Skeerspan benut geleenthede
’n Nuwe skeerspan in die Overberg wys watter goeie geleenthede daar nog in die landbou vir jong entrepreneurs is. Dit is veral as hulle die bedryf ken en nie terugdeins vir harde werk nie.
Al was daar miljoene skape wat geskeer moes word, het honderde skaapskeerders die hele April by die huis gesit en wag op ’n verslapping van die Covid-19-inperkingsregulasies. Dit was ’n groot verligting toe hulle van 1 Mei af weer kon inval, sê mnr. Michael Scott, eienaar van Scott Shearing Services op Napier.
Gelukkig woon Scott en sy span in die Overberg, ’n gebied met een van die grootste konsentrasies wolskape in Suid-Afrika. Met skeerders van Lesotho wat in die bergkoninkryk gestrand was, was daar heelwat nuwe geleenthede vir Scott en sy span.
Tydens Landbouweekblad se besoek in
Mei was hulle druk besig om by mnr. Jacques Neethling van die plaas Verfheuwel te skeer. Scott en die ander skeerders in die span, mnre. Dumisani Mankayi en Raphael Sitleketleke, kan minstens 400 skape per dag skeer aan die begin van die seisoen, en tot 600 skape per dag as hulle baie fiks is.
ONDERVINDING
Scott het op sy familie se plaas by Tarkastad in die Oos-Kaap grootgeword. Hy het daar geleer skeer en hier en daar ’n paar skape geskeer. Toe hulle later die plaas verkoop het, het hy heeltyds begin skeer. Van einde Oktober 2015 was hy in diens van DG Snyman Skeerdiens van Philippolis in die Vrystaat.
Hy het tot einde 2016 daar geskeer en begin 2017 vir drie maande Nieu-Seeland toe
gegaan. “Ek wou meer ondervinding opdoen en soveel moontlik leer.”
Terug in Suid-Afrika het hy ’n paar maande lank vir BKB in die Overberg geskeer om die gebied beter te leer ken. In 2018 het hy Scott Shearing Services begin en is stadig maar seker besig om sy klantebasis te vergroot.
Scott het Napier toe getrek om by dr. Odette Scott-Curtis, direkteur van die Overberg Renosterveld-bewaringstrust en deesdae sy vrou, te wees. Hy was op die regte plek om ’n skeerdiens te begin – die Overberg het immers groot getalle skape in ’n relatief klein gebied.
Boonop het iemand eenkeer vir hom gesê as hy genoeg geld gehad het, die Overberg die
beste plek sou wees om ’n skeerspan te begin.
“Hier is so baie skape op kort afstande van mekaar, ’n mens moet net ’n voet in die deur kry.”
Dit verg tyd en werk om ’n klantebasis te bou. Die toerusting, soos skeer- en slypmasjiene, is baie duur. Dit het amper drie jaar gekos om sy huidige klante te kry, en hy moet steeds werk om meer boere op sy boeke te kry. “Dit is moeilik om as ’n onbekende in ’n nuwe gebied in te kom en jou pad oop te werk. Dit is taai, maar jy moet net vasbyt. Op die ou end kry jy dit reg.”
Scott het deur die bostelegraaf van mnre. Dumisani Mankayi en Raphael Sitleketleke, die ander skeerders in sy span, te hore gekom. Hulle woon op Caledon, maar kom oorspronklik van Sterkspruit.
Scott het hulle aangestel omdat hulle netjies skeer, iets wat vir hom baie belangrik is. “Jy kan vinnig skeer as jy wil, maar jy moet netjies skeer.”
Hy sê ’n boer sal hulle in elk geval nie weer gebruik as hulle te veel dubbel skeer, te veel skape raakskeer of die diere verkeerd hanteer nie.
Daar is ’n geleentheid om feitlik die hele jaar te skeer, maar met plant- en oestyd in die Overberg kom die skeerdery dikwels tot stilstand. Scott sê as hulle egter vir tien maande van die jaar kan skeer, gaan dit goed.
SÓ MOET PLATFORM LYK
Die meeste skeerskure op Overbergse plase is reg ingerig, iets wat baie belangrik vir skeerders is om soveel skape so netjies moontlik per dag te skeer.
“Die uitleg van die skeerplatform maak ’n groot verskil aan hoe gemaklik en doeltreffend ons skeer. Dit is veral belangrik dat die skape wat geskeer moet word, op die dieselfde vlak en so naby moontlik, sowat twee treë, van die skeerder af is.”
Die paar meter verskil tussen ’n platform wat reg ingerig is en een wat nie is nie, kan veroorsaak dat skeerders elke dag letterlik tonne vleis (skape wat geskeer moet word) moet sleep.
“As jy 100 skape wat 50 kg weeg 10 meter van die vangkraal af moet sleep, sal jy teen die einde van die dag 5 ton vleis vir 1 kilometer gedra het.”
Hulle werk in vier skofte van twee uur elk en enigiets wat hul las ligter kan maak, help. “Elke sekonde tel, dit kos gemiddeld twee minute om ’n skaap te skeer, maar dit duur baie langer as jy verder moet loop om ’n skaap te gaan haal.”
