Captain Courageous oor grootword, kanse waag en dáái game
Sy grootwordjare op ’n Zambiese plaas en pendelskoollewe na Suid-Afrika — reeds van vier jaar oud af – het Corné Krige deels help voorberei vir die kragdadige spel wat sy beroepsrugby loopbaan gekenmerk het.
Boere, hou asseblief moed in hierdie moeilike tye. Suid-Afrika het julle nodig. Dít is die pleidooi van Corné Krige, oftewel Captein Courageous, die oud-Springbokkaptein wat vir die eerste paar jaar van sy lewe daagliks op hul familieplaas naby Lusaka in Zambië wakker geword het.
Sy pa en oom het die plaas, Karubwe, by hul pa gekoop en saam het die broers ’n sukses van die gemengde boerdery van mielies, tabak en beeste gemaak. “Ons het selfs in ’n stadium met 1 500 varke geboer.”
Sy grootwordjare op die plaas was egter nie soos meeste plaaskinders in Suid-Afrika s’n nie en herinneringe is nie van eindelose rondry op trekkers en planters nie, want op vierjarige ouderdom moes hy Suid-Afrika toe kom om met sy skoolloopbaan in die Paarl te begin.
Die afstand het beteken Corné, die jongste van drie boers, en sy boeties kon slegs twee keer per jaar plaas toe gaan, gewoonlik in die winter- en Desembervakansie.
“Ek het wonderlike herinneringe van net speel op die plaas saam met my broers, niggies en die plaaswerkers se kinders. Ons het ook in die Junievakansie gaan jag.
“Een van die ander groot herinneringe is die groot dam wat ons op die plaas gehad het. Die dam was 2 km lank en mense het van oral in die omgewing gekom om te kom ski en tjoep ry.”
Hy geniet vandag nog alle watersport, en veral ski.
Rolle omgekeer
Grootword só ver van die huis af – en ook sy jare in Zambië – het hom egter goed voorberei op sy rugbyloopbaan. Die kosbare ervarings wat hy opgedoen het, het baie gehelp met sy uittrede uit rugby en oorgang na die korporatiewe wêreld.
“Tydens ons grootwordjare was Zambië
se politieke omgewing heelwat anders as in Suid-Afrika. Ras het vir ons as kinders glad nie ’n rol gespeel nie. Dit was later jare tot my voordeel toe ek in Suid-Afrika rugby begin speel het en nie bedreig gevoel het deur die politieke veranderinge nie.
“In Zambië werk die mans in die huis en vroue op die lande. Sampson Banda, wat dekades lank vir ons familie gewerk het, het byvoorbeeld in ons huis gewerk en tussen die kosmaak gehelp om ons groot te kry. Soggens het ek saam met ons gesin ontbyt geëet, en daarna saam met Sampson na sy huis digby ons s’n gestap en daar saam met hom wéér ontbyt geëet.”
Vandag boer geen van die Kriges meer nie, hoewel sy pa en een broer wel nog in Zambië woon. Sy ander broer bly in Engeland en Corné, Justine (sy vrou van amper 23 jaar) en hul drie kinders woon op Melkbosstrand.
Maar die landboudraad loop steeds sterk deur sy lewe danksy vele boere in sy familie, vriendekring en gemeenskap.
“Boere kry swaar. Hulle moet teen soveel dinge opstaan en vir so baie baklei, soos hul eie veiligheid. Maar hou asseblief moed. Julle voed ons, sit kos op ons tafel en skep werk, al is dit te midde van moeilike tye. Daar is regtig soveel wonderlike stories oor boere wat geleenthede aangryp en die regte dinge doen. Ek wil boere aanmoedig om asseblief sterk te staan – ons is agter julle. Die land het julle nodig.”
Die lewe ná tokse, balle en duikslae
Corné is bekend om sy fisieke spel op die veld. Dit was hierdie harde speelstyl wat hom ook baie beserings besorg het. Op 28 het hy uit internasionale rugby getree en op 30 heeltemal uit rugby.
