OM ’N SUID-AFRIKANER TE WEES
Om oorsee te reis, is by tye ’n ietwat onrusbarende manier om ’n bietjie perspektief te kry op ons dikwels onbestendige bestaan aan die suidpunt van Afrika. Soos nou onlangs weer, toe ek met my gesin na Londen, Brittanje, moes reis.
Die eerste pynlike kennismaking met die werklikheid van Suid-Afrikaner wees, is natuurlik wanneer jy jou eerste koppie koffie met rande op die Gatwick-lughawe koop. Teen die tyd dat jy R200 vir twee Guinness-biere in ’n gesellige Ierse kroeg betaal terwyl die Stormers en Bulls mekaar aanvat, het jy al opgehou om die omskakeling in jou kop te doen. Heimlik troos jy jouself daaraan dat Suid-Afrika se uitvoerboere ten minste munt slaan uit jou finansiële onvermoë om daardie derde bier te kan koop!
Op pad terug na ons verblyfplek ná die wedstryd, hou ons vir melk en brood stil by ’n voorstedelike supermark in die multikulturele woonbuurt waar ons bly. Rakke is swaar belaai met wyn van Nieu-Seeland en Australië, die meeste van familiewynplase. Teen die tyd dat ek uiteindelik ’n verdwaalde bottel Suid-Afrikaanse wyn opspoor, trippel my gesin reeds ongeduldig by die winkeluitgang rond.
Die aangename sikh-Indiëroubaas wat die supermark besit, beaam dat The Secretary Bird Merlot die enigste Suid-Afrikaanse wyn is wat hy aanhou. Op die etiket lees ek dit word deur die internasionale Boutinot-groep gemaak.
Op ’n kol neem ek die seuns om na die standbeeld van genl. Jan Smuts op die parlementsplein oorkant die Britse parlement te gaan kyk. Nie ver nie van slim Jannie op sy voetstuk van Suid-Afrikaanse graniet staan ’n standbeeld van nog ’n Suid-Afrikaner, oudpres. Nelson Mandela. Saam met die Amerikaanse oudpres. Abraham Lincoln en die Indiese onafhanklikheidsleier Mahatma Gandhi is die twee Suid-Afrikaners die enigste nie-Britte wat op die plein vereer word. Stille bewyse dat ons land eens op ’n tyd leiers opgelewer het wat wêreldwyd ’n diep indruk gemaak het, in teenstelling met die skandalige liggewigte waarmee ons deesdae opgeskeep sit.
Maar dit is Londen se moltreinstelsel wat altyd diep beïndruk. Veral vir ons wat moet toekyk hoe Suid-Afrika se spoorweë voor ons oë weggedra word. ’n Doolhof van tonnels wat ’n oneindige vloedgolf mense na verskillende treinstasies kanaliseer en waarsonder Londen eenvoudig nie kan funksioneer nie.
Deurgaans word daar bedagsame aankondigings gemaak. Op ’n aangename somersdag van 30 °C, wat die Britte as ’n hittegolf beskou, word pendelaars vriendelik herinner om te alle tye water saam met hulle te dra. En as hulle enigiets “buitengewoon” gewaar, om dit tog asseblief by die spoorowerhede aan te meld.
Op die roltrappe hou almal aan die regterkant om haastige pendelaars kans te gee om verby te kom. En wanneer treine by stasies intrek, word passasiers op die trein eers kans gegee om af te klim.
Op die Embankment-stasie is die gewone digitale stem wat aankondigings maak, met ’n diep, manlike baritonstem vervang. Dit is ’n unieke vergunning aan die weduwee Margaret McCollum. Vir jare is haar man, Oswald Laurence, se stem gebruik om die aankondigings te maak. Toe die owerhede agterkom die hartseer ou dame kom al jare lank elke dag na die stasie net om haar man se stem te hoor sedert sy afsterwe in 2007, het hulle weer die oubaas se stem begin gebruik.
’n Diepe bedagsaamheid teenoor ander mense loop soos ’n goue draad deur die Britse samelewing. Dit is die olie wat alles laat werk. ’n Besef wat ’n reuseverskil aan Suid-Afrika sou kon maak — van bek-en-klouseerbekamping tot korrupsie. Bloot om jou medemens in ag te neem.