Scott sê skeerders moet fiks wees en hul koppe moet sterk en reg ingestel wees. Aangesien skeerders nie juis volop is nie, behoort alles gedoen te word om dit vir hulle maklik te maak om te skeer en jong mense anders na die beroep te laat kyk.
BETER GERIEWE HELP
Mnr. Izak Klopper, bestuurder van skeerderopleiding by die NWKV, sê die eintlike probleem is dat baie skeerders nie doeltreffend genoeg is nie. “Ek dink nie ons het te min skeerders nie, ons het eerder te min produktiewe werkure. Ek dink ons skeerders word nie ekonomies gebruik nie.”
As gevolg van swak beplanning en ontoereikende skeergeriewe gebeur dit volgens hom dikwels dat ’n skeerspan net vyf uur
per dag werk. “Boere se geriewe moet só opgestel wees dat dit die skeerders help om produktief te wees en nie te veel energie vermors om skape uit die vangkraal te sleep, pleks van om te skeer nie.”
Hy sê dit help as skeertyd só beplan word dat skeerders 07:30 begin en 17:30 klaarmaak en in daardie tyd vier skofte van twee uur elk skeer.
“Dan weet die skeerder hy moet sorg dat sy toerusting reg is. Hy is ook reg ingestel, want hy weet ná elke twee uur kan hy rus. Só kry ’n mens die getalle deurgewerk.”
Klopper reken private skeerspanne is die toekoms van die skeerbedryf. “Dit is net makliker as jy klein begin om ’n program uit te werk sodat jou span elf maande van die jaar skeer. Die oomblik wat jy nie al die werk met die span kan baasraak nie, begin jy ’n tweede span.”
Klopper meen organisasies met honderde skeerders kan nie die skeerders so doeltreffend bestuur nie. Hy meen kleiner kontrakteurs kan ook beter met vee-eienaars kommunikeer. Dit is vir klein kontrakteurs wat hul skeerders goed bestuur en verseker dat hulle deur goeie bestuur goeie geld verdien, moontlik om mettertyd hul skeerders te kies.
“As jy ’n skeerkontrakteur is wat jou spanne heeltyd besig hou sodat hulle met meer geld huis toe gaan, sal die goeie skeerders toustaan om by jou te werk.”
Klein kontrakteurs wat in ’n spesifieke gebied werk, se skeerders en wolwerkers hoef ook nie vir sulke lang tye van die huis af weg te wees nie.
UITPUTTENDE WERK
Die lekkerste ding van skeer, is dat jy fiks bly terwyl jy werk, meen Scott.
Die NWKV se tydskrif Wolboer skryf in 2016 skaapskeer is waarskynlik “die mees fisieke werk op aarde” en die inspanning waaraan skeerders se liggaam onderwerp word, is groter as dié van ultramarathonatlete.
Mnr. Dwayne Black, ’n skeerkampioen van Wes-Australië, het in April 2005 ’n wêreld-skeerrekord opgestel toe hy 513 Merino’s binne nege uur geskeer het. Volgens die metings wat navorsers van die Universiteit van Wes-Australië tydens die rekordpoging gedoen het, was sy gewigs- en vloeistofverlies drie keer meer as dié van ’n elite-ultramarathonatleet.
Scott sê skeerders behoort fiks te bly as hulle nie skeer nie, maar dit gebeur nie altyd nie. “As dit weer skeertyd is, is die eerste tien skape maklik om te skeer as gevolg van spiergeheue, maar daarna raak dit moeilik. Soos jy aangaan, word dit beter. As jou liggaam weer by die harde werk aangepas het, is skeer groot pret.”
Skeertegniek is ook baie belangrik. “Hoe beter jou tegniek, hoe makliker skeer jy en hoe minder moeite word dit.”
NIE GENOEG SKEERDERS
Baie van die mense wat in Suid-Afrika skeer, kom van Lesotho af. Daar is nie genoeg Suid-Afrikaanse skeerders nie, en sekere tye van die jaar gaan dit baie druk.
Die meeste skeerders in Suid-Afrika beland in die bedryf wanneer hulle in en rondom skeerskure is. Baie skeerders begin as wolwerkers en leer dan om te skeer. “Een van my skeerders, Sitleketleke, was ’n Springbokkopklasser voordat hy geleer skeer het,” sê Scott.
Scott het ’n volle span wat drie skeerders, ’n wolklasser, ’n stukkieswerker en ’n wolgooier insluit. Aangesien hy in die verlede plase vir ander boere bestuur het, het hy al hierdie soort werk gedoen. Hy ken die hele proses, maar verkies om te skeer.
Al die skeerders in sy span het kursusse bygewoon en neem aan skeerkompetisies deel. In vanjaar se streekkompetisie het Mankayi ’n derde plek behaal en Sitleketleke ’n vyfde plek. Die nasionale kompetisie wat einde April sou plaasvind, is weens Covid-19 afgestel.
BYKOMENDE inligting: www.skillsone.com.au/ dwayne-black-champion-sheep-shearer
‘Hoe beter jou skeertegniek, hoe makliker skeer jy en hoe minder moeite word dit.’