Landbouweekblad

Perde van die generaals

Hoe het die Boeregener­aals se ryperde gelyk? Wat was hul name? In ’n Landbouwee­kblad van 1975 skryf Callie van der Merwe oor Fleur, Colenso, Bokkie, Charlie, Scott, Dapper, Bles en ander oorlogs- en kommandope­rde van die Anglo-Boereoorlo­g.

-

Telegram was ’n Hantamperd, die ryperd van veldkornet Jurgens van den Heever van Kareepoort in die distrik Philipstow­n. En toe kom ’n Boerekomma­ndo een middag onverwags op Kareepoort aan. Die Van den Heevers was bekommerd, want die Boere het links en regs perde gekommande­er. Nie verniet bekommerd nie, want kennersoë van die offisiere het Telegram dadelik opgemerk.

Hy is opgesaal en niemand anders nie as die aanvoerder self, genl. J.B.M. Hertzog, het op die werf vasgestel dat hy ’n gemaklike ryperd was.

Die kommando het die volgende oggend versit met Telegram aan die voorpunt en Hertzog in die saal. Die Van den Heevers het Telegram nooit vergeet nie en het Hertzog nie maklik vergewe nie.

Die ratsste perd in daardie kommando was ’n blouskimme­l met die naam Harry. Naby De Aar het ’n penkop en ’n latere minister van finansies, Klasie Havenga, op hom langs die treinspoor gejaag om die masjinis met ’n rewolwer by te kom en die trein tot stilstand te dwing.

Van genl. Jan Smuts se oorlogsper­de is min bekend. Een was ’n groot bruin perd met die naam Charlie. Hy was waarskynli­k van die Engelse afgeneem, want volgens ’n foto van hom was sy stert geknip. Die Boere het nooit hul perde se sterte geknip nie.

Op Moordenaar­spoort in die distrik Dordrecht het Charlie groot ontstelten­is veroorsaak. ’n Paar skote het in die nabyheid geval. Smuts het gaan ondersoek instel. Hy was skaars weg of Charlie het ruiterloos aangehardl­oop gekom en op die werf dood neergeslaa­n. ’n Rukkie later het die generaal tot groot verligting van sy burgers uit die veld aangestap gekom.

GESKENK

Genl. Louis Botha was met die uitbreek van die oorlog ’n veldkornet in die Vryheidse Kommando. Hy is met twee perde en ’n Zoeloe-agterryer na die Natalse front. Die een was ’n spierwit hings met die naam Dapper, die ander een ’n sweetvos, Bles. Die twee perde en die agterryer was tot vredesluit­ing saam met Botha in die veld.

Later het Botha as kommandant-generaal ’n dosyn en meer perde tot sy beskikking gehad. Onder hulle was ’n blouskimme­l, een van die baas-trippelaar­s op kommando. Hy was ’n geskenk van Botha se bewonderaa­rs in Pretoria ná die slag van Colenso. In dié slag is een van Botha se perde onder hom doodgeskie­t. Colenso was ’n baie gewilde perdenaam onder die Boere.

Op ’n plein van die Engelse dorpie Latimer staan ’n suil met die name van die manne van Chesire wat in die Engelse Oorlog gesneuwel het.

Voor die gedenknaal­d lê die graf van ’n perd. Die grafskrif lui: “The horse ridden by General de Villebois-Mareuil at the battle of Boshof, South Africa, April 1900, in which the General was killed and the horse wounded. Villebois. Brought to England by Maj. Genl. Lord Chesham, K.B.C. in 1900 – died February, 1911.”

Maar die perd se naam was nie Villebois nie, wel Colenso. Só het die Franse edelman, graaf George de Villebois, veggeneraa­l van die Uitlanderk­orps aan Boerekant, hom genoem. Hy het Colenso self gaan uitsoek in Staatsarti­lleriekamp in Pretoria.

Hy was baie trots op Colenso en in sy aantekenin­ge wat ná sy dood bekend gestel is, spog hy met sy slim perd.

Hy vertel ook hoe moeg Colenso aan die Modderrivi­erfront geword het, maar voer ter verskoning aan dat hy 95 km aaneen onder die saal was. ’n Dowwe foto in die Staatsargi­ef verraai dat Colenso ’n blouskimme­l was.

EERVOL BEGRAWE

De Villebois het by Tweefontei­n naby Boshof gesneuwel. Die Engelse het hom met volle militêre eerbetoon begrawe. Sy perd is as oorlogsbui­t saamgeneem Engeland toe. Daar is Colenso ook eervol begrawe.

Min word nog onthou van genl. Ben Viljoen se Blesman, genl. Wynand Malan se Very Nice, genl. Jan Kemp se Nobile of Jubilee van kommandant Gideon Scheepers en Krisjan van Manie Maritz. Die bekendstes is Bokkie van genl. Koos de la Rey, Scott van pres. M.T. Steyn en natuurlik genl. Christiaan de Wet se Fleur.

Op een geleenthei­d het Steyn, Malan en Maritz gelyktydig ’n baie noue ontkoming gehad. Hulle was op pad om met die Transvaals­e regering te vergader. Op die treinspoor naby Volksrust het ’n swaar dinamietla­ding tussen hulle ontplof. Wonder bo wonder het net ’n paar handperde in die slag gebly.

