Só kan fynwol oral koning kraai
‘Toe ek begin boer het, het ek grootte nagejaag weens die onverdiende kleinskapiestigma wat aan fynwolskape gekoppel was.’
LIGGING: 1. Cradock en 2. Bedford, Oos-Kaap
NAAM: Fairworld
GROOTTE: Altesaam 8150ha+100ha besproeiing
EIENAARSKAP: Beslote korporasie
VERTAKKINGS: Merino’s, vleisbeeste, wild
VELDTIPE: Karoo,gebrokegrasvelden rooigrasveld
GEMIDDELDE REËNVAL: 340-400mm(Cradock) en450-600mm(Bedford)
In 2016 het mnr. Acton van Aardt van die Fairworld-boerdery die familieplaas by Kookhuis, met selfdrukbesproeiing en van die beste weidings denkbaar, verkoop nadat dit 219 jaar in die familie se besit was. Hy het verhuis na Mulberry Grove, ’n meer ekstensiewe plaas tussen Cradock en Middelburg. “Diefstal was iets verskrikliks. Enigiets is gesteel en geplunder. Permanente wagte is aangestel en skaaphalsbande het onophoudelik deur die nag gelui. Daar was geen rus vir siel en liggaam nie.”
Volgens Van Aardt het die fynwolskaap sy man gestaan en met die grootste gemak aangepas van meestal intensiewe besproeiingstoestande na meer ekstensiewe Karootoestande, te midde van een van die ergste droogtes in menseheugenis. “Dit bewys dat genetiese fynwolskape op enige plek in Suid-Afrika kan aard en aanpas. Dit was nie nodig om enige veranderings aan te bring ten opsigte van bouvorm of woltipe nie.
“Wanneer mense vertel fynwol werk nie by hulle nie, vra my pa (Willem) altyd: ‘Waar het jy die swak fynwolskape gekry wat nie op jou plaas aard nie?’ Die antwoord is voor die hand liggend – dit is nie genetiese fynwol nie, maar wel karakterlose sterkwol wat dan sommer fynwol genoem word.”
Fairworld se hoofvertakking op die Cradockplaas is fynwol-Merino’s, met die stoetery wat reeds in 1913 tot stand gekom het, saam met Bonsmaras en wild. Die jagafdeling is ’n integrale deel van die boerdery in die winter. Hulle het ook ’n plaas by Bedford waar hulle ekstensief met Merino’s, op klein skaal met Nguni’s en in goeie seisoene ingekoopte vetmaak-osse boer.
‘LÊ MEER KLEIM OP DIGTHEID EN GEHALTE’
Van Aardt het hom in 2003 by die boerdery aangesluit in ’n tydperk toe daar ’n oplewing was met die moderne Merino en ’n goeie vraag na fynwol. Twee jaar later het hy beheer van die stoetery by sy pa oorgeneem. “Toe ek begin boer het, het ek grootte nagejaag weens die onverdiende kleinskapiestigma wat aan fynwolskape gekoppel was.”
Dit het ’n paar jaar geduur voor hy besef het die “groot olifante” moet ver loop om hul pense vol te kry, en groter skape het op die oog af meestal net langer nekke en bene. Hy het ook besef hy moet eerder volgens kilogram per hektaar as koppe per hektaar boer. Deesdae klas die natuur sy ooie vir hom.
Hy glo daar is met die verloop van tyd te veel wol van skape afgevat en te min klem gelê op digtheid en gehalte van wol. In die
Fairworld het verskeie hoogtepunte bereik deur by twee geleenthede die Suid-Afrikaanse rekordprys vir ’n Merinoram te verbeter en een keer te ewenaar.
Barrier, ’n ongelooflike 14,2 mikronram wat 125 kg weeg, is teen ’n allemintige R250 000 verkoop. Danksy Barrier is sy kopers se skeersel met ongeveer 2 mikron verlaag sonder om gewig in te boet. Sy invloed het so wyd gestrek dat gemiddelde veilingspryse van ramme met ongeveer R2 000 gestyg het.
Barrier was ’n spesialiteitsram wat kort op die been was met uitstekende bouvorm en ’n breë rug.
