TSITSIKAMMA AVO-PLANNE KAN HONDERDE HUL WERK KOS
’N AANSOEK deur die grootste bosboumaatskappy in die Tsitsikamma-gebied om van sy plantasiegrond na avokadoverbouing oor te skakel, het vrese vir grootskeepse werkverliese in dié reeds kwesbare gebied laat ontstaan.
Mnr. Hans Hanekom, bestuurder van Swartland wat ’n saagmeule in dié gebied bedryf, meen minstens 400 werkgeleenthede kan in die gedrang wees ná hy verneem het MTO, die grootste bosboumaatskappy in dié streek, het by die staat aansoek gedoen om sekere dele van die plantasiegrond in avokadoboorde te omskep.
MTO huur plantasiegrond in die Oos- en Wes-Kaap by die staat.
Swartland besit een van die twee saagmeulens tussen MTO se plantasies in die Tsitsikamma-streek.
Die maatskappy vervaardig onder meer deur- en vensterrame, asook plafon- en vloerlyste.
HOUT AANGERY
Benewens die moontlike gedeeltelike omskakeling na avokadoboorde is Hanekom ook bekommerd oor die feit dat MTO steeds bome uit die gebied na sy saagmeule op George, 150 km verder, aanry.
“Voor die brande in 2017’18 het die plantasies 300 000 kubieke meter hout per jaar gelewer. Daarvan het elke saagmeul onderskeidelik 100 000 kubieke meter gekry en die ander derde is deur MTO op die ope mark verkoop.
“Die brande het ’n derde van die plantasie vernietig. MTO ry nou 100 000 kubieke meter aan na sy saagmeule op George, wat beteken dat Swartland se saagmeule Boskor, AC Whitcher, die ander saagmeule, en die res nou moet tender op slegs 100 000 kubieke meter.
“Dit is nie finansieel haalbaar nie. Dit sal tot gevolg hê dat baie mense hul werk gaan verloor – iets wat hierdie gebied nie kan bekostig nie, want die Covid-19-pandemie het toerisme, die ander groot werkskepper, reeds ’n groot knou gegee.”
Gevolglik, het Hanekom bygevoeg, wil hulle ’n pleidooi tot me. Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en
omgewingsake, rig om die Tsitsikamma te besoek sodat daar op politieke vlak ’n lewensvatbare ooreenkoms tussen MTO, die saagmeule en die plaaslike inwoners bewerkstellig kan word.
AFSLUITINGSPLAN
Hanekom meen só ’n lewensvatbare ooreenkoms is noodsaaklik, veral omdat plantasiegrond, as deel van die regering se bosbou-uitgangsplan, teruggaan na die staat en dit volhoubare houtproduksie kan bedreig.
Me. Itumeleng Langeni, hoof van belanghebbende-verhoudings by die MTO-groep, sê ingevolge dié plan moes MTO ingevolge sy grondhuurooreenkoms met die staat al nagenoeg 60% van die grond onder sy bestuur afstaan aan die departement bosbou, visserye en omgewingsake.
“Weens krimpende produksievolume moes MTO sy sakemodel gevolglik aanpas.”
Dit is nog onseker of avokadoplantasies deel van die aangepaste sakeplan sal wees.
“Niks planne is afgehandel nie. Ons ondersoek verskeie alternatiewe inkomstestrome om werkgeleenthede in die Suid-Kaap volhoubaar te hou.
“MTO het byvoorbeeld reeds onder meer in makadamiaboerderye in die Laeveld, avokadoboerderye in Limpopo en ekotoerisme belê,” sê hy.
WERKSKEPPER
Oor die klagtes dat bome uit die Tsitsikamma-plantasie na MTO se saagmeule op George aangery word, het Langeni geantwoord dat dié meule werk aan 300 mense bied.
“MTO het ook besluit om voortaan hout op ’n oop tenderstelsel vir potensiële aankopers beskikbaar te stel, pleks van om langtermynkontrakte aan te gaan. Dit bevorder gelykheid en stel voorheen benadeelde individue in staat om die hoofstroomhoutbedryf te betree.”
Volgens Hanekom veroorsaak hierdie praktyk dat houtpryse met ongeveer 20-30% gestyg het, wat dit onmoontlik maak vir nuwe aankopers om die mark te betree.
Oor beskuldigings dat MTO doelbewus houttekorte skep deur hout na sy George-meule te vervoer om hoër pryse te kan vra, sê Langeni dit is ’n valse beskuldiging, “gestroop van logika en feite”.
“Die waarde van ’n bosboubedryf word bepaal deur die vloei van volumes.
‘Die werklikheid is dat die brande in 2017-’18 altesaam 16 635 ha vernietig het. Dit, gepaard met die bosbou-uitgangsgebiede, het tekorte tot gevolg gehad. Tot dusver is 8 863 ha van die afgebrande plantasie met bome herplant.”