Nuwe tegnologie vir monitor en beheer van besproeiingstelsels
Besproeiing is ’n groot belegging, maar is die sleutel tot verhoogde wins mits dit korrek en omsigtig aangepak word. Alfred Andrag het die onlangse Sabi-konferensie namens Landbouweekblad bygewoon.
Optimale besproeiing en die besparing van water en energie was die hoofklem van die 24ste konferensie van die Suid-Afrikaanse besproeiingsinstituut (Sabi) in Gqeberha. Voorleggings van talle maatskappye was gemik op groter doeltreffendheid.
Vir vorige artikels in die omvattende aanbieding by
en
besoek
GPS EN HOMMELTUIE
Mnre. Daniel Read en Chris Keightley van Optron het van die jongste opmeettoerusting en werkswyses gewys.
Hommeltuie bied die voordeel dat groot oppervlaktes vinnig opgemeet kan word. Danksy nuwe tegnologie, soos die kombinasie van Lidar (waar laserpulse gebruik word om afstand te meet) met korreksie van ’n GPS-basisstasie, kan ’n grondoppervlakmodel met akkuraatheid van 100 mm tot 200 mm gegenereer word in vergelyking met ’n GPS met intydse korreksie wat tot 15 mm akkuraatheid kan gee. Hommeltuigtegnologie kan ook in boerdery en bosbou gebruik word om boomhoogtes en -volumes te bereken.
Met die gebruik van hommeltuie moet belangrike lugvaartveiligheidsvereistes oorweeg word. Lees meer daaroor by caa.co.za.
WAARHEEN MET DATA?
Mnr. Ken Treloar van Aerobotics het met ’n aantal gevallestudies uit die sitrusbedryf getoon hoe moderne monitormetodes boere kan help om produktiwiteit en winsgewendheid te verhoog, en terselfdertyd volhoubaarder te boer.
Volhoubaarheidsbeginsels, soos ’n verantwoordelike verhoogde opbrengs, dekgewasseleksie en -bestuur, reënwateropvangs en -bestuur, die opbou van grondgesondheid en -struktuur, koolstofbestuur, pro-bestuiwerpraktyke en organiese boerdery, speel ’n groter rol in boerdery.
Presisieboerderypraktyke is ook onlosmaaklik deel van die pad vorentoe en sluit onder meer in outomatisasie, slim monsterneming, veranderlike toediening van middels, toegespitste aksie (per blok, per sone, per boom) en die versamel van inligting vir beter besluitneming. Hiervoor is nuwe sleuteltegnologie beskikbaar.
Gewasse en toestande kan van ’n afstand af gemonitor word, soos met satellietdata, grondvog- en sapvloeimeters, deurlopende groeimonitors, robotiese voertuie, hommeltuie en slimfoontoepassings.
Die inligting wat ingesamel word, kan só baie raak dat dit moeilik is om sinvol aan te wend. Spesialiste soos Aerobotics kan ’n besproeiingsboer help met die nodige data-ontleding om seker te maak sy besproeiingstelsel werk reg en word optimaal aangewend. Hy gebruik hommeltuigvlugte om die transpirasie van individuele bome in ’n boord te bepaal en te monitor.
In een van die boorde wat as voorbeeld gebruik is, is vasgestel dat die bome baie oneweredig transpireer. Nadat die boer elke lyn nagegaan, lekke reggemaak en verstoppings skoongemaak het, het dit sommer gou beter gelyk (sien foto’s links bo op bl. 72).
In nog ’n voorbeeld het die boord op die oog af taamlik eenvormig gelyk, maar op die transpirasiekaart kon gesien word dat die bome aan die suidekant van die blok baie swakker transpireer en dus onder stres was.
By nader ondersoek is gevind dat die druk in die besproeiingstelsel aan die suidekant (wat ook hoërgeleë is) te laag was aangesien die filter wat daardie deel van die blok bedien, verstop was. Die drukmeters op die installasie was egter stukkend en niemand het die fout agtergekom nie. Nadat die filters skoongemaak is, was die druk in die blok reg, maar die klant het steeds ’n nuwe outomatiese filterbank bestel om ’n herhaling van die probleem te voorkom.
Met die deurlopende monitor en vroeë uitwys van probleme en deur die nodige regstellende stappe betyds te doen, kan groot skade en oesverliese voorkom word.
INTERNET VAN DINGE IN BOERDERY
Mnre. Nato Loock, Stephan du
Toit en Edmund de Beer, die megatroniese ingenieurspan van ZZ2, is baanbrekers wat die integrasie van hul boerdery se monitering en beheer op die internet betref. ZZ2 het besluit om interne, doelgemaakte oplossings vir sy behoeftes te ontwikkel.
Die boerdery maak gebruik van LoRaWAN (Long Range Wide Area Network). Dit is amper soos ’n private GSM-netwerk op ’n toegewyde frekwensie van 868 MHz. Die eienaars van die LoRaWAN-basisstasies kan dit oopstel vir ander gebruikers, wat ZZ2 wel doen. Só word die netwerk vinniger uitgebou.
ZZ2 het reeds 19 sulke basisstasies in die Mooketsivallei in Limpopo geïnstalleer wat elk op sy beurt aan die internet gekoppel is (meestal met LAN). Individuele toestelle kan aan die LoRaWAN-netwerk gekoppel word. In dié stadium het ZZ2 reeds 120 beheerders wat deur die netwerk aan die internet gekoppel is.
Toerusting wat daarmee gemonitor en beheer word, sluit onder meer in 52 boorgate (wat watervlak en -lewering betref), 40 besproeiingskleppe, 50 watermeters, gronddamme se watervlak en -lekkasie, verkoelingen doupuntmonitering, inlyn-skale in die pakhuise, bemestingstelsels, die monitor van temperatuur en humiditeit vir klimaatbeheer in aanlegte, grondvogmeters en temperatuur op die plase, en die monitor van gifspuite in boorde.
ZZ2 is voortdurend besig om nog toepassings by te voeg en werk tans onder meer aan die integrasie van die stelsel met sy bestaande besproeiingsrekenaars wat met radio’s werk, die naspeur en beveiliging van vee, “slim” filterbankbeheerders, outomatisering van kleppe, en die hantering van alarmstelsels vir klimaatbeheerde omgewings.
Alfred Andrag is ’n professionele ingenieur, entrepreneur en onafhanklike besproeiings-, landbou- en sakekonsultant en direkteur.