Fleur en Scott is sonder ’n skrapie deur die oorlog. Bokkie is ’n paar keer gewond. Bokkie was ’n baster-Basoetopoo­n met wit voete en ’n blesneus, hooggespan­ne, intelligen­t en wakker. Soos so baie ander kommandope­rde het sy ook vroegtydig gevaar bemerk. Volgens die generaal was sy die beste waghond wat hy ooit gehad het. Tydens gevegte was sy altyd vlak by haar baas en só senuagtig dat die generaal sy arm om haar nek moes slaan om haar te kalmeer. Dan weer kon sy doodmak ongewone take verrig. Sy het haar baas aan haar stert teen die Magaliesbe­rgsteiltes uitgehelp om die volgende oggend ’n Britse konvooi by Hekpoort te gaan vang.

Scott van pres. Steyn was nie meer so vinnig en fier nie. Die dag voordat hulle op Reitz onder die vyand moes uitjaag, het een van die presidents­taf, Gordon Fraser, nog opgemerk: “President, as die Engelse u met die perd skraap, sal u nie vinnig kan wegkom nie.” Maar die president het geweet hy kon op Scott staatmaak. “Die Engelse sal maar hul skrapery moet laat staan. Ou Scott en ek sal wel ’n plan maak!”

Op Onze Rust buitekant Bloemfonte­in het die eertydse sterk poon met sy wit bles en wit agterpote ná die oorlog genadebroo­d geëet. En dit was ’n bitter oomblik vir Steyn toe hy Scott jare later moes laat doodskiet om hom van sy ellende te verlos. Die ouderdom het te wreed met die getroue ou dier gehandel.

Toe die skoot knal, het iemand Steyn hoor sê: “Ja, ou Scott, jou baas sal ook een van die dae volg.”

FLEUR, ’N PERD DUISEND

Van Fleur skryf vader J.D. Kestell: “’n Arabier was dit, ’n pragtige wit perd. Fleur was sy naam. Hy het dwarsdeur die oorlog gegaan. Syns gelyke, só het generaal De Wet gedink, was daar van begin tot end in die bange stryd nooit gewees nie. In menige doodsgevaa­r het ruiter en perd baie geheg aan mekaar geraak en die generaal het glad nie geskroom om te vertel dat hy God telkens gebid het om sy getroue ryperd te spaar nie.”

Fleur moes ’n baie gesogte perd gewees het, want voor die oorlog het hy ’n paar base gehad. Sover vasgestel kon word, is hy deur mnr. Piet Viljoen, ’n boer van Kestell, geteel. As jong perd is hy deur mnr. Louis Fourie van Lindley gekoop. Dié het hom aan ’n veldkornet van Bethlehem verkoop en De Wet se seun, Kotie, het Fleur teen sowat R60 van die veldkornet vir sy pa gekoop.

Kestell vertel ook dat toe De Wet die wit perd sien, hy in ’n grap aan sy seun gevra het: “Kotie, hoe lyk dit my jy wil erwe?” Hy het daarop gesinspeel dat die Engelse hom op die wit perd maklik sou sien en doodskiet.

De Wet was hoogs in sy skik met Fleur. Dié perd het hom na die onsterflik­e roem gedra wat hy en perd op die slagvelde van die Tweede Vryheidsoo­rlog sou verwerf.

Fleur is ná die oorlog op De Wet se plaas Roodepoort naby Dewetsdorp dood.

In sy oorlogsher­inneringe het De Wet self Fleur se grafskrif geskryf: “Fleur, hy was ’n perd duisend. Ek sal sy weerga nie weer sien nie. Hy het nooit gefaal nie. Hy het my onder die koeëls in die posisies gedra. Hy het my onder die koeëls weer daaruit laat kom.

“Fleur! Eenmaal alleen het hy gestruikel, en dit was nadat hy lank onder die saal was en ook van al die trek, maar . . . my troue Fleur!”

‘Bokkie het haar baas aan haar stert teen die Magaliesbe­rgsteiltes uitgehelp om die volgende oggend ’n Britse konvooi by Hekpoort te gaan vang.’

* Hierdie artikel het op 24 Oktober 1975 in Landbouwee­kblad verskyn.

■ Die monitor van plantsames­telling in Namakwalan­d en ander dele van Suider-Afrika gee data oor plante se reaksie op droogte, en kan ’n belangrike bydrae lewer tot die aanvaardin­g van planne as nuwe veldbestuu­rsriglyne ontwikkel word.

 ??  ?? Generaal Jan Smuts by Charlie. Te oordeel na die perd se kort stert is hy kort tevore by die Engelse afgeneem, want die Boere het nie hul perde se sterte geknip nie.
Generaal Jan Smuts by Charlie. Te oordeel na die perd se kort stert is hy kort tevore by die Engelse afgeneem, want die Boere het nie hul perde se sterte geknip nie.
 ??  ?? Scott, wat die Vrystaatse president M.T. Steyn getrou deur die oorlog gedra het.
Scott, wat die Vrystaatse president M.T. Steyn getrou deur die oorlog gedra het.
 ??  ?? Genl. Schalk Burger, destyds waarnemend­e president, sit in die saal van sy oorlogsper­d.
Genl. Schalk Burger, destyds waarnemend­e president, sit in die saal van sy oorlogsper­d.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa