Die ander sê
Litigasie beduiwel die energie-oorgang
OMGEWINGSLITIGASIE maak volgens dr. Mike Muller, voormalige direkteur-generaal van waterwese, Suid-Afrika se energie-oorgang moeiliker, duurder en meer verdelend as wat dit hoef te wees.
Hy meen pleks van litigasie moet daar konsensus kom oor ’n sinvolle energiebeleggingsportefeulje en die toepassing daarvan moet begin. Hy meen daar moet ook besin word oor van die makro-gevolge van litigasie en hoe dit beleidsvorming begin beïnvloed het ten koste van ’n formele demokratiese proses.
In Suid-Afrika is die doelstelling van die aktiviste om die ontwikkeling en gebruik van fossielbrandstowwe plaaslik te beperk, wind- en sonkrag te bevorder, en kernkrag te keer. Hul standpunte berus op oortuiging (en soms materiële belang) eerder as tegniese ontleding, en is in teenstelling met die strategieë van die meeste ander lande.
China, wat amper net soveel son- en windkrag het as die res van die wêreld saam, bou steeds hoogs doeltreffende steenkoolaanlegte, soortgelyk aan Medupi en Kusile, om algehele vrystellings deur ondoeltreffende ou kragsentrales te beperk.
In Suid-Afrika het litigasie omslagtige vrystellingsregulasies vir die nuwe kragsentrales voorgestaan en weggedoen met die voordele, wat hul koste en watergebruik opgestoot en hul bydrae tot aardverwarming verhoog het deur doeltreffendheid te verminder. Die regulasies is gekompliseerd en het toepassing vertraag, wat bygedra het tot beurtkrag.
Die meeste nuwe beleggings in energie gaan voorts in die westelike en suidelike dele van die land wees, ver van die armer, digter bevolkte noordelike provinsies. Dit sal ekonomiese aktiwiteit weglei van die huidige spilpunte van energie-opwekking.