Webwerf bring Hantam se vleis na jou kostafel
Wanneer ’n mens ’n wynmaker en wingerdkundige van Riebeek-Wes en ’n kaasmaker se talente saamsnoer, is ’n aanlyn platform waar lamsvleis direk by die boer gekoop kan word nie, nie noodwendig die eerste ding wat in jou gedagtes opkom nie. Dit is egter presies wat die Van Heerdens gedoen het.
Verbruikers koop met hul oë. Mense wil weet wat hulle kry vir die prys wat hulle betaal, en wil nie net ’n pryslys hê nie. Só vertel mnr. Hardus van Heerden oor sy en sy vrou, Annie, se besluit – nadat hulle raad van kenners ingewin het – om ’n visueel aantreklike webwerf met foto’s van elke produk tot stand te bring waar verbruikers lamsvleis regstreeks by boere in die Noord-Kaap kan koop.
Herdsmen is sowat ’n jaar gelede op die been gebring. Die doel van die webwerf is om dit vir mense makliker te maak om lamsvleis uit die Hantam en die Boesmanland te bestel. Die vleis word by Herdsmen se aanleg op Riebeek-Wes verwerk en daarvandaan versprei.
“Ek het nooit besef hoe besonders ons vleis is nie, tot Annie eendag gesê het hoe ongelooflik dit is,” sê Hardus.
Hy vertel hulle het baie aande op hul stoep gesit en gedroom oor die konsep om ’n produk te lewer wat mense presies weet waarvandaan dit kom.
Sy familie boer al vyf geslagte lank met skape by Loeriesfontein.
“Ek en my pa is aktief by die bestuur van die plaas betrokke, maar nie by die daaglikse take nie. Wilhelm Schade is ons bestuurder wat die oorhoofse bestuur van die plaas behartig, met sy twee junior bestuurders, Kleinman en Klonkies van Zyl, wat die daaglikse take behartig. Ons probeer om so gereeld moontlik op die plaas te kom en tyd daar deur te bring, maar ons boerdery kan nie in beter hande wees nie. My oupa se broer is in die tagtig, maar boer ook nog aktief op Klein Rooiberg.”
Hardus het aanvanklik in die landbou, spesifiek die wynbedryf, beland danksy sy belangstelling in die wetenskap.
“Ek was nog altyd lief vir die landbou en was geseënd om baie goed op skool te vaar. Die wetenskap het my aangetrek en wynboukunde was die beste rigting waarin ek my
■ Deur hul webwerf voeg hierdie landbou-egbaar waarde tot lamsvleis uit die Hantam en die Boesmanland toe, en die boere wat aan hulle verskaf, kry ’n beter prys vir hul produk.
■ Elke produk wat bestel word, se oorsprong is aan die verbruiker bekend.
■ Danksy tegnologie kan hulle meer mense bereik, maar hulle wil nie té veel groei nie, want dan raak dit moeiliker om gehalte te verseker.
Riebeek-Wes, Wes-Kaap Loeriesfontein, Noord-Kaap landboupassie kon uitleef, die wetenskap my kon stimuleer en ek terselfdertyd skeppend kon wees. Nou doen ek ’n bietjie minder wetenskap en meer besigheid en bemarking.”
Hardus het voorheen vir drie jaar by Chateau Lagrange in Frankryk in die Medoc-streek gewerk en semi-professioneel rugby gespeel daar. Hy was ook voorheen by La Couronne in Franschhoek, asook Welbedacht by Wellington as wynmaker en wingerdkundige.
Hy sê Annie se agtergrond as kaasmaker voeg baie waarde toe tydens die verpakking van die vleis en sy verstaan dat die kliënte met net die beste tevrede sal wees.
HOËR PRYSE VIR TOPPRODUKTE
Naspeurbaarheid is vir Hardus baie belangrik. Soos daar in die wynbedryf op elke bottel wyn aangedui word waar dit vandaan kom, staan daar op elke pakkie vleis wat deur Herdsmen versprei word, presies wat die oorsprong daarvan is – selfs die GPS-koördinate van die plase wat die vleis verskaf.
“Ek dink naspeurbaarheid raak ál belangriker. Wat vir ons sleg is, is dat ’n lam wat van ’n voerkraal af kom, dieselfde prys op die mark behaal as ’n lam van die veld af. Dit was van die begin af vir ons belangrik dat ons die boere meer betaal vir ’n gehalteproduk.”
Herdsmen se vleis word dus teen hoër pryse verkoop omdat die gehalte daarvan die prys regverdig, volgens Hardus. ’n Heel en halwe lam verkoop tans teen R129/kg en snitte kos gemiddeld ongeveer R150/kg.
Die vleis is nie gesertifiseerde Karoolamsvleis van oorsprong nie.
“Ons het van die begin af besluit om nie daardie roete te volg nie. Die Karoo is ’n reusagtige plek. Ons kry vleis uit die Hantam en die Boesmanland. Selfs tussen daardie twee streke verskil die smaak. Ons plaas lê op die grens van die winter- en somerreëngebied. Op een plaas is daar dus reeds twee verskillende smake, na gelang van waar die lammers wei en watter tyd van die jaar hulle gelewer word.”