‘HELP LANDBOU MET BETER DATA’
DIE regering moet nuwe datategnologie gebruik om meer en beter data beskikbaar te stel sodat besluitneming akkurater kan geskied.
Me. Marion Delport, bestuurder van datawetenskap by die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP), het op BFAP se virtuele bekendstelling van sy 2020-vooruitskouing vir die landbou getoon watter leemtes in belangrike Suid-Afrikaanse datastelle bestaan.
Delport het die Wes-Kaapse lugfotodata van 2017 met die kommersiële landbousensus van 2017 se data oor grondgebruik vergelyk.
“Daar is verskille van meer as 100% by sommige gewasse wat die aangeplante gebied betref. Nog ’n voorbeeld was in Limpopo, waar lugfotodata van 2012 getoon het die landbousensus het die waarde met sowat R11 miljard onderskat.”
Die opname oor inkomste en uitgawes (IES) is ’n belangrike
om besteding met verloop van tyd te meet, veral wat voedsel betref.
“Die landelike ekonomie, waar eie kosproduksie tot voedselverbruik bydra, word egter nie by die opname ingesluit nie. As die vleisverbruik per kop uit die IES bereken en vergelyk word met die Suid-Afrikaanse voedselgebaseerde riglyne, verbruik lae-inkomstehuishoudings sowat 57% minder vleis as die riglyne.”
Wanneer data van die lewendehawesensus van die KwaZulu-Natalse boerbok-landboubesigheidsprojek, wat eie kosproduksie insluit, egter in ag geneem word, daal die gaping tot 25%.
“Dit is net een voorbeeld van wat met nasionale statistieke misgekyk word,” het Delport gesê.
Volgens haar belemmer begrotingstekorte dikwels datapunte. Die IES is byvoorbeeld onlangs met die opname oor lewensomstandighede gekombineer.
“Ander regerings het dieselfde probleme en soek daarom ander maniere om data in te samel. Daar is onlangs berig die Amerikaanse regering wil voortaan groot data gebruik.
“Ek meen Statistieke SA is nie ver agter nie, want ander meganismes is tydens die grendelstaat ingespan toe kleinhandelpryse nie beskikbaar was nie.”
BETER BRONNE
Delport het voorgestel gereelder en kostedoeltreffender metodes moet gebruik word om sekere datapunte van die IES in te samel, soos om met kleinhandelaars saam te werk of aanlyn prysdata te gebruik.
’n Komitee behoort saam met Statistieke SA en die departement van landbou die bruto binnelandse produk- en bruto toegevoegdewaarde-syfers te bereken. Groter deursigtigheid betydens hoort in die stelsel ingebou word.
Wat die nasionale lugsensus en grondoudits betref, het Delport gesê ’n gereelde, volledige sensus sal help om produktiwiteitstoenames met verloop van tyd te bereken en om hulpbronbenutting te meet.
Sy het ook ’n beroep gedoen op ’n gereelder lewendehawesensus.
“Met meer data en nuwe datategnologie wat beskikbaar is, is daar regtig nie ’n verskoning om nié data beskikbaar te stel nie.”
Volgens Delport is daar datasuksesverhale in Suid-Afrika, soos die Nasionale Oesskattingskomitee en die vraag-en-aanbodkomitee.
“Hulle verskaf gereelde en akkurate data wat die mark help om besluite te neem en dikwels pryse beïnvloed.”