VERKYKER VIR ALLE VOËLKYKERS
Die joernalis Bun Booyens het onlangs tereg in rubriek op geskryf: “In die inperkingstyd is almal skielik groot voëlkykers.”
Die tyd sal leer hoeveel mense regtig deur die gogga gebyt is, maar met ’n goeie verkyker byderhand is dit soveel aangenamer om die geveerdes dop te hou en die natuurlewe te geniet.
Hoewel Lynks se verkykers volgens die maatskappy se spesifikasies in Japan vervaardig word, is dit ’n Trots Suid-Afrikaanshandelsnaam met ’n lewenslange waarborg op sy produkte. Dit is dalk nie die nuutste verkykers op die mark nie, maar net die regte plaaslike produk vir ’n nuwe stokperdjie.
Die 46-reeks is rateltaai en bied waterdigte dakprisma-verkykers. Oogdoppies kan op of af verstel word sodat ’n mens ewe gemaklik sonder of met ’n bril deur die verkyker kan kyk.
Die 46-842 is net reg vir tuinvoëls en selfs daardie vakansie by die Isimangaliso-vleilandpark in KwaZulu-Natal (wanneer jy weer mag reis). Die lense van 42 mm maak genoeg lig bymekaar om teen sterk skemer te kan onderskei tussen ’n Knysna- en ’n Mosambiekse loerie.
Teen 650 g sal jy net mooi genoeg oefening inkry wanneer jy die verkyker saamneem op jou oggenden aandwandeling.
PRYS: R4 799.