Inheemse vleisbeeste: Bemark eerder van veld af
Te midde van talle struikelblokke in die vleisbeesbedryf word die lewensvatbaarheid van boere wat met inheemse beesrasse boer, verder bedreig deur voerkrale wat teen dié beeste diskrimineer. Daar is egter volhoubaarder bemarkingsbenaderings vir dié boere.
Die verbruiker is meer gesofistikeerd en gesondheids- en gehaltebewus as dié van ’n paar jaar gelede. Dit word geïllustreer deur die toenemende vraag na organiese en natuurlike produkte soos veldvleis. Ongelukkig beskryf Suid-Afrika se huidige vleisklassifikasiestelsel nie gehalte nie. Daarom word boere wat vleis van ’n hoër gehalte sonder stimulante vanaf natuurlike weiding lewer, nie noodwendig beloon nie.
Die belangrikste kriteria vir die bepaling van die prys van vleis in die huidige stelsel is ouderdom en vet. Dit diskrimineer by implikasie teen jong diere (klas AB en selfs klas BB) met uitstekende vleisgehalte wat met of sonder aanvulling op veld afgerond is. Die uitstekende gehalte van die vleis van inheemse rasse word ook nie in die huidige klassifikasiestelsel erken nie.
Een van die belangrikste kenmerke van vleisgehalte is sagtheid. Die inheemse rasse is bekend om hul vleissagtheid, wat soms selfs dié van die beste Britse rasse oortref. Dit beteken dat die vleis van jong (klas AB) inheemse beeste net so sag kan wees soos die vleis van klas AA-diere.
Baie min verbruikers is bewus van die gesondheidsvoordele van veldbeesvleis. Dit is wetenskaplik bewys dat dit gesonder is, met die regte balans tussen omega 3- en omega 6-vetsure en hoër vlakke van gekonjugeerde linoleïensuur, wat teenkankerverwekkend is.
’n Afsonderlike bemarkingskanaal of nismark sal dus ontwikkel moet word om hierdie osse te bemark. Dit kan selfs uitgebrei word na die uitvoermarkte van Europa en Asië.
Een voorbeeld is die Afribeef-stelsel. Inheemse rasse sal egter strategiese alliansies moet vorm as hulle ’n sukses van nismarkte wil maak. Verder is ’n betroubare naspeurbaarheidstelsel noodsaaklik.
’n Osproduksiestelsel bied ook ’n bemarkingsgeleentheid vir opkomende en kommunale boere. Hierdie boere besit ongeveer 4,5 miljoen beeste. Die meeste daarvan is Sangas of Sanga-kruisings, en ander tropies aangepaste kruisings.
KUDDEBESTUUR
Die oorskakeling van ’n speenkalf- na ’n osproduksiestelsel kan kontantvloeiprobleme in die eerste jare veroorsaak. Dit kan oorkom word deur die swak produserende en minder vrugbare koeie in die kudde te bemark. Dit is ook nodig om oorbeweiding te voorkom, aangesien meer diere aangehou sal word en ekstra weiding vir die osse nodig is.
Hou ’n kernkudde van slegs die koeie wat die beste produseer. Dit beteken dat daar geen passasiers in die kudde is wat die wins kan benadeel nie. Dit sal verseker dat die nageslag die genetiese samestelling het om aan te pas en in die spesifieke veldtoestande te groei.
Selfs met ’n osproduksiestelsel kan kruisteling waarde toevoeg, soos met die Afrikaner en die Nguni. Veronderstel die gewig van ’n Afrikaneros van 24 maande oud is 434 kg en dié van die Nguni 244 kg. Indien Afrikanerbulle met Ngunikoeie gepaar word en daar is 10% basterkrag, gaan die kruisras-os op 24 maande 428 kg weeg, wat 84 kg meer is as die rasegte Nguni.
Nog ’n moontlikheid vir kommersiële Nguniboere is om van swart Angus- of Charolaisbulle gebruik te maak. In so ’n geval word die Nguni-kleurpatrone “weggesteek” en kan die kalwers aan voerkrale bemark word.
Volgens die simulasieprogram wat gebruik is, sal ’n kleinraamras in ’n osproduksiestelsel gewoonlik lewensvatbaarder wees as ’n speenkalfstelsel, ongeag wat die speenpersentasie van die kudde is. In die geval van ’n mediumraamras sal ’n speenkalfstelsel net lewensvatbaarder as ’n osproduksiestelsel wees met ’n speensyfer van 75% of meer.
TEN SLOTTE
Hoe lank sal Suid-Afrika nog die luuksheid kan bekostig om menskos vir diere te voer? (Ek is al baie oor hierdie vraag gekritiseer.) Alternatiewe produksiestelsels sal dus ontwikkel moet word.
Prof. Michiel Scholtz is ’n afgetrede spesialisnavorser in toegepaste diereteelt by die LNRDiereproduksie op Irene waar hy nou op kontrak betrokke is. Hy is onder andere ook ’n geaffilieerde professor in diereteelt aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). Erkenning word gegee aan prof. Frikkie Neser van die UV wat die simulasieprogram ontwikkel en insette vir hierdie artikel gelewer het. Epos:
truikelblokke soos droogte, minder water wat vir besproeiing beskikbaar is, en klimaatsveranderings lei al hoe meer tot die besef dat aangeplante weiding vir melkproduksie meer veerkragtigheid en robuustheid nodig het as die verskillende raaigrasspesies wat dekades lank die grondslag van dié weiding gevorm het.
Die gematigde spesies wat algemeen vir intensief besproeide weidingproduksie gebruik word, is Lolium multiflorum en L. perenne, albei raaigraskultivars met goeie voergehalte wat vir melkproduksie nodig is.
Me. Sigrun Ammann, weidingnavorser by die Outeniqua-proefplaas by George, sê melkboere het ’n behoefte aan plantspesies wat die raaigrasweiding kan aanvul.
Die eerste faktore wat in navorsingsproewe in aanmerking geneem is, is dat minder water vir besproeiing beskikbaar is weens droogte, groter dele onder besproeiing en groter menslike en nywerheidsverbruik van water. Koste, soos die jaarlikse vestiging van weiding, en doeltreffende stikstofbenutting is ook in ag geneem.
VEREISTES
Sy sê die doelwit was om die opbrengs en voergehalte van alternatiewe spesies met dié van meerjarige raaigras te vergelyk om hul potensiaal en geskiktheid vir weiding vir melkproduksie te bepaal.
“Die belangrike vereistes vir alternatiewe spesies is dat hulle meerjarig moet wees, dieper wortelstelsels as raaigras moet hê vir toegang tot meer water en robuustheid, hoogs produktief moet wees met ’n stabiele opbrengspotensiaal oor jare, en voldoende voergehalte vir melkproduksie moet hê.
“Robuustheid kan verhoog word deur die diversiteit van die spesies te benut in mengsels wat in kampe geplant word, of deur die plaas in kampe te verdeel waar die spesies apart geplant en afwisselend bewei word.”
Die spesies wat in die navorsing gebruik is, was verskillende kultivars langswenkgras (Festuca arundinacea) en die voerkruie sigorei (Cichorium intybus) en smalweëblaar (Plantago lanceolata).
In proewe wat van die herfs van 2017 tot die somer van 2019-’20 op die Outeniqua-proefplaas gedoen is, is die opbrengs en voergehalte van die alternatiewe spesies met