Hart tot hart
In ’n onlangse geselskap waaraan ek deel gehad het, wou iemand weet waarom God nie gouer ingryp wanneer een van Sy kinders in ’n krisis beland nie. Dit wil voorkom of die Psalmis ook met hierdie vraag geworstel het, want hy vra: “O Here, waarom staan U so ver weg en hou U verborge in tye van benoudheid?” (Ps.10:1).
Die vraag na God se sogenoemde afwesigheid is ’n ou vraag waarmee talle gelowiges al geworstel het. Iemand het hierop geantwoord: “Onthou, God skuld ons niks nie. Dit is ons wat vir Hom skuld en nie andersom nie.”
Toe ek later alleen met my gedagtes nabetraging gehou het, was ek nie so oortuig dat die vriend reg was toe hy gesê het dat God ons niks skuld nie. Ek het soos volg geredeneer: As God ons niks skuld nie, dan skuld Hy ons ook nie die vervulling van Sy beloftes nie – en dit kan tog nie waar wees nie. Die heerlike evangelie, die blye boodskap, stort in duie as God nie die waarmaker van sy Woord en belofte is nie.
Ja, God skuld ons iets – nie omdat ons dit volgens eie verdienste moet kry nie, maar omdat God Homself aan daardie skuld blootgestel het.
Dit is die onbegryplikheid van Sy genade.
Op Golgota het
Hy in Christus ons skuld vereffen. Wat Hy beloof het, het Hy betaal. Hy gaan nooit terug op sy Woord nie.
Die apostel Paulus skryf aan die Romeine: “Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik” (Rom. 11:29). In ’n latere vertaling (1979) klink dit soos volg: “As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.” Skuld God ons iets? Ja, Hy skuld ons die vervulling van Sy beloftes en dit het Hy sonder nalating gedoen. Só het Hy ’n rolmodel in skuldvereffening as voorbeeld gestel.
Die blye boodskap stort in duie as God nie die waarmaker van sy Woord en belofte is nie.