ROMPSLOMP MET BETALINGS DUUR STÉÉDS VOORT
DIE georganiseerde landbou hoop die probleme met die betaalstelsel vir sprinkaanplaagbekamping sal teen die aanbreek van die volgende seisoen in Oktober uitgestryk wees of dat ’n nuwe gedesentraliseerde stelsel gebruik sal kan word.
Hoewel die meeste sprinkane van die onlangse uitbrekings vrek is, is insekte afkomstig van Namibië teen druktyd nog by Springbok, Mier en Noenieput bestry. Die seisoen eindig in Julie en begin weer einde September met die eerste lentereën wanneer sprinkane uitbroei.
Me. Janine Byleveld, Agri Noord-Kaap se bedryfsbeampte vir ekonomie en natuurlike hulpbronne, sê ’n elektroniese stelsel waarin bewyse van ’n bankrekening en identiteit digitaal bewaar word, sal heelwat rompslomp uitskakel. Sy meen die uitbetalings moet liefs ook gedesentraliseer word.
“Die regering het reeds ’n goeie werkende stelsel vir droogtehulpuitbetalings wat as voorbeeld kan dien. Hierin werk die nasionale departement van samewerkende regering saam met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling om provinsiale uitbetalings van droogtehulpkoepons te doen.”
AGTERSTALLIG
Byleveld sê in die Noord-Kaap was daar teen druktyd sowat 100 eise van 2021 en 300 eise van 2022 nog uitstaande.
In die Wes-Kaap en Oos-Kaap is daar plekke waar geen eise uitbetaal is nie.
“Die uitbetalings is sporadies. Mense is vir sommige maande se werk betaal, maar nie vir ander nie,” sê sy.
“Tans moet die distriksprinkaanbeampte die verskillende dokumente vir homself, die voormanne en die werkers versamel en dit na die departement se kantoor op De Aar bring.
“Die handjie vol amptenare verwerk al die eise vir die Noord-, Oos- en Wes-Kaap, en die Vrystaat.
“Die distriksprinkaanbeampte het net 12 dae tyd ná die einde van die maand om die dokumente in te dien. Elke individuele eis kan tot sewe dokumente vervat. Eise kan byvoorbeeld ure gewerk, brandstof, voertuigslytasie of persoonlike beskermingstoerusting behels.
DUISENDE AANSOEKE
“Die amptenare op De Aar moet 500 tot 1 000 eise binne twee weke verwerk en dokumente verifieer,” sê Byleveld.
“Daarna word die dokumente een keer per week padlangs na Pretoria na die nasionale tesourie gebring vir verdere verifiëring en verwerking waarna dit geoudit word. Eers daarna kan betalings in bankrekenings gedoen word. Intussen verloop tyd.
“Sommige dorpe het nie eens meer banktakke waar werkers rekeninge kan gaan oopmaak nie. Of dit duur só lank vir ’n betaling om deur te kom dat die bank die ongebruikte rekening sluit. Of die bewys van ’n bankrekening verval ná drie maande en die eis word verwerp.”
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het nie op navrae om kommentaar gereageer nie.