Ná Barrier is Google, ’n indrukwekkende fynwolram van 17 mikron en 138 kg, vir R200 000 verkoop.
Die vraag na Google was só groot dat hy twee jaar later privaat vir R100 000 van die hand gesit is.
“Saam met prestasietoetse en Blup kon ons dit regkry om ’n skaap met fyner, swaarder en langer wol te teel waarvan die lammers vinniger bemark kan word.”
Aangesien boere deesdae ’n stoetram aankoop om eerder hul eie ramme vir hul kudde te teel, raak dit moeiliker om kudderamme te verkoop.
“Die probleem is egter dat jou genetiese vordering effens vertraag word aangesien die kudde slegs die helfte van die impak kry wanneer ’n selfgeteelde plaasram by die kudde gebruik word.”
afgelope paar seisoene was daar ’n merkbare vraag na ramme met goeie digtheid.
“Die wolkoper soek eenvormigheid en kwaliteit in wol en dit is wat hy in jou boks in die wolpakhuis wil sien.”
Die wol van ’n boer wat aandag skenk aan eienskappe soos mikron, treksterkte en skoonopbrengs, sal verkoop. Vir winsgewendheid moet dit gepaardgaan met lengte en vaggewig, en ’n wolkoper sal ’n premie betaal vir al dié eienskappe.
“Ons selekteer steeds vir dié eienskappe, maar deesdae meer vir die skaap wat vet kan bly, wat byvoorbeeld breër is oor die rug met goeie digtheid en die unieke Fairworld-tipe wol met die perfekte olie-waks-verhouding.”
Volgens Van Aardt is daar reeds die afgelope 107 jaar vir fynwol geteel, en is die kudde lank reeds geneties gestabiliseerd, “wat beteken die mikron blaas nie uit soos hulle ouer word nie”.
“Daar is ’n groot verskil tussen geneties gestabiliseerde fynwol, en honger- en lammerfynwol. By ’n geneties gestabiliseerde skeersel behoort daar nie ’n verskil te wees van meer as 1½ mikron tussen wissellammers en stokou ooie nie.”
Hy verduidelik jong skape se wol toets by veilings fyn, veral as dit droog is, en verkoop dan teen goeie pryse. Die volwasse skape se wol wat die meerderheid van die skeersel uitmaak, se mikron en pryse is egter dan ligjare verwyder van die wissellamwol se pryse.
WIL EIE HANDELSMERK SKEP
Die skaal speel ’n baie belangrike rol op Fairworld, en is ’n integrale deel van verskeie seleksieprosesse. “Om te meet is om te weet en jy kan net dinge verbeter as jy weet.”
Hy gebruik verskeie sagteware soos boerderybestuurtoepassings en Stamboek se Logix waarmee diere wat bogemiddeld presteer, geselekteer word en inligting oor diere se voorgeslagte en prestasiedata beskikbaar is.
“Ons het ’n spesiale tipe wol wat slegs by Fairworld en sy klante te kry is en sal graag ’n handelsmerk vir ons en ons klante wil skep, soos byvoorbeeld Pure Fairworld, wat ons tipe wol onderskei.”
Van Aardt gebruik slegs ramme met ’n 100% gemaksfaktor (CF), variasiekoëffisient (CV) van 13,5% en laer, en ’n standaardafwyking (SD) van 2,5% en laer.
Die wol word effens weg van die Deurden-standaard (die hoeveelheid kartels per 25 mm in verhouding tot die dikte van die vesel) geteel en hy selekteer vir ’n effens wyer kartel sodat die wol wat 17 mikron toets, meer lyk na ’n 18,5-19 mikron.
“Dit was ’n natuurlike proses wat gelei het tot verhoogde vaggewig en lengte ná 40 jaar se prestasietoetsing en Blup.”
NET DIE BESTE RAMME
Om die beste te maak van die teelmateriaal, word die beste ramme al vir meer as 100 jaar jaarliks vir die boerdery uitgehou. “Menige stoetboer het hul eie agteruitgang en ondergang bewerkstellig deur hul beste ramme te verkoop om posisie op veilings te behou en om ’n naam te probeer maak.”
Dit is ’n probleem om goeie teelmateriaal volgens sy vereistes te bekom. Hy kry egter wel ramme deur by sy eie stoetboer-klante se ramme, met ’n minimum van 50% van Fairworld se teelmateriaal, te gaan rondkrap.
“Ramme met ’n bietjie vreemde bloed vaar gewoonlik uitstekend by Fairworld. Dit is selde, behalwe vir ingevoerde materiaal, dat ek iets gebruik in my stoetery wat nie verwant is aan my eie skape nie,” sê Van Aardt.
“Die nageslag van dit waarmee ek kanse gewaag het, het meestal goed gedoen, maar ook soms by die slagpale beland.”
Van Aardt is baie optimisties oor saad wat hy in 2018 van Wanganella in Australië ingevoer het. Die skape van die Wanganellastoetery is ietwat groter en hoewel dit ’n mediumwolstoetery is, is die pa van die ram geteel uit die Charingastoetery, een van die fyner stoeterye in Australië.
Die besonderse stoetramme van dié spesifieke ram is uitgehou vir eie gebruik. Een van hierdie ramme, Pacemaker, gaan mense laat regop sit, sê Van Aardt.
Van Pacemaker se nageslag sal op die volgende Februarie-veiling beskikbaar wees, die stoetery se 33ste veiling.
Wanganella lewer gehalte-wol. Fairworld is natuurlik reeds baie jare bekend om dié eienskap, en dit pas dus goed by Fairworld in. Die ram het ook ’n goeie olie-waks-verhouding waarvoor daar al vir meer as 30 jaar in hul stoetery geselekteer word. Die Wanganella-nageslag skeer ’n natuurlike swaarder tipe wol as waaraan Suid-Afrika gewoond is. Van Aardt jaag dié eienskap na.
“Fairworld se mikpunt was om met die regte hulpmiddels die swaarste moontlike skaap met gemiddeld 17 mikron wol te teel.”
Hy noem met groot dankbaarheid dat hul veiling steeds een van die suksesvolstes in die bedryf is.
“Dit is moeilik om Australiese teelmateriaal te gebruik en dit verg kundigheid.” Hulle kon wel nog altyd met Australiese teelmateriaal skape produseer wat gepas is vir Suid-Afrikaanse toestande.
VELDSORG
en 76 dae voor die trop weer by die beginpunt uitkom. Die kampe is opgedeel volgens hul grootte en word beoordeel voor die skape daarin gejaag word, en skape word van 6 tot 16 dae in ’n kamp gehou.
“Op die Bedfordplaas word die stelsel reeds geruime tyd met groot sukses toegepas en was die ongekende herstel op ’n plaas wat vol belaai is, waar daar nie ’n enkele dier gedurende die droogte verkoop of gevoer is nie, ’n openbaring. Slegs ’n klompie Dormer-slagooie wat ontydig gelam het, is vir ’n kort rukkie met lekblokke gehelp.
Op Mulberry Grove het hy egter baie groot kampe geërf. Dit bemoeilik die bestuur van die stelsel. Hy kon in die afgelope drie jaar die aantal kampe van 13 tot 28 vermeerder, met doeltreffende kampe wat sowat 200 ha groot is. Die afgelope drie en ’n half jaar is meer as 50 km draad gespan.
Van Aardt gebruik ou landbouvoorligtingskaarte en landmeterkaarte om die kampe volgens veldtipes af te kamp.
BENADERING MET HAMELS
Een van sy beste boerderybesluite die afgelope paar jaar was om ’n hamelfaktor op die Bedfordplaas aan te bring. Goed geklasde hamels word slegs van ou Fairworld-ramklante aangekoop. Dié plaas funksioneer dus as ’n wolboerdery wat suiwer Fairworld-wol skeer.
Op Mulberry Grove word doeltreffende holistiese veldbestuur op moeiliker en afgeleë kampe met hamels toegepas, wat nie so streng soos ooie opgepas hoef te word nie. Die hamels is aanvanklik aangekoop, maar word nou jaarliks met sy eie hamels aangevul. Hulle word aangehou tot ’n goeie volbek/slyt-ouderdom waarna hulle geslag en vervang word met jonges.
