DIE ANDER SÊ
DIE debat rondom die onteieningswetsontwerp het tot dusver omtrent uitsluitlik klem gelê op die regte van diegene wat eiendom besit, met geen sprake van die regte en belange van dié wat grond eis nie – soos die tienduisende eisers wat voor einde 1998 grondeise ingedien het en nou reeds vir ’n derde dekade wag om hul grond terug te kry.
Prof. Ruth Hall van die instituut vir armoede en landelike studies (Plaas) meen die probleem is nie die staat se mag om te onteien nie, maar die mag van burgers om die staat verantwoordbaar te hou, en om die staat te dwing om sy onteieningsmagte te gebruik om grond te verkry en toe te wys aan dié wat dit die nodigste het.
’n Verdere bekommernis – gegrond op korrupsie en elite-bevoorregting binne grondhervormingsprogramme die afgelope jare – is hoe die regering die onteiende grond sal toewys, en hoe deursigtig en demokraties die proses sal wees.
Voorts is onteiening verreweg die grootste bedreiging vir groot gemeenskappe met informele en tradisionele verblyfregte in die voormalige tuislande. Spesiale voorsiening behoort sekerlik gemaak te word om diegene wat nie in staat is om te reageer op die bedreiging van onteiening nie, te beskerm.
Twee maniere om aan dié dringende kwessies aandag te gee, is om ’n wetsontwerp oor herverdeling op te stel wat uiteensit hoe die staat te werk moet gaan om seker te maak elke burger kan gelyke toegang tot grond kry. ’n Vergoedingsbeleid moet ook opgestel word wat sal uiteensit hoe die staat alle relevante oorwegings sal opweeg om by ’n vergoedingsbedrag uit te kom.