KOMMUNALE BOERE KAN GROEIENDE STEDE HELP VOED
Eiendoms- en besitreg in kommunale grondgebiede moet aandag kry sodat dié boere kan deel raak van formele verskaffingskettings om kos te voorsien aan stede wat al hoe groter word.
Na verwagting sal oor die volgende 15 jaar van 12 miljoen tot 14 miljoen mense in Suid-Afrika na stede trek, het prof. Philippe Burger, pro-vise-kanselier vir armoede, ongelykheid en ekonomiese ontwikkeling aan die Universiteit van die Vrystaat, gesê. Hy het deelgeneem aan ’n webinaar oor wat die toekoms inhou ná die Covid-19-pandemie.
Volgens Burger sal die landbou ’n belangrike rol speel om dié stedelinge te voed en van hernieubare energie te voorsien. Een manier om dit reg te kry, is deur die kommunale grondgebiede reg te ruk.
“Sowat 30% van die bevolking leef nog daar. Suid-Afrika moet dié boere deel maak van moderne verskaffingskettings.”
PIETER SCHOEMAN skryf: Die boere wat nou Covid-19-staatshulp gekry het, produseer 1% van die land se voedsel. As dit van hulle afhang, gaan die stede honger ly. JACQUES JOUBERT skryf: Nee, hulle kan nie. As daar waterskaarste is, kan hulle nie natlei nie. Groot boere het daarvoor voorsiening gemaak. Baie van die “agterplaas-groenteboere” betaal nie eens vir watergebruik nie. Nee, dis gewoon wensdenkery.
DRIES VAN DER WALT skryf:
Dit is maar net weer ’n manier om “hulp” na bestaansboere (wat bykans geen bydrae tot voedselsekerheid lewer nie) te kanaliseer om vir die ANC stemme te koop.