Die boodskap van die aanvullende begroting
Mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, het gesê Suid-Afrika se skuld is ons swak punt. Ons reusetaak is om die seekoei se bek toe te maak, want dit is besig om ons kinders se nalatenskap te verorber. Ons moet dit nóú stopsit, het hy gesê. Die vraag is egter hoe?
Suid-Afrika is in ’n spiraal van skuld vasgevang. Van elke rand wat ons aan belasting betaal, gaan 21 sent vir die betaling van rente op skuld uit ons verlede. Aan die begin van vanjaar was hierdie bedrag reeds gelyk aan wat ons as ’n land aan gesondheidsorg betaal.
Die nasionale tesourie verwag dat die ekonomie vanjaar met 7,2% gaan inkrimp. Dit verplaas ons ekonomie terug na 2012, behalwe dat ons nou 6,5 miljoen meer mense is as toe. Dit beteken dat 11% meer mense in 2020 dieselfde welvaart moet deel as wat ons in 2012 gehad het. Vroeë aanduidings is dat ons skuld einde vanjaar rondom R4 biljoen gaan wees. Dit is 81,8% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP).
Die ekonomiese ondersteuningspakket van R500 miljard wat pres. Cyril Ramaphosa vroeër aangekondig het, sluit R142 miljard in wat spesifiek aan Covid-19-uitgawes bestee sal word (dit sluit R3 miljard in om die Land Bank te herfinansier). R109 miljard hiervan sal gefinansier word deur ander uitgawes te verminder. Net R26 miljard sal dus in effek meer bestee word. Daarmee saam kom bykomende rente van R7,1 miljard.
Die grootste probleem is egter die verwoestende uitwerking op die ekonomie. Die gevolg is dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens
(SAID) verwag om R300 miljard minder in belasting in te samel. Die totale tekort vir die jaar spring dus derhalwe tot R761,7 miljard – oftewel 15,7% van die BBP. Dit is soos iemand wat R100 000 verdien en R115 700 vir die jaar uitgee.
Elke jaar neem die rente toe. Dus moet meer en meer geleen word totdat niemand meer bereid is om geld te leen nie en die hele kaartehuis in duie stort. Op 15 Junie het buitelanders ’n risikopremie van 5,2% vereis om in Suid-Afrika se skuld te belê. In Desember 2019 was dit 3,2%. Dit dui op beleggers se onsekerheid in die toekoms van Suid-Afrika. Hierdie onsekerheid verhoog die rente wat ons as land moet betaal.
DIE PAD VORENTOE
’n Bedrag van $7 miljard sal van die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds en die Nuwe asook die Afrika-ontwikkelingsbanke geleen word teen ’n lae rentekoers. Sowat R260 miljard sal in die ope mark geleen word teen ’n koers van sowat 11%.
Die nasionale tesourie het twee scenario’s geskets. In die eerste geval doen ons niks nie totdat die skuldspiraal buite beheer raak en Suid-Afrika vernietig is. In die tweede geval neem ons nou moeilike besluite en bring die skuld onder beheer. In hierdie scenario beoog die regering om in 2024 niks meer uit te gee as wat hy inkry nie. Uitgawes moet dus oor die volgende twee tot drie jaar met R230 miljard verminder word en R40 miljard meer moet in belasting verdien word.
Mnr. Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, het aangedui dat Suid-Afrikaners reeds die maksimum belasting betaal en dat die koerse nie verhoog kan word nie. Die SAID sal dus klem lê op internasionale belasting, georganiseerde misdaad, die gebruik van derdeparty-data om die akkuraatheid van belastingopnames te toets en die insameling van belasting wat reeds verskuldig is. Inligting oor moontlike addisionele belasting sal eers in Februarie 2021 verskaf word.
Suid-Afrika is nog nie oor die afgrond nie, maar ons is vinnig op pad daarheen. Naas korrupsie wat uitgeroei moet word, moet die reuse-burokrasie verklein word. Salarisse maak 35,4% van die regering se uitgawes uit – 40% meer as die internasionale standaard. 79,7c van elke rand wat die regering as belasting inwin, gaan vir rente op skuld en salarisse. Dit laat bitter min vir enigiets anders, soos die bou van infrastruktuur.
Mboweni se sukses sal dus daarvan afhang of hy daarin slaag om die staat se skuld en salarisrekening te verklein.
Adv. Ronald King is hoof van strategiese navorsing by PSG.