SOWAT 1,3 MILJOEN HA IS ONDER BELEG
die totale geskatte 1,3 miljoen ha onder besproeiing in Suid-Afrika, is 600 000 ha hoëwaarde-uitvoerprodukte en groente wat besproei word. Daarna volg suikerriet, mielies, koring, soja en weidings soos lusern, sê prof. Ferdi Meyer, direkteur van die buro vir voedselen landboubeleid (BFAP).
BFAP was teen druktyd besig om die impak van beurtkrag op besproeiingsproduksie landwyd verder te ondersoek.
Volgens BFAP was daar sedert 1990 verskeie skattings oor hoeveel landbougrond onder besproeiing is. Daar moet ook onderskeid getref word tussen werklike gewasse onder besproeiing (skattings) en grond wat vir besproeiing geregistreer is (betreffende watergebruikslisensies).
“Volgens die jongste skattings deur die waternavorsingskommissie en die voorganger van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (2018) is die totale gebied onder besproeiing 1,44 miljoen ha tot 1,68 miljoen ha. Wat besproeiingsinfrastruktuur betref, is die totale gebied wat vir besproeiing toegerus is, 1,27 miljoen ha tot 1,5 miljoen ha,” luidens BFAP se jongste verslag.
REUSEKOSTE
’n KwaZulu-Natalse saaiboer en varkprodusent moes in Desember alleen ’n bykomende 14 000 liter diesel aankoop teen ongeveer R330 000 om krag op te wek wat nodig is vir gewasbesproeiing en om die tegnologies gevorderde varkboerdery te bedryf.
Besproeiingsonderbrekings is ’n bykomende risiko vir dié boer omdat die oeste meestal vir die maak van voer vir die varkboerdery gebruik word.
Hy sê dit voeg 46c/kg by sy produksiekoste vir varkvleis, en sal op die een of ander manier verhaal moet word vir die boerdery om finansieel volhoubaar te bly. Hy verwag dus ’n daadwerklike impak op voedselprysinflasie.
Buiten die R300 000 per maand vir diesel om noodkrag op te wek, is daar ook uitgawes vir onder meer dieselopgaartenks, reservoirs vir noodwater vir die varke, en bykomende vragmotors en sleepwaens om produksie-insette te gaan haal, asook ompaaie wanneer varke afgelewer word om openbare onluste te vermy.
Oor die afgelope 12 tot 18 maande moes die boer R4 miljoen tot R5 miljoen bestee aan verkrygings wat “absoluut geen toegevoegde waarde genereer nie, behalwe om ons besigheid aan die gang te hou.
“Pleks daarvan dat ons geld kan gebruik om die doeltreffendheid en winsgewendheid van ons ondernemings te verbeter en uit te brei, en sodoende meer werk te kan skep en meer produkte te kan produseer, moes ons dit gebruik om bloot te probeer aangaan soos alles reeds is.
“Daar kan dus geen sinvolle vordering wees terwyl beurtkrag voortduur nie.”