Goeie mielie-oes gee landbou se geldsake hupstoot
Hoewel die inkomste van die Suid-Afrikaanse landbou die afgelope jaar gestyg het, neig winsgewendheid die afgelope paar jaar laer. Die kosteknyptang waarin ’n groot deel van die ekonomie vasgevang is, werk ook deur na die landbou.
Die goeie someroeste van die afgelope jaar word weerspieël in die jongste syfers oor die stand van die landboubedryf se geldsake wat deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gepubliseer is.
Akkerbou, veral mielies, se bruto inkomste vir die 2022-’23-bemarkingsjaar het tot Junie 2023 skerp gestyg van R36 miljard tot R74 miljard. Die landbou se bruto produksiewaarde het met 17,3% tot R445 miljard gestyg. Uitgawes het effens minder gestyg, met die gevolg dat die landbou se netto inkomste met 33,8% toegeneem het tot R122 miljard.
Landbouskuld het matig gestyg met 6,1% tot R201 miljard einde Junie 2023, wat rentebetalings effens in toom sal hou teen die huidige hoë rentekoerse.
Inkomste van landbou
In GRAFIEK 1 word die verloop getoon van die landbou se netto inkomste en bruto inkomste, asook die verhouding van netto tot bruto omset. Die netto inkomste moet egter versigtig geïnterpreteer word, want nie alle koste word afgetrek nie.
Nietemin, die syfers toon dat die netto inkomste met 33,8% gestyg het tot R122,7 miljard, en die bruto inkomste met 17,3% tot R445 miljard. As die netto inkomste as persentasie van die bruto inkomste ontleed word, is die dalende neiging in winsgewendheid duidelik.
Die aanwyser neig al die afgelope jaar laer ten spyte van die jongste oplewing. Die syfer bevestig maar net wat boere op plaasvlak ervaar. Die knyptang waarin die ekonomie en ander sektore is, werk ook stadig deur na die landbou – hoewel die bedryf effe beter daaraan toe was die afgelope jaar of drie.
Die TABEL gee enkele van die bedrywe se bruto inkomste. Die goeie mielie-oes van die afgelope jaar en die herstel in die suikerrietbedryf was die groot bydraers. Daarteenoor het die vrugtebedrywe ’n moeilike jaar ervaar met swakker pryse en veral die uitvoerknelpunte as gevolg van die staatsondernemings se onvermoë. Die wingerdbedryf het ook swaar gekry.
GRAFIEK 2 toon die bruto inkomste teenoor die uitgawes in die landbou – hoofsaaklik aangekoopte uitgawes van R329 miljard, veral kunsmis, brandstof en veevoer.
Groente het betreklik beter presteer (sien TABEL), maar die styging is hoofsaaklik die gevolg van prysstygings weens laer produksievolumes weens die tekort aan elektrisiteit vir besproeiing. Dit het pryse op varsproduktemarkte laat styg. Dit bewys net weer hoe pryse reageer as daar tekorte is.
Hou ook in gedagte dat plaaslike mielie-, oliesaad- en vleispryse tans basies op uitvoerprysvlakke is. Tekorte weens verskeie moontlike redes gaan pryse vir die verbruiker opjaag.
Die melkboere se inkomste het gestyg danksy heelwat beter pryse en goeie weidings, wat voerkoste ingeperk het.
Die groei in die hoender- en eierbedryf het egter in ’n groot trurat gespring in die tweede deel van 2023. In die syfers vir die tweede deel van die jaar sal die inkrimping weens die voëlgriepuitbreking wat miljoene hoenders uit die bedryf gehaal en groot geldelike verliese veroorsaak het, duidelik blyk.
Dit sal beslis ook die binnelandse vraag na veevoer verlaag. Die hoenderbedryf verbruik sowat 65% van Suid-Afrika se veevoer. Die plaaslike vraag na mielies en sojameel sal krimp
totdat die bedryf herstel. Dit gaan minstens ’n jaar tot 18 maande duur, mits die voëlgriep onder beheer gekry kan word.
