KAAPSTAD BELÊ MILJOENE IN PHILIPPI
STAD KAAPSTAD se burgemeesterskomitee het onlangs sy direktoraat vir ruimtelike beplanning en omgewing opdrag gegee om ooreenkomste aan te gaan wat ’n belegging van R40 miljoen in die Philippi-landbouknooppuntprojek tot gevolg sal hê.
Die doel van die projek is om klein en mediumgroot stadsboerderye te vernuwe, opleiding te bied en werkgeleenthede in Philippi te skep. Philippi is een van die voorstede in Kaapstad met die laagste maandelikse huishoudelike inkomste.
Me. Marian Nieuwoudt, ’n raadslid, sê die belegging is veral nou nodig aangesien die produksie van vars produkte tans ’n prioriteit vir die munisipaliteit is. Vars produkte is noodsaaklik vir die gesondheid én bestaan van gemeenskappe in Philippi.
Hangende die stadsraad se goedkeuring sal die direktoraat ooreenkomste aangaan met die Philippi Ekonomiese Ontwikkelingsinisiatief, asook met die nasionale tesourie om die oordrag van geld aan Stad Kaapstad vir die Philippi-landbouknooppuntprojek moontlik te maak.
POTENSIAAL
Nieuwoudt sê Philippi het beduidende potensiaal vir ekonomiese ontwikkeling aangesien dit ’n gevestigde nywerheidsgebied is.
“Dit bied ook geleenthede vir stadsboerderye en die verwerking van landbouprodukte. Die grootste kwessie is om hierdie potensiaal te ontsluit en om dít te doen, moet ons in Philippi belê,” sê Nieuwoudt.
Sy sê die R40 miljoen-belegging sal gebruik word om Philippi se varsproduktemark-kompleks in ’n verbeterde landbouknooppuntprojek te omskep.
“Buiten dat dit die kompleks se verwerkingskapasiteit sal verhoog, sal dit ook goed vir die omgewing wees aangesien afval van die stortingsterrein na die knooppunt se komposaanleg gestuur sal word.
“Ek vertrou dat die stadsraad die potensiaal van hierdie projek vir Philippi en die plaaslike inwoners, boere en sakegemeenskap sal raaksien.”