Staat in duister oor hoe grondreg-wet gaan werk
VIR die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling om wysigings aan die Wet op die Opgradering van Grondbesit (Wet 112 van 1991), waarna algemeen verwys word as die “Ultra-wet”, betyds te finaliseer, sal insette daarvoor skriftelik gedoen moet word.
Onder normale omstandighede sou openbare verhore in die provinsies vir sulke insette nodig gewees het, maar dit is weens Covid-19-verwante inperkings nie moontlik nie.
Die Grondwethof het die departement aanvanklik tot 30 April vanjaar gegee om wysigings te finaliseer nadat die bestaande wet in 2018 ongrondwetlik bevind is omdat dit slegs mans as die hoof van ’n familie
erken en meebring dat grondbesitregte wat outomaties in eienaarskap omgeskakel word, slegs mans bevoordeel.
Die departement kon nie by dié sperdatum hou nie en het toe by die hof ’n verdere 12-maandeuitstel tot April 2021 gekry.
TOEPASSING
Talle aspekte van die toepassing van die wet is volgens mnr. Mdu Shabane, direkteur-generaal van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, nog onduidelik.
Hy sê dis moeilik om te bepaal hoeveel mense deur die wetgewing geraak sal word, en ook onmoontlik om met vertroue te sê of die departement die kapasiteit het om die wet toe te pas.
Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, moet ook nog bepaal of die administrasie van sekere aspekte op nasionale vlak gedoen moet word, en of sommige funksies daarvan na ander regeringsfere gedelegeer kan word.