Verstaan die vleisverbruiker
Wagyuvleis word wêreldwyd as ’n premieproduk beskou, maar dit maak die bemarking daarvan nie altyd makliker nie! Suksesvolle strategieë om verbruikers te bereik, hou waardevolle lesse vir die hele vleisbedryf in.
Wagyu-vleis is dalk nie so skaars soos wors in ’n hondehok nie, maar dié bedryf weet hoe om die skaarsheidsfaktor slim in te span. Groter samewerking in die vleisbedryf moet nou hoog op almal se voorranglys wees, is op die Wagyu-vereniging se kongres by Franschhoek bepleit.
“’n Wagyu-karkas van 383 kg en met ’n marmeringstelling van 5 kan wins van meer as R19 000 in die sak bring,” het Anton Olkers, ’n Wagyu-blokman van Pretoria wat destyds ook die jongste opgeleide slagter in Suid-Afrika was, bereken.
Hy het uitgewys dat voorkeursnitte, soos lendefilet (tenderloin), kortlendestuk, picanha en riboog, net ’n klein persentasie van die karkas uitmaak. Bene, vet en die vleis wat oorbly nadat die topsnitte gesny is( trimmings) maak tot 40% daarvan uit.
“Jy kry nie geld vir vet en bene nie, en op hierdie karkas, wat net ’n marmeringstelling van 5 het, was daar 13% vet. Dít is waar die probleem lê. Jy moet kan ontslae raak van jou trimmings deur byvoorbeeld boere- of droëwors te maak, maar dan moet jy ’n mark daarvoor hê,” het hy benadruk.
Anton, wat ook ervaring in die kleinhandelbedryf het, het raad gegee aan Wagyu-boere wat nog nie die waardeketting betree het nie oor hoe om hul vleis te bemark.
“As jy nie jou eie waardeketting het nie, kan jy jou lewende hawe aan die slagplaas verkoop wat vir jou ’n vaste prys daarvoor sal gee. Jy kan ook hande vat met ’n groter verskaffer wat reeds ’n waardeketting het en die produk onder sy – of jou eie – handelsmerk bemark.”
Hy het wel gewaarsku dat slagplase nie graag Wagyu-beeste slag nie, want waar hulle 150 kommoditeitsbeeskarkasse per dag kan slag en ontbeen, kan hulle in dieselfde tyd net 15 Wagyus slag en verwerk.
“Jy het verskillende marmeringstellings, wat beteken jy moet dit volgens lotte – vanaf net een dier – verwerk. Tussen elke lot moet jy skoonmaak en messe uitruil voor jy kan voortgaan. Dit is ook ’n moeilike karkas omdat daar so baie trim betrokke is, maar dit is ook ’n premieproduk waar- ▶
mee dus baie versigtig gewerk moet word. Dit is waarom dit ’n hele dag duur.”
Nog ’n opsie is om aan kleinhandelaars en plaaslike slagters te bemark, maar daarvoor moet jy ’n goeie verhouding met hulle opbou. “Dit bied jou die kans om betrokke te raak by verwerking, soos die maak van wors, droëwors en rissiehappies. En by die verkoopspunte kan jy ’n snitdiagram plaas en baie inligting aan klante gee om hulle bewus te maak van Wagyuvleis. Dit is ook ’n goeie idee om Wagyu eenkant mooi en aantreklik uit te stal om mense soontoe te lok.”
Volgens Anton wil mense gewoonlik die hoër marmeringstellings (7-9) hê, maar hy meen daar is ’n groot bemarkingsgaping vir die laer tot middelmarmeringstellings. Anders as met kommoditeitsbeesvleis, waar 20 klas A-beeste vir jou 20 klas Akarkasse sal gee, kry jy waarskynlik uit 20 Wagyu-karkasse 3 met ’n marmeringstelling van 0-3, wat ’n kommoditeitsprys by die slagpale beteken.
“My advies is om eerder ’n verhouding met die slagter of kleinhandelaar te bou en dié vleis teen ’n laer marge in ’n niswinkel te verkoop. Dit gee aan verbruikers die Wagyu-ervaring, al is dit nie so goed soos ’n hoër marmeringstelling nie. Dalk later, wanneer daar ’n spesiale gebeurtenis is, is hulle bereid om die geld te betaal vir ’n marmeringstelling van 8, maar intussen sal jy meer waarde kry vir jou diere met marmeringstellings van 0-3.”
Restaurante en hotelle
Die gasvryheidsbedryf is ’n belangrike afsetpunt, maar Anton sê dit verg goeie persoonlike verhoudings, harde werk en moeite, en die wins is dikwels nie so hoog nie.
“Hulle soek net voorkeursnitte, soos riboog en lendestuk – die beste van die beste. Dit is waarom jy ’n uitstekende verhouding moet hê, want hulle kan byvoorbeeld chuck eye (dikriboog) manipuleer en as ’n riboog bemark. Jy gaan ook sit met bladsteak (flat iron), bavette en ander snitte waarvan jy moeilik ontslae gaan raak as jy die gasvryheidsmark bedien. In dié mark gaan jy ’n goeie vastrapplek kry as dit kom by gehalte en hoër marmertellings, maar verwerking kan ’n probleem wees, tensy jy van die trim kan ontslae raak deur smash-burgers of Wagyu-burgers.”
Nóg ’n struikelblok in die gasvryheidsmark is die logistiek, want jy gaan kleiner hoeveelhede aan meer kopers lewer, pleks van om die grootste gros van jou produk op een slag te verkoop en kettinggroepe te kry om die verspreiding te doen.
Verkope aanlyn bied ook goeie geleenthede vir Wagyu-vleis, veral omdat klante nie noodwendig weet wat om te koop nie en die verkoper hulle in ’n rigting kan lei.
“Die grootste probleem in die Wagyubedryf is bewusmaking onder verbruikers. Ons moet hulle opvoed deur byvoorbeeld sosiale media, soos TikTok. Dit is ook belangrik om ’n handelsmerk te skep vir jou Wagyu-produkte wat jy wil bemark.”
Hy sê bewusmaking kan wees deur die voordele van die vleis te benadruk of om mense te leer hoe om met die vleis te werk.
“Dit is ’n goeie idee om ’n snitdiagram te hê sodat mense kan sien hoe die verskillende snitte lyk.”
Dink oor verpakking
Anton het Wagyu-vleis ook met ’n Ferrari of die Louis Vuitton-handelsmerk vergelyk. “Verpakking word afgeskeep. Jy het ’n Ferrari of ’n Porsche of ’n Louis Vuitton, wat Wagyu is, maar dan verpak jy dit in gewone vakuumverpakking wat jou maar 14 dae raklewe gee en ’n goedkoper opsie is.”
Hy het ook vertel van opsies soos cryovac-, thermoforming- en PVDC-stringverpakkings, wat 60-120 dae se raklewe bied. Laasgenoemde is spesifiek op die uitvoermark gerig.
Drie soorte verbruikers
Volgens Johan Strydom, ’n entrepreneur van Gordonsbaai wat die Prime Wagyu-kudde in die Vrystaat begin het, is daar drie tipe mense wat “jou sal bedank as jy Wagyu aan hulle bekend stel”.
“Hoe meer jy mense, hul probleme en wat hulle motiveer, verstaan, hoe beter kan jy oplossings daarvoor vind. Ek het gaan nadink oor watter mense na jou winkel of restaurant sal kom en bly sal wees as jy Wagyu aan hulle bekend stel omdat dit ’n produk is wat hulle in hul lewe wil hê en nie voorheen van geweet het nie.”
Die eerste groep mense is aspirerende klante. Dit is mense wat hard werk en in die korporatiewe wêreld of as entrepreneurs werk. Hulle streef daarna om welvarend te wees en word aangespoor deur handelsmerkprodukte wat eksklusiwiteit en goeie ervarings bied.
Volgens Johan word die meeste van dié verbruikers in ontwikkelende lande in Latyns-Amerika, die Midde-Ooste en Asië gevind, waar mense hul lewensgehalte wil verbeter. Suid-Afrika is die land ter wêreld met die naasmeeste aspirerende klante.
Die tweede groep mense is emosionele kopers wat deur gevoel pleks van rede gedryf word om aankope te doen. Volgens hom is sowat 75% van vroue en 43% van mans emosionele kopers.
“Wagyu los dieselfde probleme as organiese kos op vir emosionele mense. Die belangrikste beweegrede waarom mense organiese kos koop, is die vrees vir konvensionele kosprodukte. Ons weet die Wagyu-sertifisering waarborg ’n goeie eetervaring, maar dit dui ook op ’n vreesfaktor vir die alternatief. As jy kos vir jou en jou gesin koop wat nie vir sekere produksiemetodes gesertifiseer is nie, wat eet
jy dan? Deur vir mense te sê ons gebruik nie toegevoegde groeihormone of roetine-antibiotika nie en dat die vleis gesonde vetsure bevat, hoe kan hulle vir hul kinders iets anders gee? Die vreesfaktor is ’n werklikheid.”
Veral burgers en wors is goeie produkte vir dié segment. Dit is nie te duur nie, maar bied dieselfde voordele. “Die feit dat dit beter smaak, is net ’n bonus.”
Die derde groep verbruikers is diegene wat verkies om die uitsondering op die reël te wees en nie deur die hoofstroom ingesluk wil word nie.
“Hulle is analities en intelligent, en my advies is as jy só iemand teëkom, is om vir hulle te sê Wagyu is nie die produk vir hulle nie en boonop te duur. Hulle wíl verskil met alles wat jy sê, en as hulle dan vir jou vertel waarom dit presies die regte produk vir hulle is, het jy in jou doel geslaag.”
Johan sê skaarsheid strek soms tot Wagyu se nadeel, veral in restaurante waar bestendige voorsiening van die regte snitte soms ’n probleem is. “My advies is om dit op die swartbord te sit saam met skaars en seisoenale produkte, soos kreef en lynvis, en nie op jou spyskaart nie. Dié skaars produkte word as waardevoller gesien en mense is meer geneig om dit te wil hê.”
Die stryd tussen Hilux en Ranger het al baard. Dit is gelyk aan die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks, Mercedes-Benz en BMW, die WP en die destydse Noord-Transvaal, Gerrie Coetzee en Kallie Knoetze.
Sover ons kennis strek, is niemand nog in die bakkiestryd dood nie, maar almal weet die twee partye het min ooghare vir mekaar.
In die Hilux-hoek van die kryt roem Toyota op betroubaarheid, duursaamheid, inruilwaarde en naverkopediens, terwyl Ford terugskiet met sy V6-bakkies se gerief, grootte, krag, styl en tegno-truuks. Hierdie eienskappe behoort sonder twyfel tot die Ranger se arsenaal, en die boere het voor sy sjarme geswig . . . met voorbehoude hier en daar.
Sessilinder-dieselkrag
Ford het sy drieliter-V6-diesel gekies om aan die Bakkie vir ’n boer-uitdaging deel te neem. Die blokenjin van dié enjin, wat slegs in Wildtrak-formaat te kry is, is van gekompakteerde grafietyster (CGI) gemaak. Die vervaardiger sê dit maak hom aansienlik sterker en stewiger as ’n gewone ysterblok.
Die V6-turbodiesel ontwikkel 184 kW en 600 Nm, wat heelwat lewe gee aan ’n lyf wat 2,4 ton weeg. Dit is gekoppel aan ’n voltydse vierwielaandrywingstelsel en Ford se wakker outomatiese tiengang-ratkas.
“Voltyds” beteken die bakkie kan met outomatiese vierwielaandrywing (4A) aangeskakel
ry – op enige padoppervlak – nes die Mitsubishi Triton en VW Amarok. Wanneer die bestuurder 4A gekies het, verdeel die stelsel (in die ry) krag tussen die voor- en agteras. Die ander viertrek-verstellings is 2H, 4H en 4L.
Die V6-diesel-Ranger loop op 18 duim-allooivellings geskoei met “veelseisoen-bande,” maar kopers kan 18 duim-veldbande kies. Die wiele het skyfremme voor en agter.
Luukse kajuit
Die meeste boere glo binneversiering is ’n vrou se spesialisgebied en nie iets om hulle mee ▶
te bemoei nie. Maar dit beteken nie ’n man kan nie ’n mooi voertuigkajuit waardeer nie. En mooigeit het die V6-Wildtrak in oorvloed, meen die vier boere op ons paneel.
Die nuwe Ranger se spoorwydte is breër as tevore, asook die afstand tussen die voor- en agteras. Hierdie verbeterings het ’n breër laaibak en groter binneruim tot gevolg. Ford sê die spoorwydte het dit moontlik gemaak om die suspensie anders te heg, vir meer ritgerief. Nie al die boere dink laasgenoemde skuif het gewerk nie.
Die kajuit is nie net ruim en netjies nie, maar ook luuks. Die voorste stoele verstel elektries in agt rigtings en daar is leerbekleedsel vir almal. Daar is ook genoeg USB-poorte (tipe A en C) vir almal, ’n koordlose laai-oppervlak vir versoenbare selfone en ’n kragtige B&O-klankstelsel met tien luidsprekers.
Die bakkie se groot volkleur-raakskerm (met vlymskerp beeld) het die manne verdeel. Van hulle meen dit hoort in ’n luukse passasiersmotor, nie ’n plaasbakkie nie. Hul kinders sal egter nie saamstem nie.
Ford was slim om fisieke knoppe vir die lugversorging te behou, maar jy kan dit ook met die raakskerm verstel.
Nóg iets wat die bakkie ’n trap bo sy teenstanders plaas, is dat hy 12 V-sokke én 240 V-sokke in die kajuit en in die laaibak het. Jy kan dus ’n koordlose boor of skootrekenaar se battery laai, of selfs ’n ysmaker aandryf.
Van noodsaaklike elektriese toebehore gepraat: Die Wildtrak het ses skakelaars op ’n oorhoofse konsole om die installering van elektriese bykomstighede te vergemaklik. Ford het reeds die bedrading in die bakkie aangelê. Daar is ook ’n doelgeboude plek onder die enjinkap vir ’n tweede karbattery.
Uitstaande kenmerke
Dit sal ’n mors van só ’n groot skerm wees om dit net vir Google-navigasie of Apple Music te gebruik. Ford benut dié 12 duim-meesterstuk ook om die bestuurder te wys wat om hom aangaan, met behulp van ’n spul kameras. Dit het gekeer dat van die boere se senuwees op hol gaan op die hindernisbaan.
Met die druk van ’n knoppie kan die bestuurder ’n veldryskerm aansit. Dit vertoon aandrywing- en ewenaarslot instellings, dies t uurhoek, hellings, asook ’n voorkamera-aansig met riglyne.
Nog ’n nuttige kenmerk van dié reusebakkie, veral in die groot stad, is Active Park Assist 2.0, wat hom sommer vir jou parkeer.
Verder is hy toegerus met band druk monitor sen’ n rits bestuur hulpmiddels asstand aard- toerusting. Hy kan jou help om die pad te bespied en hy kan self stuur, rem of vet gee, tensy jy nie hiervan hou nie en dit afsit.
Vir ekstra gemoedsrus stel die bakkies eB LIS-bystand s tegnologie die bestuurder in staat om die grootte van sy sleepwa in die rekenaar in te voer vir ekstra dekking van blindekolle.
Daar is sewe lugsakke om insittendes te beskerm in geval van ’n botsing.
Die V6-diesel het ses ritmodusse: Normal, Eco, Tow/Haul, Slippery, Mud/Ruts en Sand. Hierdie ses modusse pas onder meer rat skakeling, versneller reaksie, gly beheer, stabiliteit s kontroles en ABS aan.
Gestel jy wil gaan duine ry in Namibië, maar jy het geen sandervaring nie. Met sy Sand-modus maak die V6-diesel-Wildtrak dit maklik. Só sal hy die enjintoere hoog hou wanneer jy vet gee, pleks daarvan om na die volgende rat oor te skakel, met die gepaardgaande risiko dat jy dan vasval.
Maar selfs met só ’n slim bakkie kan jy jou willens en wetens in ongemaklike omstandighede bevind. Om kwesbare onderdele teen groot klippe te beskerm, het die V6-diesel-Ranger skermplate vir die stuurmeganisme, oliebak, ratkas en oordragkas. Hierdie “skilde” is gemaak van saamgeperste en gevoude lasergesnyde staal.
Die rithoogte is 237 mm en hy kan deur water 800 mm diep beur.
Ford het al ’n paar keer bewys hoe ingenieursvernuf en slim elektronika moeilike bestuur stoestande makliker en veiliger kan maak.
Die Ranger het egter die bal vorentoe aangegee in die remtoets, maar dit is iets wat Ford kan en waarskynlik sal verbeter.
’n Mens moet immers die teuels betyds kan intrek as jy op ’n vuurvreterenjin sit.
Hy kan jou help om die pad te bespied en hy kan self stuur, rem of vet gee...