Trekkerstories: Gekookte boeke kelder Hanomag
Hanomag het tegnies gesproke gevorderde en van die beste produkte in Duitsland gemaak, maar is uiteindelik deur swak sakebesluite en kreatiewe boekhouding geruïneer.
In die 1830s was klein stoommasjiene en plaasgereedskap die eerste produkte uit Georg Egestorff se fabriek in Hannover in die noorde van Duitsland. Die stoommasjiene het groter geraak, later lokomotiewe. Teen die tyd toe die vervaardiging van dié produk sowat ’n eeu gelede stopgesit is, is duisende Hanomag-stoomlokomotiewe al wêreldwyd gelewer, ook aan Suid-Afrika vir gebruik op die destydse smalspoortrajekte.
Die fabrikaatnaam Hanomag is ’n akroniem afgelei van die naam wat in 1871 vir Egestorff se groeiende firma gekies is, naamlik die Hannoversche Maschinenbau AG.
Teen 1910 het die bestuur besef stoom se dae as aandrywing vir plaasmasjinerie en padgebruik was getel, en het hulle na die binnebrandmasjien begin oorskakel. In 1912 was hul eerste produk met ’n binnebrandenjin op die mark, ’n tipies Duitse “motorpflugh” van die tyd.
Tussen die twee Wêreldoorloë het Hanomag ook motors en vragmotors vervaardig. Van sy eerste motortjie tot die laaste is die jongste tegnologie van die tyd gebruik – dikwels Hanomag se eie ontwikkeling. In 1936 is ’n heel aantreklike dieselaangedrewe Hanomag Rekord met onafhanklike voorvering op die Berlynse motortentoonstelling uitgestal.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog was bykans die volle produksie op die Duitse oorlogspoging ingestel. Trekkers en voertuie is aangepas en nuwe produkte is ontwerp en vervaardig. Die arbeidsmag is met gedwonge arbeid verhoog en duisende voertuie is aan die weermag gelewer.
MASSEY-FERGUSON NEEM OOR
Ná die Tweede Wêreldoorlog is slegs vragvoertuie en trekkers vervaardig. Dié Hanomagprodukte was die beste bekend in Suid-Afrika. Die reusagtige Rheinstahl-groep was toe die eienaar van Hanomag, wat in daardie stadium die markleier vir dieseltrekkers in Duitsland was. Hanomag was egter ’n klein organisasie in al Rheinstahl se filiale en ná ’n paar jaar was dit duidelik dat die moedermaatskappy nie geneë was om kapitaal vir voortgesette ontwikkeling beskikbaar te stel nie. In 1971 is die laaste van die 250 000 Hanomagtrekkers vervaardig toe die trekkerfiliaal aan Massey-Ferguson verkoop is. Drie jaar later is die konstruksieafdeling ook aan Massey-Ferguson verkoop, maar die Hanomagnaam het bly voortbestaan.
Hanomag is in die 1950’s deur die nou reeds vergane Malcomess in Suid-Afrika versprei.
Versamelaars en kenners van dié fabrikaat is liries oor die Hanomag, veral die groter modelle, soos die R45, die R545 en die R545 Special, en die Robust-reeks, die 600, 800 en 900, wat die laastes was wat hier verkoop is. Die sterkste Hanomag wat vervaardig is, was die Robust 900 wat 85 perdekrag/62 Kw gelewer het. Wat die gebruiker veral aangetrek het, was die lae bedryfskoste van die trekker met sy 5,7 liter-vierslag-dieselenjin met die oorvloedige wringkrag en die uitstekende krag-tot-gewig-verhouding. Verder was die ewenaarslot en dubbele hidrouliese stelsel standaardtoerusting. Hoewel die groot Hanomags veral in die landbou en vir bouwerk gebruik is, het sommige boere die luukse van ’n driepuntstelsel gemis.
In Europa is Hanomag een van die gewildste trekkers onder versamelaars. Baie Suid-Afrikaners het ook ’n sagte plek vir hierdie geharde trekker. In die Wes-Kaap is ’n versamelaar wat trekkers van meer as 60 jaar oud uit sy versameling steeds vir dambou gebruik.
ENTREPRENEUR, OPPORTUNIS OF SKELM?
In 1980 het die entrepreneur Hans-Dieter Esch die naam Hanomag (toe nog net op grondverskuiwingsmasjinerie gebruik) by Massey-Ferguson gekoop. Hy het dadelik begin om ’n paar maatskappye met banklenings oor te neem, hul bedrywighede met dié van Hanomag te integreer, en daarin geslaag om die wêreld se derde grootste vervaardiger van boumasjinerie ná Caterpillar en Komatsu te vestig.
Aanvanklik het sy planne gewerk, maar teen 1983 het Esch se kaartehuis inmekaargetuimel en is bevind dat sy opportunistiese planne en beloftes geen kans op sukses gehad het nie.
Hy het die banklenings op sterkte van bekookte bestellingsboeke gekry. Esch se “kreatiewe” boekhouding is in die hof ontbloot en hy is tronkstraf opgelê.
Die volgende jaar is die maatskappy Hanomag gelikwideer, maar dit het bly voorbestaan as ’n “maatskappy in sakeredding”. Van 1988 af het Komatsu al hoe meer betrokke geraak by Hanomag. Vandag, 190 jaar ná Egestorff se begin, is die maatskappy bekend as Komatsu-Hanomag GmbH, ’n volle filiaalmaatskappy van Komatsu en steeds werksaam vanuit Hannover.
Hennie Richter van Yzerfontein is redakteur van die gereelde nuusbrief van SAVTEK, die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraantrekker-en-enjinklubs.
Vir navrae oor die prys, stuur epos aan