WERK IS MEER AS NET WERK
Soos die meeste dinge in Suid-Afrika is die gesprek oor die minimum loon moeilik en ingewikkeld. Aan die een kant betaal baie boere reeds meer as die minimum loon, terwyl ander gaan sukkel om enige nuwe koste te dra. Dink aan ’n beesboerdery in die Kalahari ná jare se strawwe droogte of ’n wynplaas wat deur die alkoholverbod verpletter is. Boerderye wat sitrus uitvoer, of dalk neute en bessies, gaan dalk minder sukkel.
’n Mens kan kwalik ’n gesin onderhou met sowat R3 470 per maand, maar tussen al die verskillende standpunte lê die harde werklikheid van ons werkloosheidsyfer — een van die hoogstes ter wêreld. Om hiermee te help, betaal die regering welsyntoelaes, wat deur ’n kwynende getal belastingbetalers gefinansier word. Deesdae betaal minder mense belasting as wat toelaes ontvang. As ons dus nie meer werk kan skep nie, gaan ons binnekort nie net die reuse-welsynrekening nie meer kan bekostig nie, maar die maatskaplike impak van werkloosheid gaan ons oorrompel.
Om te werk en ’n bydrae aan jou gesin en gemeenskap te kan lewer, is sentraal tot enigiemand se selftrots. Sonder trotse, selfstandige mense sal ons samelewing nooit kan groei nie. Die maatskaplike euwels weens werkloosheid is oral te sien en misdaad bly ’n enorme koste vir boere. Op sommige plekke bepaal diefstal, en nie die klimaat nie, waarmee jy boer.
Bekostigbaarheid verskil ook vir werkers. In ’n township kan jou lewenskoste heelwat hoër wees as dié van iemand wat die voorreg het om op ’n plaas te woon, waar jy dalk gratis dienste en ander byvoordele ontvang.
Ja, mense van buite die landbou beskou vars groente uit ’n plaastuin of vars melk miskien as paternalisties, maar dié luukses is vir min mense in townships beskore.
Daar is egter ook ’n wyer gesprek. Dit raak vir boere en werkers ál duurder om sake te doen bloot omdat die staat nie sy werk doen nie. Veediefstal is buite beheer. Daar is ook munisipale wanbestuur, gebrekkige krag- en watervoorsiening, haglike paaie en die afwesigheid van goedkoop openbare vervoer.
Daar is erge administratiewe mistastings soos die onvermoë om invoertariewe op suiker af te teken, ’n nuwe koringtarief af te kondig of die nuwe, onsinnige graderingsdienste by silo’s. En wat het die gebrekkige bestuur van die bek-en-klouseeruitbreking ons boere nie gekos nie? Hoeveel meer geld sou daar nie gewees het om hoër lone mee te betaal as ons uitvoermarkte meer aggressief ontgin is nie?
Helaas sien die staat sy eie aandadigheid maklik oor, en wanneer hy Covid-19-hulp aan armes moet voorsien, is hy gemaklik daarmee dat dit ’n skamele R350 per maand is.
In ’n ideale wêreld sou die landbou baie meer mense in diens neem en hulle ook meer betaal. Sulke welvaart kan die grondslag wees vir ’n stabiele, vreedsame en vooruitstrewende platteland.
Maar die staat sal sy kant moet bring. Hy moet óf hande vat óf uit die pad kom, na gelang van die situasie, en boere toelaat om hul werk te doen om welvaart te skep. Hy moet besef boere weet reeds hulle sal nooit in ’n see van armoede kan oorleef nie. Die landbou, en die private sektor in die algemeen, gaan mekaar in die oë moet kyk en begin saamstem dat net meer werksgeleenthede Suid-Afrika gaan red. Enigiets wat Suid-Afrikaners werk gaan kos, moet herbesin word. Dit is dié gebrek aan vertroue wat nou die werklike krisis is.