Verloop van pryse
Die styging in pryse van die verskillende bedrywe vir 2022’23 word in GRAFIEK 3 getoon, asook die styging in insetpryse oor die jaar. Interessant is dat akkerbou produsente laer pryse as die vorige jaar gerealiseer het toe graanpryse hoog was as gevolg van die oorlog in Oekraïne.
Internasionale graanpryse het genormaliseer na laer vlakke en dit is net die verswakking van die rand wat die plaaslike bedryf tot ’n mate afskerm. Koringpryse het heelwat gedaal. Markontleders meen dat internasionale graan- en oliesadepryse in dollarwaarde in 2024-’25 gaan daal.
Die regering toon ’n onvermoë om te begryp dat die ondersteuning van kommersiële boere om basiese voedselproduksie te verhoog een van die sekerste maniere is om voldoende en bekostigbare voedsel binnelands beskikbaar te stel.
Die jongste statistieke van die Voedsel-en-landbou-organisasie oor honger op die subkontinent toon dat bykans 22% van die bevolking ondervoed is, en die persentasie neem toe. Die rede is omdat daar nie regtig kommersiële boerdery is op die skaal wat nodig is om voldoende en bekostigbare voedsel aan stedelike gebiede te voorsien nie.
Die stygings in insetpryse wat die departement rapporteer, klop nie met die ervaring op plaasvlak nie. Voortdurende stygings in die pryse van insette en masjinerie is aan die orde van die dag en plaas boerderye in ’n knyptang. GRAFIEK 3 gee ’n prentjie daarvan met akkerboupryse wat gedaal en veepryse wat sywaarts of laer beweeg het, terwyl insetpryse vinniger gestyg het. Met groente help dit nie veel as pryse skerp styg, maar boere het nie genoeg produkte nie. Dan klop die som ook nie. Die bevolking koop minder en word honger.
Skuldlas verhouding
GRAFIEK 4 toon die verloop
van die landbou se skuld, bates en skuldverhouding, gegrond op die departement se syfers. Landbouskuld het einde Junie 2023 sowat R201 miljard beloop. Dit sal sekerlik in die 2023-’24-boekjaar verder styg, veral met die huidige vlak van hoë rentekoerse en kleiner marges by meeste bedrywe.
Die skuldlas verhouding bly relatief konstant. ’n Verbetering kan gesien word ná die vorige twee jaar, maar ek verwag ’n verswakking in 2023-’24 se syfers. Die Suid-Afrikaanse landbou se skuldlas is omtrent een derde van die bates. In Amerika en Australië is dit minder as 15% en hul rentekoerse is heelwat laer, wat dit makliker maak om skuld te diens. Die betreklik hoë verhouding is beslis ’n risikofaktor vir die Suid-Afrikaanse kommersiële landbou wat geen staatsondersteun i ngk rynie.
Die departement se syfers toon dat landboubates se waarde bly styg. Dit is die rede waarom die skuldverhouding stabiel bly, ten spyte van stygende skuld.
Onthou, grondwaardes bedra meer as 60% van die landbou se bates, volgens die departement. Neem nou in ag dat die departement se syfers toon landbouskuld het sedert 2010 met 130% gestyg, maar grondwaardes het met 190% gestyg en die waarde van masjinerie met 180%. Vee, wat net 20% van die landbou se bates is, het met 60% gegroei in waarde.
Die skerp styging in grondwaardes maak nie sin nie. Beoordeel self: Het jou grondwaarde sedert 2010 meer as verdubbel? Ek meen ons kry ’n vals beeld van’ n lae skuldlas verhouding.
Ten slotte, GRAFIEK 5 toon hoe die verhouding van ondervoede mense in Suider-Afrika toegeneem het. Die rede daarvoor is die uiters swak ondersteuning vir die kommersiële landbou, asook die voortdurende besteding van omtrent die helfte van die landboubegroting aan grondhervorming, wat onsuksesvol is.
Die vermoë van die landbou in die streek om die bevolkings te voed, gaan net verder agteruit. Die belangrikheid van kommersiële landbouproduksie wat voldoende en bekostigbare voedsel produseer, neem toe. Dit beteken die kommersiële landbousektor word al hoe belangriker, al wil die regering dit nie erken nie.