Hou ons markte oop
Die Covid-19-pandemie het ’n vernietigende effek op Suid-Afrika se ekonomie. Verbruikers het egter steeds landbouprodukte nodig, al neem die vraag na ander produkte af. Ons moet dus alles moontlik doen om die landbou te beskerm.
STATISTIEKE SUID-AFRIKA het aangedui die land se ekonomiese groei het in die eerste kwartaal met 2% gedaal. Die mynboubedryf se groei het op ’n kwartaalgrondslag met 21,5% gedaal. Dié bedryf se bydrae tot ons ekonomiese groei was ’n negatiewe 1,7%, terwyl die landbou ’n positiewe bydrae van 0,5% gelewer het. Die landboubedryf het in die eerste kwartaal van 2020 uitstekende groei van 27,8% getoon.
Die primêre en sekondêre landboubedrywe is naas ertsuitvoer gesamentlik die grootste netto uitvoerbedryf in randwaarde. Terwyl die mynboubedryf se groei skerp gedaal het, het die primêre landboubedryf se groei skerp toegeneem. Die landbou is egter antisiklies. Verbruikers se vraag na landbouprodukte het dus nie tot dieselfde mate gedaal as die vraag na ander sektore se produkte tydens ’n resessie nie.
Volgens die Nasionale Landboubemarkingsraad het die plaaswaarde-aandeel van sekere landbouprodukte dienooreenkomstig toegeneem.Waar dalings voorgekom het, was dit nie so erg soos in die ander nie-landbousektore nie (sien die TABEL ).
Die sterk primêre landbousektor is ’n netto uitvoerder en ondersteun die vervaardigingsektore vir voedsel en drank.
Business Monitor International het ’n studie gedoen waarin aangedui word dat Suid-Afrika se bruto toegevoegde waarde vir die landbou hoër is as die gemiddelde vir landbou-uitvoerlande in die Suidelike Halfrond. Ons stof selfs vir Australië en Brasilië uit.
Let daarop dat Suid-Afrika se gemiddelde jaarlikse reënval op lang termyn afneem, maar dat graanproduksie oor tyd toeneem danksy die doeltreffendheid van ons produsente en hul toegang tot die beste insette wat wêreldwyd beskikbaar is. Ons gemiddelde jaarlikse reënval is ongeveer 480 mm teenoor die wêreldgemiddelde van byna 1 000 mm.
As ’n netto uitvoerland produseer Suid-Afrikaanse produsente voedsel vir die uitvoermark. Plaaslike verbruikers geniet die voordeel van voldoende voedsel teen uitvoerprysvlakke en produsente lewer ’n regstreekse bydrae tot voedselsekerheid.
Die Big Mac-indeks vir 2020 dui aan Suid-Afrika word uit sowat 57 lande beskou as die land waar die Big Mac die goedkoopste verkoopsprys het. Die toename in die bruto produksiewaarde vir rooivleis, koring en groente, wat met die voorbereiding van ’n Big Mac-hamburger gepaardgaan, toon ’n groeiende neiging wat normale ekonomiese groei ver verbysteek.
Die impak van die Covid-19pandemie en die nasionale inperking op die ekonomie en verkope in sommige sektore kan nie met die impak van ’n gewone resessie vergelyk word nie. Dit is ’n eiesoortige gebeurtenis.
Die GRAFIEK dui aan hoe verkope in Maart gelyk het. Die inkomste uit die verkope van voedsel en drank deur restaurante, koffiewinkels en kitskosplekke, asook spyseniers, het R72,2 miljard beloop vir die 12 maande tot einde Februarie 2020 voor die inperking einde Maart ingestel is. Die groei in hierdie bedryf was 6,4% op ’n jaargrondslag.
Volgens Statistieke Suid-Afrika het die inkomste vir restaurante en koffiewinkels in Maart 2020 met 31% gedaal vergeleke met Maart 2019. Die inkomste van kitskosplekke het met 21% gedaal, en dié van spyseniers het met 26% gedaal.
’n Sterk primêre landbousektor ondersteun die verwerkingsbedrywe vir voedsel en drank. Sonder ’n funksionele kleinhandelsektor word die afset van landbouprodukte egter beperk.
Die impak van iets soos die Covid-19-pandemie spoel oor na die vraag na sekere landbouprodukte. Die paniekverkope van voedsel in die kleinhandel-subsektore in Maart reflekteer nie in dié syfers nie. Die inkomste van hierdie bedryf vir April, Mei en Junie word ook nie gereflekteer nie. Hierdie subsektor, wat verskeie landbouprodukte benut, word dalk die felste getref omdat dit nie vir dié sektor moontlik is om by die veranderende omstandighede aan te pas nie.
Die opheffing van inperkings op hierdie subsektor is ook in belang van die landboubedryf. Dit is egter noodsaaklik dat verbruikers nie hul dissipline verslap om voorkomend op te tree nie. Kom ons moedig mekaar aan, dra ons maskers en was ons hande, en hou ons markte oop sodat ons teen die einde van die jaar suksesvol onder die inperkingsbevel kan uitbeweeg. Dit is in almal se belang.
Mnr. Wessel Lemmer is hoofbestuurder van AgbizGrain.