Landbouweekblad

In memorium

- — CHARL VAN ROOYEN

’N GROOT figuur in die Namibiese geskiedeni­s, dr. Dirk Mudge (92), is in ’n hospitaal in Windhoek weens Covid-19-verwante komplikasi­es oorlede.

Sy oudste seun, Henk, sê sy pa is sowat tien dae lank in die hospitaal behandel vir Covid-19. Nadat dit relatief goed met hom gegaan het, is hy op 26 Augustus oorlede, klaarblykl­ik weens ’n longinfeks­ie.

Sedert hy in 1993 uit die politiek getree het, het Mudge op sy plaas by Kalfeld gewoon.

Vyf jaar gelede het hy en sy vrou, Stienie, na ’n aftreeoord in Windhoek verhuis, waar sy drie jaar gelede oorlede is.

Mudge sal veral vir sy rol in die

Namibiese politiek onthou word. Volgens Wikipedia is Mudge op 16 Januarie 1928 op Otjiwarong­o gebore. Gedurende sy kleurryke lewe het hy verskeie hoë posisies in die Namibiese politiek beklee.

Hy was ook vanaf 1952 tot 2015 ’n beesboer.

Mudge het aan die Universite­it Stellenboc­h gestudeer waar hy in 1947 die graad BCom verwerf het. Hy het daarna as boekhouer in Windhoek gewerk. Sy alma mater het in 2016 ’n eredoktors­graad aan Mudge oorhandig uit erkenning vir sy leiersrol in die Namibiese politiek en om sy landsburge­rs oor politieke en kulturele grense heen te verenig.

Mudge het in 1961 ’n lid van die wetgewende vergaderin­g van die destydse Suidwes-Afrika (nou Namibië) geword, en was van 1965 tot 1977 lid van die uitvoerend­e komitee. Hy het hom beywer vir ’n selfregere­nde Suidwes-Afrika en was van 1975 tot 1977 voorsitter van die Turnhalle-beraad, wat gedien het as grondslag om steun onder die inheemse bevolking te werf. In 1980 is hy as voorsitter van die raad van ministers aangewys.

Hy was ook die stigter van die Republikei­nse Party van Namibië en medestigte­r van die Demokratie­se Turnhalle-Alliansie, wat later tot die Populêre Demokratie­se Beweging herdoop is.

Nadat Namibië in 1990 onafhankli­kheid verkry het, was Mudge lid van die komitee wat die nuwe grondwet vir Namibië geskryf het.

Hy het daarna as parlements­lid gedien totdat hy in 1993 uitgetree en op sy plaas, Ovikere, by Kalkfeld gaan woon het.

Mudge was ook die stigter van die Namibiese Afrikaanse dagblad Die Republikei­n en van die uitgewer Namibia Media Holdings. Hy het tot 2008 in die direksie gedien.

Hy laat vyf kinders, Henk, Chrisna, Rieth, Annalien en Jaco, 16 kleinkinde­rs en 23 agterklein­kinders agter.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa