DANKIE AAN DIE ONBAATSUGTIGES
Die ander oggend op die Loxtonpad gaan ek by iets verby wat oor die teer beweeg.
“Stop!” roep ek na my trapmaat agter. “Dit lyk soos ’n voëltjie wat uit ’n nes geval het.”
“Nee, dis net ’n miskruier,” lag hy. “Twee van hulle, met ’n groot, ronde vonds, op pad.”
Toe wonder ek oor miskruiers. Die Here het hulle tog seker in die wieg gelê vir hierdie werk. Om mis weg te dra. Te rol. Op te ruim. Omgewing skoon en netjies te maak.
Party mense is ook in die wieg gelê vir sulke tipe werk. Soos die program Dirty jobs op TV dit wys. Munisipale vullisverwyderaars, gastro-enteroloë, rioolslootwerkers, olieboormanne,
steenkoolmynwerkers, lykbesorgers, mense wat insekte bespuit.
En dan is daar mammas wat vir jare babadoeke moet ruil en spoegborslappies moet was. Ook verpleegsters, versorgers en dokters. Of noodwerkers by grusame motorongelukke.
Geroep vir optel, afvee, skoonmaak. Opruim, was, uittrek, aantrek. Steriliseer. En wegry.
Die kruiers van ons samelewing wat soms, baie kere, deur afval moet werk. Moedig moet bly, aanhou en moet volhou.
Só kom daar ’n gebedjie uit my hart. Vir hulle wat met handskoene en maskers moet inkyk daar waar ek wegkyk. Moet rol waar ek eenkant staan. Moet plan maak waar ek arms vou en terugtree.
Dankie, Heer! Dat U ook in U onoortreflike wysheid ’n plek en pad gemaak het vir die nederige, dienstige miskruier. En vir elke onbaatsugtige mens wat hande vuil maak sodat samelewings sindelik kan leef. Sonder dat ek eers onthou dat kruiers en rollers vir my pad maak, vir ’n skoon dag sorg. HANLIE NEL-SMITH
Stellenbosch