DIE ANDER SÊ
DIE nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) wil die uitgediende metodologie wat hy gebruik om elektrisiteitspryse vas te stel, hersien ná twee hofbeslissings teen Eskom-tariefbesluite van Nersa wat kan lei tot hoër elektrisiteitskoste. Mnr. Nhlanhla Gumede, wat verantwoordelik is vir elektrisiteitsregulering by Nersa, sê hersiene modelle is nodig en “ons beweeg nie saam met die tye nie”.
Gumede sê modelle behoort bedryfsveranderinge te weerspieël, soos die groeiende gebruik van hernubare energie wat laer energiekoste het, maar wat gerugsteun moet word omdat dit nie konstant is nie. Dié balanseertoertjie bring bedryfsprobleme vir die kragnetwerk mee. ’n Ware weerspieëling van die koste en internasionale beste praktyk vereis dat die tarief die koste van die infrastruktuur wat die energie vervoer, en die koste van die energie self, skei.
Gumede sê die gesprek oor energie gaan al té lank oor die voorsiening van infrastruktuur en ’n noodsaak om meer kragsentrales te bou. Hy meen groter klem moet daarop val om krag teen behoorlike pryse te lewer vir verskillende soorte verbruikers.
Die elektrisiteit van gebruikers wat baie en konstante krag benodig, moet kom van basislading-aanlegte (base load plants), soos steenkoolkragsentrales. Die gebruik van duur dieselaanlegte, wat dikwels in bedryf is wanneer mense soggens opstaan of smiddae ná werk terugkeer huis toe, behoort vermy te word. Maniere moet gevind word om huishoudings aan te spoor om gasstowe en gasverwarmers te gebruik. Dít moet deur die reguleerder aangespoor word, omdat Eskom ’n belang het by die behoud van elektrisiteitsverkope.