DIE SKADE VAN WEN
Die natuur probeer altyd ’n ewewig vind. Plante sal op verskillende tye en so lank as moontlik blom om hulle die beste kans op bestuiwing te gee. Die meevallertjie is dan dat insekte, voëls en knaagdiere wat die nektar en stuifmeel vreet, ook sommer vir ’n langer tyd kos het. Só wen almal uiteindelik.
Ja, ’n individuele rooibok boet met sy lewe om ’n leeu te voed, maar die hele stelsel word sterker en veerkragtiger wanneer swakker diere verwyder word.
Dit is juis dié ewewig waarna baie boere in hul eie boerdery streef. Aangepaste diere wat reg wei, stimuleer die veld om meer en ’n groter verskeidenheid plante op te lewer — ’n klomp ekstra goedkoop voer (en medisyne) vir die boer.
Organismes in gesonde grond lewe van die koolstofsuikers wat plante se lewende wortels afskei, en in ruil daarvoor lewer hulle voedingstowwe aan die plant. Die gevolg? ’n Kleiner kunsmisrekening, sterker plante en dus hopelik ook minder chemiese middels.
Maar in die algemeen sukkel ons maar om in balans met die natuurlike omgewing en mekaar te lewe. By die mens is daar altyd ’n wenner en ’n verloorder. Iewers moet iemand slegter daaraan toe wees. Vandag het die natuur al só baie verloor, ons staar oor ’n ekologiese afgrond.
In ons handelinge met mekaar gaan dit nie veel beter nie. Die aggressiewe kapitalisme wat Amerika graag voorstaan waar iemand altyd moet seerkry, is vandag die norm. Ontwikkelde lande sal nie skroom om hul belange eerste te stel nie, ongeag die impak elders. Toe hul ekonomieë swaar trek ná die finansiële krisis (wat hulle opgekook het!), gaan staan en druk hulle eenvoudig meer geld. Vandag stoei die hele wêreld met ’n enorme inflasieprobleem weens onder meer dié onbesonne besluit. Een wat Zimbabwe, terloops, ook as ’n goeie idee beskou het!
As die Spanjaarde krapperig raak oor Suid-Afrika se sitrusuitvoer, maak hulle eenvoudig stories op sonder wetenskaplike bewyse. Die Amerikaners sal nie skroom om marktoegang te gebruik as stok om ons mee te slaan nie wanneer hulle goedkoop hoenderporsies hier wil kom stort nie.
Maar voor ons té prekerig raak, behoort ons eers voor ons eie deur te vee. Ons doen dit dan aan mekaar. Met die bom wat onlangs in die mieliebedryf oor graderings gebars het, lyk dit of eiebelang hier ook maar die botoon voor.
Ondanks navorsing deur die Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium, wat aan internasionale bedryfstandaarde voldoen en wat bevind het waterbeskadigde of gevlekte pitte het nie ’n noemenswaardige invloed op meelgehalte nie, dring meulenaars steeds daarop aan dat sulke mielies afgegradeer moet word. Is dit miskien omdat hulle R300-700 per ton minder betaal vir WM2-mielies? vra Derek Matthews, voorsitter van Graan SA, op bl. 20. Dit sou ongelooflik kortsigtig wees as dit waar is.
Boere gaan gebuk onder onuithoudbare inflasiedruk (bl. 22), om nie eens te praat van die verwoesting wat beurtkrag tans saai nie. Daardie R700/ton kan deurslaggewend wees vir baie plase se balansstate.
En kom ons vergeet ook nie vir ’n oomblik nie dat al die waarde waarby die hele waardeketting tot by die verbruiker baat vind, eers op plase geskep moet word deur boere wat bereid is om ongemaklike risiko’s te loop. Sonder boere sou daar nie ’n meulenaarsbedryf gewees nie — en ook nie ’n platteland nie.
Soos Derek dit stel: “Ons kan nie so aangaan nie, mense!” Die skade is té groot; die ewewig té versteurd.