbron om paraffien te probeer koop.
Mnr. Kevin Mileham, die DA se skaduminister vir minerale en energie, sê hy is bekommerd oor die stilswye van mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, sy departement en die parlement oor die voortslepende dieseltekort. Volgens hom word Gauteng nou die ergste geraak met talle groot- en kleinhandelaars wat geen voorraad het nie en ook sukkel om dit te kry.
VERDUIDELIKING
Die DA het vir ’n dringende vergadering gevra sodat die regering kan verduidelik wat gedoen word om die krisis op te los, maar wag nog op reaksie.
“Ondanks die versekering dat die beskikbaarheid van diesel einde Mei normaal sou wees, lyk dit of die situasie vererger ten koste van die landbou- en mynboubedryf. Mantashe en die hoofde van raffinaderye is Suid-Afrikaners ’n verduideliking verskuldig oor die werklike stand van sake en wanneer voorraadvlakke weer normaal sal wees.”
DEPRESSIE
Die voedselnood wat mense ervaar, het ’n nadelige uitwerking op hul gemoedstoestand.
Ask Afrika het bevind dat honger volwassenes se kans om tekens van depressie te toon, dubbel so groot is as diegene wat voedselsekerheid geniet.
Net minder as ’n derde van mense wat nie genoeg kos gehad het nie, is depressief en 26% het tekens van angstigheid getoon.
In die vorige week se opname het dit geblyk dat respondente meer bekommerd was oor ’n verlies aan inkomste as dat hulle Covid-19 sou opdoen.
Begin Junie het 40% van die reshulpbronne
pondente gesê hulle is ekonomies slegter daaraan toe as voor die inperking. Altesaam 77% bestee hul geld nou versigtiger.
BEKOSTIGBAARHEID
Luidens ’n verslag van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) oor die bekostigbaarheid van voedsel vir lae-inkomstehuishoudings gedurende die Covid-19-pandemie, is dit weens dalende inkomste baie waarskynlik dat nóg minder mense ’n spaarsamige mandjie van gesonde kos kan bekostig.
Dié mandjie se produkte is deur die BFAP bepaal. Voor die pandemie kon die 50% armste mense in
Suid-Afrika reeds nie die mandjie bekostig nie.
Luidens dié verslag, wat deur navorsers van die BFAP, die Universiteit van Pretoria, die Nasionale Landboubemarkingsraad en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling saamgestel is, het 15,4% van mense in die sesde week van die inperking gesê hulle het geen inkomste nie, en 7% het gesê dat hulle honger ly. Voor die inperking was dié groepe onderskeidelik 5,2% en 4,3%.
Mense bestee minder aan kos om die druk op hul inkomste te verlig. Die navorsers sê dit kan daartoe lei dat mense te min energie
inneem of te min verskeidenheid in hul dieet het.
Die koste van die spaarsamige mandjie, opgestel vir ’n gesin van vier (twee volwassenes en twee kinders), was in April vanjaar R2 675. Dit was R83 (3,2%) duurder as in April 2019, maar 0,7% goedkoper as in Maart 2020.
Van die kleinhandelspryse vir die mandjie is egter weens die inperking aanlyn verkry en nie in winkels self nie, wat die vergelykbaarheid met verlede jaar se syfers kon beïnvloed het.
VOORUITSIGTE
Die navorsers sê daar is groot onsekerheid oor die rigting waarin
kospryse in die komende maande gaan beweeg. Sleutelfaktore wat ’n uitwerking kan hê, is die wisselkoers en oliepryse namate inperkings in ander dele van die wêreld verlig word.
Die onlangse versterking van die rand kan kostedruk demp, maar kostedruk sal na verwagting steeds in voedselwaardekettings sigbaar wees.
“Die mate waartoe dié faktore pryse hoër kan aandryf, hang af van die verbruiker se vermoë om dit te absorbeer, wat (volgens syfers oor mense se daling in inkomste) in die afsienbare tyd beperk blyk te wees,” luidens die verslag.