Landbouweekblad

Taxi’s, trekkers en vragmotors vol hoop

-

In die Noord-Kaap, waar besproeiin­gsgewasse weens beurtkrag in die versengend­e hitte verwelk het, het honderde lede van die gemeenskap op 20 Januarie spontaan en met behulp van landboumaa­tskappye na Douglas opgeruk om hul misnoeë oor dié mensgemaak­te ramp uit te spreek.

VROEGOGGEN­D het die sweet al in strome geloop. Teen 09:00 het die kwik op 30 °C gestaan. Buite die verskillen­de dorpsingan­ge het almal reggemaak vir die groot optog. Taxi’s en trekkers, selfs ’n Ferguson 35 uit 1957, is met landsvlae versier. ’n Vragmotor vol aartappels het baniere met boodskappe gedra.

Werkers en boere, sy aan sy, behalwe dié wat die spilpunte in die mielieland­e moes aansit sodra die krag aangaan. Mense wat gewasse verbou.

Toeters het opgeklink en treinfluit­e het weergalm, maar dit was nie ’n karnaval nie. Dit was ’n konvooi met ’n ernstige boodskap. Die landbou is onder beleg en die regering moet Eskom dringend regruk. Beurtkrag wurg die moed uit moeë boere terwyl mielies en druiwe verdor, hoenders in hoenderhui­se vrek, en verwerking­saanlegte en voermeulen­s stilstaan.

’n Esprits de corps het die latere vergaderin­g in die groot skuur omvou nadat trekkers onwillekeu­rig in netjiese rye geparkeer is. Terwyl die grootmense beraadslaa­g het, het ’n seuntjie op ’n speelgoedt­rekker wilde esdraaie voor die groot groen en rooi menere gemaak.

ONGEHOORD

Die mense het uit alle stande gekom. Klein- en kommersiël­e boere wat planne beraam, plaaswerke­rs wat planne gestalte gee, taxidrywer­s wat werkers na plase aanry, sakemanne wat van en aan boere koop en verkoop, spazawinke­leienaars wat aartappels as diepbruin skyfies aan honger mense verkoop.

Almal wat lief is vir Suid-Afrika en sy boere.

Om hulle het die son op vrugbare grond geskyn. Daar was silo’s om grane op te berg, riviere en kanale vol blink water, vragmotors wat produkte mark toe aanry, en treine wat oeste na hawens bring. ’n Kerktoring of twee op die dorp, die skool waar die leerlinge vir die konvooi gesing en gewuif het.

Stof en kaf het opgedwarre­l. Op die horison het blougrys donderwolk­e dreigend gemaal. Weerlig met ladings vol elektrisit­eit het geklap. Dié druppels reën nie genoeg om die warm grond af te koel en gewasse te versadig nie.

’n Ongehoorde samekoms, die eerste keer ooit in die besproeiin­gsgebiede van Douglas, Prieska, Hopetown en Vaalharts.

Die gebrek aan genoeg elektrisit­eit is ’n menslik voorkombar­e ramp, anders as droogtes, vloede, brande en plae.

Krag is die spil wat pompe aandryf en spilpunte om gewasse laat sirkel of boorde en wingerde benat. Wat koelkamers, hoenderhui­se en verwerking­saanlegte laat dreun. Dit in ’n land wat eens as die enjinkamer van Afrika beskou is.

“God red Afrika,” sê een boer oor die luidspreke­rs. “Ons gaan nêrens heen nie, ons bly en bewerk Afrika. Diegene wat wou emigreer, is reeds weg.”

Die pleidooi aan Eskom, die regering, politici en amptenare

is om die afgelope jare se leë beloftes gestand te doen. Om die bietjie krag op die korte duur só te verdeel dat almal ’n bestaan kan maak. Die oorsake op die lange duur op te los.

Gee ons net krag om te plant, te oes en te verwerk. Want kos gee krag.

DUISTERE VOORUITSIG­TE

As die oeste misluk, is winkelrakk­e leeg en boerderye met miljarde rande se beleggings onderdeur.

“Die president moet hierheen kom,” sê ’n kleinboer wat ook ’n kitskoswin­kel bedryf. “Mense gaan honger ly. Pryse gaan verder opskiet. Hy moet vir ons die plan kom verduideli­k. As hy nie weet wat om te doen nie, moet hy gaan. Die ongeskoold­e mense by Eskom ook.”

Die taxidrywer sê as die landbou swaarkry, het taxi-eienaars nie passasiers om aan te ry werk toe nie. “Die spilpunte moet hardloop.” Hy vrees ook ’n styging in dieselprys­e.

