Dié kultivar gee stukrag aan inmaakboontjies
IDie gewilde kultivar PAN 123 is ’n inmaakboontjie wat sy man kan staan. Hierdie kultivar toon goeie opbrengspotensiaal en danksy weerstand teen roes is dit ’n wydaangepaste kultivar. Dit is die voorkeur-kultivar op die oostelike Hoëveld, maar lewer ook uitstekende prestasie in al die vernaamste inmaakboonproduksiestreke.
n Suid-Afrika bied Pannar droëboonkultivars van ongeëwenaarde gehalte, wat hom ’n leier in die bedryf maak. PAN 123 is ’n klein wit inmaakboontjie wat in 2010 tot die kommersiële mark toegetree en geleidelik hierdie sektor van die mark oorheers het. Dit is die voorkeurinmaakboontjiekultivar op die Suid-Afrikaanse mark.
Boere wat hierdie boontjie produseer en inmaakondernemings wat die boontjies verwerk, verkies hierdie kultivar om verskillende redes.
Inmakers word aangedryf deur gehalte en opbrengs, maar vanuit ’n ander invalshoek as die boere wat die kultivar produseer.
Vertroue in die kultivar aan albei kante van die produksieketting dra by tot die boontjie se gewildheid oor ’n lang tydperk.
INMAAKBEDRYF
Teebus is ’n kultivar wat in die vroeë 1980’s ontwikkel is en die staatmaker waarop die Suid-Afrikaanse inmaakmark gebou is. Fabrieke en prosesse is geoptimaliseer volgens hierdie kultivar se eienskappe en dit was langer as 25 jaar die norm.
Hoewel inmakers deurgaans tevrede was met Teebus, het boere toenemend beter opbrengste nodig gehad om met ander gewasse in ’n wisselboustelsel mee te ding.
PAN 123 is met soortgelyke eienskappe as Teebus ontwikkel, terwyl die opbrengspotensiaal aansienlik verbeter is sonder om af te wyk van die inmaakeienskappe wat die norm in die inmaakbedryf geword het.
Vogopname, wat gereeld as ’n hidrasieverhouding tydens die inmaakproses gemeet word, is een van die aspekte wat inmaakopbrengs aandryf. Hoe meer water ’n boontjie in die inmaakproses absorbeer, hoe minder boontjies neem dit om ’n blikkie te vul.
Daar is egter ’n fyn balans tussen inmaakopbrengste en gehalte, omdat ’n hoë vogopname geassosieer word met ’n swak kookgehalte.
Boontjies moet vog absorbeer terwyl hulle ongeskonde bly en sonder om pap te word tydens die kookproses of om stysels in die sous te laat uitloog, wat veroorsaak dat dit in klonte stol.
PAN 123 produseer ’n geblikte produk met deurlopende goeie gehalte. Die individuele boontjies in die sous bly ongeskonde en het ’n ferm gevoel in die mond wanneer dit geëet word.
PRODUKSIE
Boere stel in hierdie kultivar belang danksy die goeie opbrengsprestasie en agronomiese eienskappe. PAN 123 bevat ’n weerstandsgeen teen roes. Dit bied goeie weerstand teen roesstamme wêreldwyd en kan dus ook in ander lande verbou word.
Vir inmaakboontjiekultivars wat langer as die ander droëboontjietipes op die mark bly, is ’n breë weerstand teen roes veral belangrik. Dié kultivar se uitstekende roesweerstand het ook stabiliteit bygevoeg.
Wisselvalligheid in pitgrootte veroorsaak probleme tydens die inmaakproses.
Kultivars wat gevoelig is vir roes, het gereeld aan die einde van die seisoen nie swamdoderbeskerming nie en dit lei tot ’n groter variasie in pitgroottes. Dit is nie die enigste oorsaak van pitgroottevariasie nie, maar kan deur kultivarkeuse bekamp word.
’n Hele bedryf rus op PAN 123 se klein, gespierde skouers.
Wanneer jy weer klein wit ingelegde boontjies eet, kyk gerus na die gehalte van die boontjies en waardeer die gladde tekstuur van die sous.
As die boontjies ’n plaaslike produk is, en ek hoop verbruikers dring daarop aan, gaan hulle bes moontlik PAN 123 geniet.
Dr. Antony Jarvie van Podsquad (Edms.) Bpk. is ’n onafhanklike konsultant vir ondernemings van Corteva Agriscience™, waaronder Pannar Saad.