“Met die goeie wolpryse van sowat twee jaar gelede het jy maklik R600 tot R700 van ’n hamel afgeskeer op agt maande en dit is uit en uit die moeite werd.”
DROOGTE
Die droogte wat sedert 2016 in die omgewing geheers het, was die taaiste stryd nóg in Van Aardt se boerderyloopbaan.
“Die moeilikste was om my kop reg te hou en nie na die doemprofete te luister wat daagliks vertel dat dit besig is om in ’n woestyn te ontaard en dat dinge nie vinnig sal verander nie, en om my eerder te bepaal by my vee wat my deur die droogte sal kry.
“As die fynwol-Merinoskaap ons familie vir meer as ’n eeu deur al die droogtes op ons grond gehou het, moes ek nooit vir ’n oomblik oor die toekoms getwyfel het nie.”
Met die droogte het hy geleer voeding en die diere se kondisie is baie belangrik. Dit word reggekry deur die regte lekke aan te koop of te meng en voedingskundiges te gebruik. Daarby is dit belangrik om te alle tye by die plaas se drakrag te bly aangesien herstel lank duur. “Diere wat nie in kondisie is nie, lewer min wol, het boepenslammers en vat swakker ram.”
Volgens Van Aardt word ’n goeie wolopbrengs verkry danksy voeding en deur te sorg dat diere in ’n goeie kondisie is.
“As die kondisie van jou skaap reg is, is jou skoonopbrengs ook hoër.”
Die pryse van wol en vleis wat oor die afgelope tyd baie wipplank gery het, tesame met stygende voerkoste het baie aanpassings van boere geverg. Met sy eie menger en verkorrelingsmasjien kon hy sy eie bestanddele benut om ’n beter produk teen ’n goedkoper prys te produseer. Die korrels word saamgestel uit lusern wat hy aanplant, en mielies wat hy koop. “Gelukkig is daar nog altyd ’n premie betaal vir goeie fynwol, wat gehelp het dat ons die grootste van die groot droogtes kon oorwin.”
Danksy ’n eenvoudige lamhokstelsel en ooie wat gesinchroniseer word om in ’n korter periode te lam, kan hy ’n optimale lammeroes kry wat hy goed kan versorg.
Deur die droogte kon hy op ekstensiewe en semi-intensiewe toestande steeds ’n speenpersentasie van 111 handhaaf.
Op die vorige plaas het hulle baie gemaklik gelam in kampies van 1 ha tot 2 ha. Met die meer ekstensiewe boerdery op Cradock gebruik hy DMS (dragtigemerrieserum) vir beter sinchronisasie sodat die ooie in korter periodes in lamhokke lam. Daarna word hulle op besproeiingsweiding gesit.
Tydens paring in Oktober word CIDRsponse, wat met die eerste paring in April gebruik is, mooi skoongemaak en ’n tweede keer by kuddeooie gebruik vir ’n massadekking met al sy stoetramme asook die hele Februarie-veilingspan.
“Nou hoef ek nie meer so baie kudderamme aan te hou nie en ek sit dus bogemidelde ramme by my kuddeooie wat vinnige genetiese vordering bied.”
Die stoetooie wat nie laparoskopies geïnsemineer word nie, word self geïnsemineer.
Volgens hom is die stoorlammermark ’n lekker faset wat ingekom het sedert hy in 2003 begin boer het.
“Ek kan vinnig van die res van my lammers ontslae raak nadat die mooistes uitgesoek is vir die hamel-aanvulling. Vroeër het ons die hamels laat groter word en dan op veeveilings verkoop. Nou verkoop ons ouer hamels én stoorlammers.”
Een van die kwessies op die nuwe plaas is om mooi wol te skeer. “Ons reën kom die afgelope drie jaar eers ná Kersfees en dan is die wêreld geneig tot baie steek-, klits- en wortelsaadgras.” Hy bekamp die gras met beeste en identifiseer die kampe met minder gras, maar weens die grootte van die kampe bly dit ’n probleem.
Skeertyd is elke agt maande, maar weens die saadfaktor moes Van Aardt vanjaar op sewe maande skeer.