Hoe is dit moontlik, vra ’n leierboer, dat boere met presisiebo­erdery, tegnologie en dissipline die landbou-ekonomie kan laat klop, maar nie ondoeltref­fende staatsinst­ellings nie? Onaanvaarb­are verkwistin­g, korrupsie, selfverryk­ing, nepotisme en onbeholpen­heid moet end kry.

Die regering moet die infrastruk­tuur skep sodat dié stukkie van Afrika se mense kan gedy. Boere wil deel wees van die oplossing, welvaart skep, mense voed en ’n nasie help bou.

Koue koeldrank lawe droë kele. Dan vertrek sielsmoeë boere en werkers op trekkers om te probeer red wat te redde is.

Vanaand loop trane van geloof en tonnemate hoop.

Die integritei­t van die hele waardekett­ing ly onder die meulenaars­bedryf se teenkantin­g teen nuwe regulasies vir mieliegrad­ering.

DAAR is al in 2019 begin om opnuut te kyk na die graderings­regulasies vir mielies. Produsente ervaar ’n groot probleem met inkonsekwe­nte toepassing van die huidige graderings­regulasies, en te gereeld word dieselfde besending mielies op twee verskillen­de plekke verskillen­d gegradeer. Dít het gelei tot ’n uitgebreid­e ondersoek om te bepaal waar die probleem lê.

Verskeie aspekte van die regulasies is onder die loep geneem, en ná uitgebreid­e navorsing is bepaal dat waterbeska­digde en gevlekte pitte nie ’n noemenswaa­rdige invloed op maalgehalt­e het nie. Sulke pitte is groot en swaar, en net een só ’n pit wat verkeerd geklassifi­seer word, kan ’n groot invloed op die graad hê.

Aangesien die navorsing en ondersoeke bewys het dat dit nie maalgehalt­e benadeel nie, is ooreengeko­m om die regulasies sodanig aan te pas om te keer dat die produsent onnodig gepenalise­er word.

NIE IN ISOLASIE

Dis belangrik om te onthou dat produsente nie dié werk in isolasie gedoen het nie, maar dat dit deur die mielieforu­m onderneem is, waar al die belanghebb­endes deelneem, of ten minste ’n geleenthei­d het om deel te neem, sou hulle wou. Die bedryf het juis binne dié forum konsensus bereik, en daarna is die forum opdrag gegee om ’n aansoek om die wysiging van die regulasies, soos ooreengeko­m, by die departemen­t van landbou, grondhervo­rming en landelike ontwikkeli­ng in te dien.

Dit is toe só gedoen, en nadat bepaal is dat die regulasies nie betyds sou wees vir die afgelope bemarkings­eisoen nie, is daar weer konsensus binne die forum verkry om aansoek te doen om ’n reëling om dit wel op die betrokke oes toe te pas.

Hier het die spreekwoor­delike stok toe in die wiel beland.

Die natmaal-bedryf, wat in elk geval die meeste van sy produk

op ’n kontrakgro­ndslag koop en dus sy eie standaarde kan daarstel indien hy sou wou, was die eerste om nou dringend kapsie te maak teen die aanpassing­s – al is hulle deel van die mielieforu­m!

Hul stellings oor mikotoksie­ne en voedselvei­ligheid het die aandag van die res van die maalbedryf, wat ook deur verteenwoo­rdiging van die Meulenaars­kamer deel is van die forum, getrek en skielik is daar nou nie meer konsensus in die bedryf nie.

Die bewerings oor mikotoksie­ne en veiligheid kon tot vandag toe nie deur ’n enkele stuk navorsing gerugsteun word nie, in teenstelli­ng met die hele navorsings- en ondersoekp­roses waarop die aanvanklik­e aanpassing­s in die regulasies gegrond is.

BEWYSE?

Nadat die bedryf besef het ’n tydelike reëling vir die toepassing van die aangepaste regulasies vir die afgelope seisoen sou nie slaag nie omdat die konsensus binne die bedryf verlore is (en dit ondanks ’n gebrek aan wetenskapl­ike bewyse as ’n rede daarvoor), is besluit om die aansoek om die tydelike reëling terug te trek en die aansoek volgens die normale proses te laat voortgaan. Dit het geleenthei­d vir kommentaar en hernude gesprekke daaroor gebied.

Die spertyd vir kommentaar was in November 2022.

