Die ander sê
Opwinding taan oor ‘groen’ waterstof
INTERNASIONALE energiemarkte is aansienlik minder geesdriftig oor waterstof as ’n breë oplossing vir koolstof-intensiewe bedrywe, soos vragen passasiersvervoer.
Die rede daarvoor is dat die pas van ontwikkeling in dié sektore – wat die vraag én die aanbod aanbetref – veel stadiger is as byvoorbeeld die pas waarteen voertuigvlote geëlektrifiseer word.
Dit skakel skynbaar die behoefte aan waterstof-aangedrewe enjins uit.
Die waterstofbedryf het ongelukkig heelwat moeite bestee, asook tyd en geld gemors om die haalbaarheid van waterstof as ’n energiebron vir onder meer treine, die lugvaartbedryf en huishoudelike verwarming te ondersoek.
Daar is bevind die nodige infrastruktuur en aanpassings maak dit veel duurder as ander, goedkoper alternatiewe, soos elektrifisering en hittepompe.
Michael Liebreich, ’n bedryfskenner, het egter ’n ranglys van gebruike saamgestel waarvoor waterstof steeds ideaal is. Hy meen die grootste geleenthede vir waterstof lê daarin om swaar nywerhede se koolstof-afhanklikheid te verminder. Een van die sektore wat in dié verband groot belofte toon, is die vervaardiging van kunsmis, wat tans swaar steun op aardgas.
Dit kan ook van groot waarde wees in die produksie van verskeie chemikalieë en olieraffinaderye. Vir chemiese prosesse waar waterstofmolekules bygevoeg of verander word (hydrogenation en hydrocracking )en swael uit nywerheidsneweprodukte verwyder word (tipies by olieraffinadery, chemiese vervaardigingsprosesse, verwerking van minerale en die opwekking van krag uit steenkool) is daar weinig alternatiewe.