VAN LUR SE PADBELOFTES HET DAAR DADELS GEKOM
IN Maart vanjaar het Sechaba sa Ficksburg, ’n burgerlike gemeenskapsforum, in protesoptrede die Vrystaatse LUR van paaie, mnr. Sam Mashinini, gedwing om met sy duur ampsmotor op een van die gehawendste paaie in die distrik Ficksburg te ry sodat hy self kan sien hoe daaglikse gebruikers van die pad sukkel en skade ly.
Hierna het die departement begin om dié verbrokkelde teerpad weer tot ’n gruispad te skraap en om slaggate op die R26 na Bethlehem te herstel.
Alles het egter sedertdien tot stilstand geknars.
“Ons kry nie terugvoer oor die begroting of die beplanning nie,” sê mnr. Friedl von Maltitz, ’n boer in die distrik en woordvoerder vir die protesaksie. “Volgens ons ooreenkoms met die LUR was ons veronderstel om dit saam aan te pak. Die departement werk op die oomblik nie veel aan die paaie in die provinsie nie en ek vermoed in die Vrystaat is die rede hiervoor dat die tekort in die begroting nie werk nou toelaat nie.”
Von Maltitz sê boere sukkel veral in strooptyd. “Die vragmotors wat die graan na die silo’s aanry, moet stadiger ry vanweë die swak paaie, en hoe stadiger hulle moet ry, hoe langer duur dit om klaar te stroop.”
Die instandhouding van bande, skokbrekers en vere op hul plaasvoertuie en vragmotors kos ook ’n aardige bedrag. “As ’n 30 ton-vragmotor met ’n volgelaaide vrag al daardie slaggate tref, rig dit baie skade aan en dit is ’n uitgawe wat elke jaar net groter word.”
54% VAN GRONDPAAIE SWAK OF BAIE SWAK
’n Verslag deur die raadgewende firma Frost & Sullivan wat sowat drie weke gelede uitgereik is, toon dat meer as die helfte (54%) van Suid-Afrika se ongeteerde padnetwerk en 30% van die geteerde paaie in ’n swak tot baie swak toestand is.
Sanral, die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap, is verantwoordelik vir alle hoofroetes. Provinsiale paaie-departemente moet die streeksroetes onderhou, terwyl munisipaliteite die kleiner stedelike paaie onderhou. Die meeste van die provinsiale finansiering kom uit die nasionale begroting in die vorm van die provinsiale padonderhoudstoelae.
“Die provinsiale paaie se toestand gaan sedert die vroeë 1990’s geleidelik agteruit vanweë verskeie redes, onder meer die inkorting van toewysings uit begrotings en al hoe minder padbouprojekte wat deur die staat aangepak word,” lui Frost & Sullivan se verslag.
Die verslag het bevind dat die Oos-Kaap, Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes die meeste sukkel om hul padnetwerke te onderhou.