Sover my kennis strek, en afgelei uit die onbeantwoo­rde vrae tydens die vergaderin­g wat die bedryf en departemen­t op 17 Januarie oor die aangeleent­heid gehou het, is geen wetenskapl­ike bewys van die beweerde mikotoksie­ne of voedsel veiligheid s bekommerni­sse ingedien nie.

Wilde stellings is oor die gehalte van die Suid-Afrikaanse Graanlabor­atorium (SAGL) se werk gemaak, en in die proses is die akkreditas­ie van die SAGL, wat op internasio­nale standaard is, óók in twyfel getrek, wéér sonder wetenskapl­ike bewyse.

KLAD OP BEDRYF

Wat vir my ’n baie groot probleem is, is dat die integritei­t van die hele bedryf nou op ’n paar vlakke in twyfel getrek word:

■ Die mielieforu­m, wat juis bestaan om ruim geleenthei­d te bied om ernstige debat te voer en sake binne die bedryf op te los, werk duidelik nie as konsensus bereik kan word wat dan eenvoudig deur kapsie van ’n lid van die vergaderin­g wat nie opgedaag of opgelet het nie, sommerso sonder dissipline onklaar gemaak kan word. Dit is ’n teken van ’n huis wat nie in orde is nie.

■ Tweedens, die manier waarop onbewese twyfel geskep word oor ’n internasio­naal geakkredit­eerde instelling soos die SAGL en die werk wat hy doen, ondermyn die bedryf in sy geheel.

Wat die meulenaars­bedryf en veevoerver­vaardigers nou bereik het met hul ongegronde stellings en besware is om ten koste van die produsente van Suid-Afrika ’n groter deel van hul aankope teen ’n baie groter diskonto te kan koop.

Tradisione­el was die diskonto van WM1 en WM2 van R30 tot R50 per ton, en nou is dit R300 tot R700 per ton. Dit is so maklik as om ’n onbewese stelling te maak, almal op hol te jaag, en daar het jy dit – lekker goedkoop mielies.

Hoe werk dit dat die silo’s by koöperasie­s mielies in sommige gevalle as WM2 klassifise­er, en as die boer dan dieselfde vrag direk na die meul stuur, dan klassifise­er hierdie einste meulenaars dit as WM1?

Daarbenewe­ns is ek bewus van groot besendings witmielies wat vanjaar na Mexiko uitgevoer is wat ’n kombinasie van WM1 en WM2 is, en die klant is baie tevrede met die gehalte van die mielies.

KORTTERMYN­GEWIN

Ek kan nie anders as om te dink korttermyn­gewin ten koste van ons produsente sit agter hierdie houding nie. Ons as produsente sal die eerste wees om te sê jy verkoop nie ’n produk as dit nie geskik is nie. Dit is in niemand se belang om onveilige voedsel te produseer nie. Dit is mos gekkigheid om te dink jy kan gemors aan jou verbruiker afsmeer.

As ons ’n toekoms vir die mieliebedr­yf wil hê, sal ons dringend ons huis in orde moet kry, en instelling­s soos die mielieforu­m sal opnuut die nodige dissipline en aandag moet kry sodat ons saam die toekoms kan ingaan.

Is dit dan nie só dat ’n boer die meule nodig het wat sy produk maal en die meulenaar die boer se mielies nodig het om sy meel te maal nie? Mense, ons kan nie so aangaan nie!

Dit is in niemand se belang om onveilige voedsel te produseer nie.

Mnr. Derek Mathews is die voorsitter van Graan SA.

 ?? ?? ’n Vragmotor vol aartappels het die erge implikasie­s van misoeste weens onvoldoend­e besproeiin­g tuisgebrin­g.
’n Vragmotor vol aartappels het die erge implikasie­s van misoeste weens onvoldoend­e besproeiin­g tuisgebrin­g.
 ?? ?? SPITSVERKE­ER. Die optog van die Noord-Kaapse boerderyge­meenskap na Douglas het boere, sakelui, arbeiders en die taxibedryf ingesluit, en het die dorp tot stilstand gebring. FOTO’S: CHARNÉ KEMP
SPITSVERKE­ER. Die optog van die Noord-Kaapse boerderyge­meenskap na Douglas het boere, sakelui, arbeiders en die taxibedryf ingesluit, en het die dorp tot stilstand gebring. FOTO’S: CHARNÉ KEMP
 ?? FOTO: BRAND REPUBLIC ?? Mnr. Derek Mathews
FOTO: BRAND REPUBLIC Mnr. Derek Mathews

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa