Wingerd: Navorsers bewys aanname oor knopmyte verkeerd
LUIDENS ’n studie in die joernaal Diversity kom verskillende spesies myte reg oor druifplante voor. Elkeen is nie eksklusief tot spesifieke plantdele beperk of vir spesifieke simptome verantwoordelik nie.
Dit het implikasies vir die plaagbekampingsprogramme van Suid-Afrikaanse wingerdkundiges, meen navorsers van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, die Universiteit Stellenbosch (US) en die Landbounavorsingsraad (LNR) wat die studie onderneem het.
Die knopmyt (Colomerus vitis) is ’n wêreldwye wingerdplaag. Die volwasse knopmyte is net 0,1 mm tot 0,2 mm groot en te klein om met die blote oog gesien te word. Hul eiers en larwes is selfs kleiner.
Die hoofnavorser van die studie, dr. Davina Saccaggi, wat gedurende die dekade lange navorsingsprojek by die departement se diagnostiese dienste vir plantgesondheid werksaam was, werk deesdae vir Citrus Research International. Volgens haar hou hul bevindinge praktiese implikasies in vir hoe produsente op wingerdmyt-besmettings moet reageer.
“Produsente het altyd aanvaar dat daar een soort myt is wat knopsimptome soos knoppieblaargalle veroorsaak, en ander wat simptome soos krulblaar veroorsaak. Daarom het hulle dit tipies afsonderlik hanteer, asof elkeen deur verskillende lyne veroorsaak word.
“Gewoonlik sal hulle eers optree wanneer simptome in die rustende ogies sigbaar word. Dit kan lei tot misvormde lote, blare en trosse en selfs tot vernietigde ogies, en sodoende ’n ekonomiese impak op die volgende oes hê. Ons genetiese studies toon dat daar verskillende spesies myte is. Elkeen is egter nie beperk tot spesifieke dele van ’n druifplant nie. Jy kan elke spesie reg oor die plant kry,
selfs almal gelyktydig. As die boer dus net spuit weens knopmytsimptome, maar tekens op die blare ignoreer, sal dieselfde myte net weer in die volgende seisoen in die ogies verskyn.”
Haar medenavorser, dr. Ellenorah Allsopp van die LNR Infruitec-Nietvoorbij, sê skade word aangerig as myte in rustende ogies voed. Die simptome is dan sigbaar sodra die ogies begin bot.
“Die verskillende simptome is almal gevaarligte vir dieselfde probleem. Produsente moet dit dus daarvolgens bestuur totdat navorsers meer hieroor kan uitvind,” sê dr. Barbara van Asch van die departement genetika aan die US.
Hul genetiese studie het gewys daar is minstens vyf spesies wingerdmyt wêreldwyd, waarvan minstens drie in Suid-Afrika voorkom.