“Ek het altyd gedink ek sal my tokse ophang as ek 30 tref en dit het toe ook so gebeur ná ’n nekbesering en besoek aan ’n neurochirurg. Ek het vir hom gevra wat hy sou doen as hy in my skoene was. Die antwoord was ‘ophou speel’ en dit is wat ek toe kort ná hierdie besoek gedoen het. Ek is nou ietwat spyt ek het nie ’n jaar of wat langer aangehou nie, maar aan die ander kant het ek my lyf onder baie druk geplaas met die manier waarop ek gespeel het. Vandag is ek gelukkig steeds baie fiks en neem nog aan sport deel.”
As hy nou terugkyk oor sy rugbyloopbaan wat op negejarige ouderdom begin het en 39 toetswedstryde insluit, staan daar ’n paar besonderse oomblikke uit, soos die eerste keer toe hy voor die All Blacks moes staan en hulle die kans gee om die bekende haka uit te voer.
“Ek het daar as ’n jong speler in my twintigs gestaan en terwyl hulle die haka doen, wou ek net na hulle toe loop! Dit was moeilik om stil te bly staan, veral as hulle vir jou wys hulle wil jou keel afsny. Dit het my baie opgewonde gemaak en was ’n besonderse ervaring, al kan ek min van daardie wedstryd onthou, want ek was regtig baie op my senuwees.”
Dankbaar vir kans
Hy onthou ook die groot geleentheid wat hy vroeg in sy rugbyloopbaan gekry het toe sy Cravenweek-afrigter op laerskool iets in hom gesien het en ’n kans met hom gewaag het. “Ek was ’n besige mannetjie op skool – stout gewees en die rottang was soms nodig – maar al was ek so woelig, het my Cravenweek-afrigter op laerskool gelukkig ’n kans gewaag toe hy my as spankaptein aanwys. Dit het goed uitgedraai vir hom én vir my.”
Corné het uiteindelik vele kere as kaptein van verskeie spanne uitgedraf, onder meer 18 keer as Springbokkaptein.
Sy moeilikste teenstander nóg ná al die jare? Die Nieu-Seelander Richie McCaw.
Ná sy rugbyloopbaan het hy in die advertensie bedryf beland, waar hy buitemuurse advertensieborde verhuur, onder meer ook in townships. “Ons het ook ’n maatskappy wat korporatiewe geskenke verskaf en handelsmerke met bemarking s-en promosie materiaal help adverteer. Hierdie deel van ons werk voel baie keer vir my soos die motorbedryf waar jy elke maand van voor af op nul begin.”
Corné is ook ’n motiveringspreker en ▶
gesels gereeld met leerlinge, onderwysers, sakepersone en boere oor sy ervarings en die lesse wat hy geleer het. “Ek geniet dit om my ervarings, nie noodwendig wysheid nie, met mense te deel. Wysheid kom mos maar met die ouderdom, maar as voormalige Springbokkaptein glo ek wel daar is dinge wat ek geleer het.”
Viva la Bokke 2023
Nog voor die eerste fluitjie van vanjaar se toernooi geblaas is, was hy optimisties oor die Bokke se kans om vanjaar in die eindstryd te speel.
Sy voorspelling vir die topvier spanne vir vanjaar se Wêreldbeker was Frankryk, Ierland, Nieu-Seeland en Suid-Afrika. Hy het ook gewaarsku as die Bokke iewers teen Frankryk gaan speel, gaan dit geensins ’n maklike wedstryd wees nie, aangesien dit op hul tuisveld gaan gebeur. Daardie Sondagaand was dit dan toe ook nes hy gedink het. “Moet ook nie Nieu-Seeland afskryf nie – hulle is ’n span om mee rekening te hou.”
En as hy in Jacques Nienaber se skoene was, sou hy veral gekonsentreer het op die Bokke se geestelike fiksheid en hul konsentrasie.