DIEREGESONDHEID BEKAMPING VAN SNOTSIEKTE IN SUID-AFRIKA
Van my beeste het gevrek nadat hulle in kontak was met blouwildebeeste van ’n naburige wildplaas. Wat is die voorgestelde prosedure wat ek moet volg?
Daar is geen statutêre beheermaatreëls vir snotsiekte in Suid-Afrika nie, hoewel Suid-Afrika die enigste Afrikaland is wat in die verlede formele bekampingsmaatreëls vir die siekte ingestel het. Wetlike bekamping is in 1984 ingestel ingevolge die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984).
Snotsiekte is verklaar as ’n beheerde siekte ingevolge dié wet en uitbrekings en vrektes moes aangemeld word. Boere kon hul plase tot 1987 registreer vir die aanhou van wildebeeste. Ná 1987 is registrasie net toegelaat indien aan sekere streng vereistes voldoen is.
Bykomende beheermaatreëls het ingesluit dat wildebeeste net verskuif kon word ná die uitreiking van ’n permit en dat wildebeeste van ongeregistreerde eiendomme verwyder moes word. Wildeienaars en groepe betrokke by ekotoerisme het ’n drukgroep gevorm om die regering te oortuig dat die beheermaatreëls vir snotsiekte nie die siekte betekenisvol bekamp het nie.
Die beheermaatreëls vir snotsiekte is in April 1993 opgehef. Dit het ’n tydperk van onbeheerde beweging van wildebeeste ingelui en ’n gepaardgaande toename van die uitbreking van snotsiekte in alle dele van die land waar wildebeeste hervestig is. Snotsiekte is vandag slegs ’n aanmeldbare siekte in Suid-Afrika.
Beesboere wat as gevolg van wildebeesgeassosieerde snotsiekte afkomstig van buurplase skade ly, is op hulself aangewese om uitbrekings te beperk of skadevergoeding te eis vir hul verliese.
WATKANBOEREDOEN?
Kommunikasie met die wildebeeseienaar om die erns van die saak te verduidelik is belangrik. Die beesboer moet ’n beroep doen op wildebeeseienaars om kennis te neem van die ernstige aard van die siekte en die verlies wat daarmee gepaard gaan. Versoek die volgende: ■ Die verwydering of verskuiwing van wildebeeste weg van alle beeste. Die algemeen aanvaarde afstand wat ’n uitbreking sal
beperk, is minstens een kilometer.
■ Betaling van redelike vergoeding vir beesvrektes. Wildebeeseienaars se verweer is byna altyd dat dit nie bewys kan word dat hul diere die uitbreking veroorsaak het nie. Die werklikheid is dat dit met behulp van laboratoriumtoetse, nadoodse ondersoeke en omstandigheidsgetuienis nie moeilik is om so ’n bewys te lewer nie. Ondervinding toon dat die uitgangspunt van wildebeeseienaars is dat hulle ’n kans kan waag omdat die beesboer weens koste waarskynlik nie die weg van litigasie sal wil loop nie.
INTERDIK BY HOF
Indien ’n beesboer teen ’n muur van weerstand vasloop, sal die volgende stap wees om aansoek te doen by die hof om ’n interdik om die wildebeeste te verwyder. Dit is ’n minder intensiewe en goedkoper aksie as ’n siviele hofsaak.
’n Boer wat hierdie roete kies, moet hulp kry van ’n advokaat of prokureur met ondervinding van snotsiekte om die interdik op te stel. Hy moet met behulp van sy veearts die volgende kan verskaf:
■ ’n Laboratoriumbloedtoets wat bevestig die virus vir wildebees-geassosieerde snotsiekte is teenwoordig in die siek of dooie dier.
■ Histopatologiese weefselondersoek wat bevestig die virus het die letsels in die dooie dier veroorsaak.
■ Volledige inligting oor die ligging van die plase en heinings, en die verspreiding van wildebeeste en beeste op die eiendomme.
STRAFREGTELIKE HOFSAAK
Nog ’n opsie is om ’n strafsaak aanhangig te maak teen die wildebeeseienaar, gegrond op nalatigheid van die eienaar wat toegelaat het dat klaers verliese gely het.
Hoewel ’n strafsaak minder intens en koste-intensief is as ’n siviele saak, verg dit steeds deeglike ondersoeke van die polisiediens, en ’n staatsaanklaer wat oortuig is dat die saak voor ’n hof gebring moet word.
So ’n saak is in 2019 aanhangig gemaak teen drie wildebeeseienaars aangrensend aan een beesboer, maar is laat vaar toe ’n siviele saak tussen die betrokkenes geskik is.
SIVIELE HOFSAAK
’n Laaste opsie is ’n siviele hofsaak. Beesboere wat in die verlede groot verliese gely het, het sulke sake aanhangig gemaak ondanks die moeisame en koste-intensiewe aard van ’n siviele hofsaak. Bykans al sulke sake in die afgelope twee dekades in Suid-Afrika is in die guns van die beesboere beslis. Boere moet egter nie onder enige illusie verkeer dat hierdie ’n roetineproses is nie. Dit is ’n uitmergelende proses en alle ander opsies moet deeglik oorweeg word voordat ’n siviele saak aangepak word.
Daar kan geen twyfel wees dat die gewenste optrede dié is van wedersydse respek en gesprekvoering tussen die partye. Die keuse van konflik lei gewoonlik tot uiters onaangename menseverhoudinge.
Prof. Moritz van Vuuren is emeritusprofessor in mikrobiologie verbonde aan die Universiteit van Pretoria.