Niks is altyd iets
Hoeveel is niks? Nee, ek probeer nie om snaaks te wees nie. Ek is heel ernstig wanneer ek dié vraag vra. Miskien kan jy my help om ’n sinvolle antwoord te kry. Ek het aan myself die vraag gevra en my telkens in ’n onbevredigende antwoord vasgeloop waar my poging om ’n definisie te gee, beslis nie die woord “niks” kon vasvat nie. Dit is ’n glibberige woord wat soos ’n kurkprop wat jy onder die water probeer druk, telkens op ’n ander plek uitspring.
Luister net na die volgende gesprek. ’n Pa vra vir sy tienerseun: “Boeta, kyk my in die oë en sê vir my eerlik: Was jy betrokke by die vrugtestelery?” Die seun antwoord: “Nee, Pa, ek het niks gedoen nie.” Die pa vra weer: “Het jy geweet daarvan?” Dan antwoord die seun: “Ja, Pa, maar Pa kan my glo, ek het niks gedoen nie.” Nou bly die vraag: Wat was die betekenis en inhoud van die seun se “niks”? Was dit werklik niks? As jy iets moes gedoen het en jy het nagelaat om dit te doen, dan was dit mos nie niks nie.
Dit wil vir my voorkom of niks ’n woord is wat op geen manier by ’n mens pas nie. In die aangrypende oorwinningslied van Debora en Barak (vgl. Rig. 5:23) word gesê dat Meros gevloek moet word. Hoekom dan? Want toe hy vir die Here moes gaan veg het, het hy tuis gebly – met ander woorde hy het niks gedoen nie. Sien jy dat niks tog ’n bepaalde inhoud het – en dis nie niks nie!
Dieselfde kan gesê word van die priester en die Leviet (vgl. Luk. 10:25). Hulle het by die gewonde Samaritaan verbygestap en niks gedoen nie – regtig?
Kan ’n mens, geskape na die beeld van God, geskape as ’n redelike, sedelike en intelligente wese, werklik niks doen nie?
Nee, dit wil nie so voorkom nie. Niks is nie niks nie. Niks is altyd iets – goed of sleg.