Naasteliefde in die lente
En so word dit Oktober en God se taal van liefde bollemakiesie in my tuin. My tuin is werklik my toevlugsoord wanneer ek voel die dag gaan somber wees. Ek voel om sommer net te dans en rondomtalie te draai in ’n karnaval van kleure, geure en die voëltjies se getjirp.
My elektroniese hek se klokkie lui en met ’n huppel in my stap van vrolikheid en blymoedigheid gee ek aandag aan die klokkie wat my roep. Voor my staan ’n klein, fynbesnaarde swart vroutjie met die mooiste glimlag. Ek sien in haar skurwe hande ’n bossie veldblommetjies. Hierdie vroutjie maak ons vullissakke elke Woensdag oop op soek na ietsie te ete vir haar en haar dogtertjies. Sy vat my hande in hare en sê hoe lief sy my het – sy noem my die vrou met die hart van goud. Sy plaas die blommetjies (gebind met ’n grashalmpie) in my hande en sê dit is haar pasella aan my omdat sy weet dat ek elke blommetjie gaan waardeer.
Ek nooi haar in en maak ’n pot rooibostee en bied haar melktert met baie kaneel aan. Ons raak aan die gesels – sy vertel van God se liefdestaal – sy mildelike seëninge en liefde vir haar en haar kindertjies. Die afgelope tien jaar bly sy in ’n piepklein sinkdakhuisie neffens die ashope. Ek voel hoe die hartseer in my opwel – sy vertel my sy en haar kinders het nog elke dag iets te ete en elke aand slaap hulle veilig onder God se kombers van liefde en vrede.
Ek dink by myself, kan een dag só ’n groot verskil maak aan die betekenis van die lewe? Hierdie vroutjie met die hart van liefde en die passie van die mooi in die lewe het my geleer dis die klein dingetjies in die lewe wat saak maak. Geld en wêreldsgoed het weinig in vergelyking met die liefde wat party mense vir ander het. Oktobermaand sal altyd vir my ’n bekoring inhou.